Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Poppie’ se tragiese verhaal geld vandag nog

Poppie Nongena

Drama

*****

Die middel jare sewentig in Suid-Afrika flits op die skerm. Dit wek glad nie blye herinnering of sepia nostalgie nie. Dit is hoe dit was met Nico Diedericks en B.J. Vorster hier aan bewind. Dis afskuwelik.

Clementine Mosimane in die rolprent ‘Poppie Nongena’.Foto: Melanie Cleary

’n Waardige Xhosa-vrou spartel wanhopig om haar gesin bymekaar te hou, sy word doelloos rondgestuur deur burokrate en met volslae minagting behandel. Haar pas, die sleutel tot die lewe onder apartheid, het verval. Dit omdat Stone, haar trekarbeider-man, weens siekte nie ’n werk in Suid-Afrika het nie. Nou moet sy en haar geliefdes vort na die tuisland Ciskei. Indien sy met die ou pas betrap word wag inhegtenisneming en aanhouding – sy het jong kinders. Daar is nie werk in die tuislande nie, hoe gaan sy hulle onderhou?

Al is die gegewe bekend, bly dit skokkend hoe normaal dit geag is en hoe dit hier na die kyker gekaats word. Daar is verset en protes. Die dapper Black Sash is hier op die skerm teenwoordig, daar is midde die rassiste ook goeie wit mense wat Poppie bystaan en probeer hou by haar gesin. Daar is ook swart mense wat as ampsdraers haar skel en verja. Hier is subtiliteit en skakerings van die apartheidtyd. ’n Suid-Afrikaner sal tussen die lyne kan lees – die regisseur se aanvoeling is net reg. ’n Mens wil elke Suid-Afrikaner op die hart druk om hierdie prent te gaan sien.

Poppie Nongena is op die trefferroman van Elsa Joubert gegrond. Haar Die swerfjare van Poppie Nongena het internasionaal resoneer en is ook vertaal. Die klimaat aan die vooraand van die jeugopstand van 1976 word hier behendig vertolk in histories juis tonele met krete en ’n opmars. Swart mense moet passe hê om in wit gebiede te beweeg en hulle moet aan inkloktye voldoen. Anders wag inhegtenisnemings, boetes of word hulle met mag gedwing om hul huise op te gee en in die tuislande te gaan woon. Enkele tonele bring dit weer na die geheue terug met al die daadkrag en verskrikking soos dit was. Die haat was openlik op straat, maar ook subtiel aan huis. Die akteurs De Klerk Oelofse asook Ludwig Binge is hier ysig wreed as polisiebeamptes. So ook laat Rolanda Marais as Magriet, wat Poppie soos ’n vloerlap behandel, ’n mens gepas met weersin. Nicole Holm se omgee-karakter is hul teenkant; sy straal empatie en warmte uit al kon dit haar duur te staan kom.

Dawid Minnaar skets behendig in enkele tonele die Afrikaner man van die huis “wat klaar gepraat het” in die Swanepoel-huishouding waar Poppie inwoon. Sy karakter kontrasteer met Stone (Chris Gxalaba), Poppie se man wat talle futiele pogings aanwend om homself te genees sodat hy kan werk en so die las op sy hardwerkende vrou kan verlig. Anna-Mart van der Merwe se Antoinette Swanepoel is net so sterk – ’n goeie mens, tog gedienstig in tred met wat aan haar voorgeskryf is.

Clementine Mosimane in die rolprent ‘Poppie Nongena’.Foto: Melanie Cleary

Poppie word ’n argetipe hier. Sy kan enigeen wees wat ontheem, verstoot en minder mens gemaak is, haar storie bly ’n wakkerskud en ’n dure les wat steeds weerklink. Sy is nie ’n spook uit die geskiedenis nie. Haar storie is ook van krag in die wêreld waar die migrante-stroom die norm is. Clementine Mosimane se Poppie is lewenskragtig, haar miskenning en vernedering is reeds in haar onwaardige noemnaam opgesluit, wat haar base aan haar gegee het. Mosimane is nie ’n poppie nie, maar ’n gedugte teenwoordigheid. Sy is ’n dogter, ma, vrou, suster en abba-ma vir die Swanepoels se kind. Altyd berustend, eerbiedig en waardig – die gom wat haar huis bymekaar hou, al werk sy heelweek in die stad. Die prent wérk met ’n mens se emosie en gees.

Die allerlaaste stil toneel van die woordelose Poppie het dieselfde uitkringeffek as Ingrid Jonker se gedig “Die kind”. Die verskriklike boodskap van Joubert se storie en hierdie prent van Olwagen kom lê geruisloos in die kyker se gemoed – jy kyk met nakennis na dié gelade toneel en jy verstaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.