Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Prent bied blik op kinder-sekshandel in SA
Erica Wessels vertolk die hoofrol in ‘I Am All Girls’, wat Vrydag op Netflix begin.

Dit was belangrik om die wêreld van kindersekshandel in Suid-Afrika so akkuraat moontlik uit te beeld. Daarom het die regisseur, Donovan Marsh, by die Valke gaan aanklop, ook by prostitute en hul koppelaars, en hy was geskok oor die omvang van die bedryf in Suid-Afrika.

Hy hoop sy jongste prent, I Am All Girls, wat môre op Netflix begin, fokus die kyker se aandag op die sosiale vraagstuk wat Suid-Afrika en die wêreld teister. Hy beskryf die prent as ’n “skokkende, spannende raaisel en karakterstudie oor een van die grootste en angswekkende tragedies van die moderne lewe: kindersekshandel”.

Die storie speel oor drie dekades af en begin in die jare negentig in Suid-Afrika, waar ’n korrupte minister ’n berugte pedofiel betaal om jong meisies te ontvoer. Hulle word in Iran verkoop in ruil vir olietransaksies wat weens apartheid en sanksies nie vlot nie. Nadat hulle “opgebruik” is, word hulle terugverkoop en moet hulle hul “skuld” in bordele afwerk. Een meisie veg teen haar lot, en begin wraakplanne smee. Die kyker ontmoet haar later as volwassene.

Die hoofkarakter, vertolk deur Erica Wessels, is Jodie Snyman, ’n speurder van ’n spesialiseenheid, wat met ’n klein begroting en min ondersteuning van die regering en regslui die sindikate aan die kaak moet stel.

Wanneer ’n pedofiel se liggaam gevind word, verdiep die ondersoek en word bande met die verlede opgetel.

’n Toneel uit ‘I Am All Girls’.

Die rol het haar oë oopgemaak, vertel Wessels.

“Ek het geweet van mensehandel, maar het nie naastenby ’n begrip vir wat gebeur en die omvang daarvan nie.

“Ek verstaan hoekom niemand wil praat nie, dit is aaklig. Dit is daarom belangrik dat rolprentmakers ’n persoonlike storie vertel om bewustheid te help skep van dié sosiale dilemma.”

Sy het soveel moontlik dokumentêre programme en reekse probeer kyk.

“Daar was verrassend min. Die tema is so aaklig, niemand wil dit ondersoek nie, ek verstaan dit. Al is die invloed van die prent dalk klein, hoop ek vir ’n groter gehoor dat daar bewustheid kom.”

Sy het nou saamgewerk met ’n speurder van die Valke wat in Johannesburg aan die vervolging van die sindikate gewerk het.

“Sy het ure van haar tyd afgestaan en ook baie inligting verskaf. Sy het my in detail deur die speurproses geneem, wat gebeur nadat jy ’n wenk of leidraad kry, die burokrasie, die papierwerk en die verwikkeldhede om die mense vervolg te kry. Dan haar besoeke aan bordele waar van die slagoffers nou is, hoe emosioneel uitgebuit hulle is en hoe swaar hulle sielkundig kry. Hulle is ook emosioneel afhanklik van hul pimps. Dié wêreld het my ingesluk.”

Sy hoop beleidsvormers kyk na die prent, mense wat ’n verskil kan maak sodat daar verandering kom en sy hoop ook slagoffers sien dit.

“As hulle net kan besef hul selfwaarde is nie verminder deur die gruwelike mishandeling van die mans nie, maar dat hulle steeds waarde het en nie minder mens is nie, al is hulle dalk nou dwelmverslaafdes. Ek hoop hulle kan ’n band smee met Ntombi en haar verhaal. Ek is onder geen illusie dat ’n rolprent wel ’n uitwerking kan hê op ’n morele dilemma soos dié nie. Ek moet dit glo, ek hoop iets verander.”

As jong ma het sy die gegewe des te meer ontstellend gevind.

“Ek weet nie wie die monsters is nie, hulle is nie mans nie. Ek weet nie waarom hulle dit doen nie, of hoekom daar hoegenaamd kliënte vir so iets bestaan nie. Daar is niks in my wat hiermee kan identifiseer nie. Ons moet optree om ons kinders, ons seuns, dogters en vroue hierteen te beskerm. Dit is die suiwerste vorm van boosheid.”

Sy glo mans moet help veg hierteen.

“Goeie mans moet ander mans uitdaag, dit gaan oor respek. Mans wat catcall en meisies aan die boud knyp, moet aangespreek word deur ander mans. Ons mans kan beter wees.”

Goeie mans moet ander mans uitdaag, dit gaan oor respek. Mans wat 'catcall' en meisies aan die boud knyp. moet aangespreek word deur ander mans. Ons mans kan beter wees.

Die gedugte aktrise Hlubi Mboya, bekend om reekse soos Isidingo en Rhythm City, vertolk een van die ander hoofrolle. Sy is Ntombizonke, ’n speurder wat ’n donker geheim saam met haar dra.

Ander spelers sluit in Brendon Daniels, Deon Lotz, Mothusi Magano, Ben Kruger en Lizz Meiring.

Marsh is die skrywer en regisseur van prente soos die Safta-bekroonde Dollars & White Pipes (dit is die ware verhaal van Bernhard Baatjies), die gewilde rolprente gegrond op John van de Ruit se romans Spud en Spud 2: The Madness Continues, asook die televisiereeks iNumber Number.

Marsh was die regisseur van die Hollywood-prent Hunter Killer, wat op ’n duikboot afspeel met Gary Oldman en Gerard Butler in die hoofrolle.

* I Am All Girls duur 107 minute. Die klankbaan is deur Brendan Jury. Een van die prent se vervaardigers is die regisseur Jozua Malherbe, bekend om Griek­wastaden Bloedbroers.

Meer oor:  Netflix  |  Donovan Marsh  |  Erica Wessels  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.