Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Racheltjie’ (14) opgewonde oor groot oomblik
Zonika de Vries (14) vertolk die titelrol in Die verhaal van Racheltjie de Beer. Foto: Indigenous Film Distribution
Zonika de Vries. Foto: Facebook
’n Skermgreep uit die rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer. Foto: Indigenous Film Distribution

Ondanks senuwees wat ’n bietjie knaag, is die 14-jarige Zonika de Vries opgewonde oor haar debuut in ’n hoofrol by vanjaar se Silwerskermfees in Kampsbaai.

Dié gr. 8-leerling aan die Helpmekaar Kollege in Johannesburg vertolk die hoofrol in Die verhaal van Racheltjie de Beer, wat op Brett Michael Innes se gelyknamige roman gegrond is. Matthys Boshoff het die regie behartig.

“Ag, ek is seker maar net ’n bietjie gestres omdat ek nog nie die eindproduk gesien het nie, maar ek sien verskriklik daarna uit,” sê sy telefonies onderweg na die Kaap.

Haar ouers, Philip en Jackie, en haar 16-jarige broer, Zander, vergesel haar.

Dit is nie die eerste keer dat die tiener op die Silwerskermfees se blou tapyt te sien sal wees nie. In 2016 was Zonika danksy ’n rol in Dis koue kos, skat ook tussen die Silwerskermfees se sterre te sien, maar dié jaar skyn haar ster in die skoene van Racheltjie de Beer ekstra helder. Dit is ’n rol wat sy gedink het sy nie gaan kry nie.

“My agentskap, Talent-ETC, het my verlede jaar laat weet vervaardigers is op soek na ’n aktrise wat die rol van Racheltjie kan vertolk,” sê sy.

“Ek het die oudisie gaan doen – en dit was oukei. Jy weet mos as ’n oudisie baie goed of baie sleg gegaan het en myne was so tussenin. Ek het nie gedink ek staan ’n kans nie.”

’n Paar weke later het Zonika tot haar eie verbasing die kortlys gehaal en moes sy en vermoedelik een ander meisie nog ’n oudisie aflê. Kort daarna kon sy nie die blye nuus glo nie.

“Ek onthou ek het nog op die bank (in haar ouerhuis) gesit toe my ma my sê die rol is myne. Ek het eers nie geweet hoe om te reageer nie, maar het toe op- en afgespring van opgewondenheid.”

Ek onthou ek het nog op die bank gesit toe my ma my sê die rol is myne. Ek het eers nie geweet hoe om te reageer nie, maar het toe op- en afgespring van opgewondenheid.”
Zonika de Vries, aktrise

Dit het eers ’n bietjie kopkrap geverg om haar skoolprogram aan te pas en toestemming by die onderwysdepartement te kry om einde verlede jaar vir vyf weke in die Oos-Vrystaat en in die Drakensberge aan die fliek te skiet, maar dit was gelukkig geen probleem nie.

“Dit was so cool op stel – veral die manier hoe hulle my hanteer het. In kleiner rolle is ek soos ’n kind hanteer, maar op die stel van Racheltjie was ek ’n eweknie. Dit sal my altyd bybly.”

Sy erken sy was omtrent in ’n beswyming toe sy op stel sien wie saam met haar in die fliek is, onder andere Stian Bam, Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Antoinette Louw.

“Ek het al met Sandra in ’n Man soos my pa gewerk, maar dié keer was dit amazing om haar te leer ken. Daar is nie ’n sekonde in haar teenwoordigheid wat jy nie glimlag of lag nie.”

Sy sê die rolprent belig ’n belangrike en geliefde volksverhaal.

“Almal ken die storie van Racheltjie – dit is eintlik wat tot mense spreek. Dit is tragies.”

Hoewel sy haar oog op ’n loopbaan in die veeartsenykunde het, wil sy tog ook nog in rolprente speel.

“Ek weet ’n mens kan nie ’n vaste inkomste uit rolprente verdien nie. Ek is lief vir diere, so dalk word ek dierkundige. Maar ek sal altyd ja sê vir nog rolprentwerk. Dalk in ’n aksiefliek? Iets waarin ’n mens kan skiet, skop en . . . jy weet,” sê sy laggend.

“Dít sal nou lekker wees!”

  • Die verhaal van Racheltjie de Beer is as deel van die Silwerskermfees om 17:15 op Vrydag 23 Augustus by Theatre on the Bay te sien. Bespreek by Computicket.
  • Die rolprent word op 18 Oktober landwyd uitgereik.
    Meer oor:  Silwerskerm19  |  Brett Michael Innes  |  Fliek  |  Silwerskermfees
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.