Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Poppie Nongena’ van Sondag af op BoxOffice

Die bekroonde fliek Poppie Nongena is van Sondag af op BoxOffice op DStv beskikbaar.

Dit is gegrond op Die swerfjare van Poppie Nongena, die roman deur Elsa Joubert (97), wat Sondag in Kaapstad dood is.

Clementine Mosimane as Poppie in die fliek ‘Poppie Nongena’. Foto: Melanie Cleary

Dié fliek deur die regisseur Christiaan Olwagen het verlede jaar op die Silwerskermfees in Kampsbaai gedebuteer, waar dit 12 pryse losgeslaan het. Dit sluit in die prys vir beste regisseur en fliek, terwyl Clementine Mosimane ook as die beste aktrise vir haar rol as Poppie aangewys is.

Die fliek is op 31 Januarie landwyd uitgereik. Hoewel dit uitstaande resensies gekry het, het dit net ’n raps meer as R1 miljoen by die loket verdien.

“Dit was ’n uitdaging om mense in rolprentteaters te kry,” sê Helena Spring, die vervaardiger.

“Maar almal wat dit gesien het, was gaande daaroor. Terselfdertyd was die vertoning op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch so gewild dat ons ’n groter lokaal moes kry en nog ’n vertoning moes aanbied.”

Mosimane het vroeër vanjaar ’n Safta-prys as beste aktrise gewen.

Met Joubert se dood het Mosimane hulde aan haar gebring.

“Ons eer hierdie ikoniese vrou, wat die moed gehad het om die storie van Poppie Nongena te vertel. Sy sal in ons hart voortleef.”

Die boek en fliek is op Eunice Ntsatha se lewe gegrond.

Sy was Joubert se huiswerker.

Mosimane het vroeër vanjaar gesê sy salueer Joubert.

“Die boek het baie mense se oë oopgemaak. En om jou huiswerker se verhaal neer te skryf . . . wie doen dit? Ek het ’n eksemplaar van Die swerfjare van Poppie Nongena ontvang wat sy vir my geteken het. Dis kosbaar.”

"Die allerlaaste stil toneel van die woordelose Poppie het dieselfde uitkringeffek as Ingrid Jonker se gedig ‘Die kind’.”

Laetitia Pople skryf in haar resensie oor Poppie Nongena: “ ’n Mens wil elke Suid-Afrikaner op die hart druk om hierdie prent te gaan sien.

“Sy kan enigeen wees wat ontheem, verstoot en minder mens gemaak is, haar storie bly ’n wekroep en ’n dure les wat steeds weerklink. Sy is nie ’n spook uit die geskiedenis nie. Haar storie is ook van krag in die wêreld waar die migrante-stroom die norm is. Clementine Mosimane se Poppie is lewenskragtig, haar miskenning en vernedering is reeds in haar onwaardige noemnaam opgesluit, wat haar base aan haar gegee het. Mosimane is nie ’n poppie nie, maar ’n gedugte teenwoordigheid.

“Sy is ’n dogter, ma, vrou, suster en abba-ma vir die Swanepoels se kind. Altyd berustend, eerbiedig en waardig – die gom wat haar huis bymekaarhou, al werk sy heelweek in die stad. Die prent wérk met ’n mens se emosie en gees. Die allerlaaste stil toneel van die woordelose Poppie het dieselfde uitkringeffek as Ingrid Jonker se gedig ‘Die kind’.”

Meer oor:  Clementine Mosimane  |  Christiaan Olwagen  |  Elsa Joubert  |  Dstv  |  Poppie Nongena  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.