SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Flieks
‘Racheltjie’ verweef met vars temas, visuele effekte
Stian Bam vertolk die rol van Herman de Beer, Racheltjie se pa, in die fliek wat die volksverhaal in ’n vars konteks plaas. Die kamera waarmee die fliek verfilm word, is dieselfde soort wat James Cameron met die maak van Avatar ingespan het. Foto: Mlungisi Louw

Dieselfde soort kamera wat met die verfilming van die Oscar-bekroonde rolprent Avatar gebruik is, word nou vir die eerste keer met die maak van ’n Suid-Afrikaanse fliek, Die verhaal van Racheltjie de Beer, ingespan.

Die Sony Venice se vlymskerp tegnologie kom veral in die donker tot sy reg en is perfek vir natuurlike beligting, sê Johan Kruger, vervaardiger, wat ook talle oorsese rolprente op sy kerfstok het.

Baie van die tonele is in ’n sandsteenhuis op ’n appelplaas buite Fouriesburg verfilm. Dié huis was lank verlate en behoort aan ’n vrou wat in ’n Bloemfonteinse ouetehuis woon.

Die filmspan het die vryheid gehad om ’n kaggel in te bou, die kombuis donker-olyfgroen te verf en moderne elemente te versteek. Antieke rekwisiete en meubels uit die 1800’s is gehuur en verleen karakter aan die huis.

Ultramoderne visuele effekte sal gebruik word om sneeu op die Oos-Kaapse berge te strooi wat as agtergrond vir die rolprent sal dien.

In die eetkamertoneel onthaal die Lunts vir Herman de Beer (Stian Bam) en sy kinders, Racheltjie (Zonika de Vries) en klein Jamie (Johannes Jordaan), nadat hul ossewa gebreek het.

Marius Weyers vertolk die rol van George Lunt, die eienaar van die plaas.

“Die eetkamertoneel het nét kerse en lanterns vir beligting, en dit is só mooi,” sê Kruger.

Kerslig wat van gesig na gesig tussen die akteurs dans, verleen ’n intimiteit aan die tonele wat met konvensionele ligte verlore gaan.

Kerslig wat van gesig na gesig tussen die akteurs dans, verleen ’n intimiteit aan die tonele wat met konvensionele ligte verlore gaan, sê Sandra Prinsloo, wat die rol van die boervrou Jacoba Lunt vertolk.

“Alles is net so outentiek en reg.”

Dit is die regisseur Matthys Boshoff se eerste vollengte rolprent. Hy is bekend as ’n kommersiële TV-regisseur en sy kortprent Vlees van my vlees het in 2016 die prys as kortprent van jaar op die kykNET-Silwerskermfees gewen.

Volgens hom het nog geen ander rolprentmaker voorheen kans gesien om Racheltjie se verhaal te verfilm nie omdat dit vol uitdagings is.

Kruger skerts: “Dis natuur, dis diere, dis kinders. Baie soos Ben Hur 2.”

Hoewel die plaasgrond Dinsdag nog met kapok bespikkel was, was die agtergrond teen Donderdag skoon. Die skoon lei is ideaal vir die visuele effek van sneeu wat met die redigering sal bykom.

Kruger en Boshoff is dit eens dat die fliek nie beperk is tot ’n Afrikaanse plaastema nie. Hulle het wegbeweeg van die Groot Trek-konteks.

“Omdat die storie fiktief is, gee dit jou kreatiewe vryheid en ons het gevoel die goudstormloop is interessanter.

“Dit is ’n universele familiedrama met onheilspellende ondertone,” sê Boshoff.

Kruger is reeds besig om met buitelandse verspreiders te praat.

  • Wees op die uitkyk vir ’n artikel en fotoblad van die verfilming van die fliek wat aanstaande week op Netwerk24 sal verskyn.
  • Die verhaal van Racheltjie de Beer sal in Oktober 2019 in rolprentteaters gesien kan word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.