Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Poësieprent belig eensaamheid van laaste spreker van taal
Detail uit Diek Grobler se jongste poësieprent, ‘Laaste woord’.

Die kunstenaar Diek Grobler se jongste poësieprent handel oor die uitsterf van ’n taal en die eensaamheid van die allerlaaste spreker van daardie taal. Hy het per e-pos met Laetitia Pople gepraat.

In ’n gedig peins die digter Martjie Bosman oor hoe eensaam dit moet wees om die heel laaste spreker van ’n taal te wees. Die laaste mens wat die woorde verstaan wat jou eie bestaan beskryf.

Hierdie gedig, “Vanishing Voices”, is die inspirasie vir die kunstenaar Diek Grobler se jongste animasieprent, Laaste woord. Grobler is benewens sy roem as ’n kunstenaar ook bekend om die poësierolprent-animasieprojek Filmverse.

Die gedig is geïnspireer deur die boek Vanishing Voices deur Daniel Nettle en Suzanne Romaine oor die uitsterf van die wêreld se tale. Die boek het in 2002 verskyn en voorspel dat meer as die helfte van die wêreld se tale in die volgende eeu gaan uitsterf.

Detail uit Diek Grobler se jongste poësieprent, ‘Laaste woord’.

“Die storie van Laaste woord is om hierdie idee van eensaamheid gebou. Ek skep ’n verhaallyn wat gelyk loop met die gedig. Martjie se gedig is liries – ek het die emosies wat sy beskryf en oproep in ’n storie verpak,” sê Grobler.

“Die laaste spreker wie se gewaarwording en emosies in die gedig beskryf word, het ek in ’n vroulike karakter omskep. Sy bevind haar in ’n stad vol ander mense, niemand verstaan haar taal nie. Martjie het vir my gesê dat die laaste spreker in haar kop ’n man was, iewers in ’n afgeleë plattelandse gebied.”

Grobler het egter spesifiek ’n vrou gekies om ’n paar redes.

“Ek het oor die afgelope paar jaar heelwat artikels raakgelees oor ‘laaste sprekers’ en dit was meesal vroue. Ook is die vrou die draer van die taal omdat die moedertaal aan moederskoot geleer word,” sê hy.

Diek Grobler

“Ek het die stadsomgewing gekies omdat dit verteenwoordigend is van ‘beskawing’, wat die rede is waarom ‘ander’ tale uitsterf. Benewens al die ander gesiglose mense in die stad, is daar een ander hoofkarakter – ’n linguis. Hy hoor die vrou praat en probeer haar napraat. Hy agtervolg haar in haar wandeling deur die stad, maar kry haar nooit ingehaal nie.”

Al handel die prent oor taal, word geen taal gebruik nie.

“Taal word visueel voorgestel, deur middel van ’n ‘praatwolkie’, soos in strokiesprente. Die vrou se woorde is organies en rond, en verander van vorm. Die ‘ander’ taal in die storie word verteenwoordig deur hoekige praatwolkies – gestruktureerd, gereguleerd en van ’n vaste geometriese vorm,” sê Grobler.

“Die rede waarom ek nie taal as sulks wou gebruik nie, is omdat die prent nie oor enige spesifieke taal gaan nie. Die vrou se taal is enige bedreigde taal. Die ‘ander’ taal is enige taal wat globaal raak of ander tale verdring of assimileer. Dit kan Engels, Spaans, Frans, Mandaryns, ensovoorts wees.”

Die tale gaan wel in die klankontwerp van sy prent verteenwoordig word.

Die komponis Mart-Marie Snyman en klankontwerper-musikant James Frank Robb gaan die klank vir die prent skep. Grobler het reeds in 2016 met die rolprent begin, maar die eerste jaar of wat was dit net dinkwerk en konseptekeninge. Die fliek is in 2018 gekies in die internasionale voorleggingskompetisie van die Annecy-animasiefees in Frankryk.

“Ek het toe in alle erns aan die storie, ontwerpe en storieborde begin werk. In Annecy het al die deelnemers aan ’n konsepontwikkeling-werksessie deelgeneem en daar is aan die draaiboek geskaaf. Sedert Julie 2018 het ek finansiering probeer kry vir die projek, wat ek eers in Julie 2020 kon bekom.”

Die Nasionale Rolprent-en-videostigting finansier die projek gedeeltelik, wat beteken dat Grobler sowat ’n jaar net daarop kan fokus.

“Die rolprent is min of meer ’n solo-projek en ek doen al die ontwerpanimasie, regie, redigering en wat nog self. My vennoot Charles Badenhorst sal wel help met die animasie van die magdom ‘gesiglose’ karakters in die strate. Dit sal met rekenaarprogramme geanimeer word omdat die beweging eenvoudig is en die karakters nie eintlik identiteit het of emosie toon nie.”

Die hoofkarakters word egter raampie vir raampie met die hand geanimeer volgens ’n uitkniptegniek waar ’n mens as’t ware ’n “papierpop” van die karakters maak, met elke liggaamsdeeltjie wat apart kan beweeg, vertel Grobler.

Die hoofkarakters word egter raampie vir raampie met die hand geanimeer volgens ’n uitkniptegniek waar ’n mens as’t ware ’n “papierpop” van die karakters maak, met elke liggaamsdeeltjie wat apart kan beweeg, vertel Grobler.

“Die tegniek is een van my gunstelingtegnieke omdat dit ’n baie spesifieke handgemaakte gevoel aan die animasie gee. Die verhaal is metafories en abstrakte konsepte soos taal word visueel uitgebeeld. Ek het doelbewus ’n tegniek gekies wat pas by hierdie aspekte van die narratief – ’n tegniek wat nie werklik ‘realisties’ kan voorkom nie, maar liewer poëties is.”

Hy hoop om teen die einde van die jaar met die fliek klaar te wees.

Ondertussen kuier sy rolprent Breathe sedert verlede jaar op aanlyn fliekfeeste wêreldwyd, waarvan die belangrikste die Zebra-poësierolprentfees in Berlyn en die Kaboom-fees in Amsterdam was. Aanstaande maand wys dit op die internasionale rolprent-en-videokunsfees in Athene.Voorts doen hy die laaste afronding vir ’n doktorsgraad in poësieprente by Unisa.

“Die idee het in 2015 begin toe ek navorsing gedoen het vir Filmverse 2. Ek kon baie min van waarde kry oor die geanimeerde poësiefilm en wat ek daarvan geweet het, het uit intuïsie en eie ervaring gespruit. Toe ek dieper moet delf ten einde ander te kan begelei, besef ek dat die tema ’n braakland is, selfs op internasionale vlak. Animasie as spesifieke medium vir die skep van ’n poësiefilm kry bloedweinig aandag. Ek het spesifiek belang gestel in hoe ’n mens ’n poësiefilm maak. Toe ek niks kry nie, besluit ek toe maar om dit self te skryf, vandaar ’n praktykgedrewe PhD (in beeldende kuns) oor die narratiewe strategieë in die maak van geanimeerde poësiefilms.”

Sy uitstalling vir sy doktorsgraad behels twee rolprente, Mon Pays en Parys Suite, en kan by diekgrobler.co.za besigtig word.

Gedig deur Martie Bosman

VANISHING VOICES The extinction of the world's languages - Daniel Nettle & Suzanne Romaine

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog die woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die wo"orde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou se nie: "Ek vrees dat alles doodstil raak."

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan 'n verlore stam.

Meer oor:  Atkv  |  Unisa  |  Somerset-Wes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.