Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Regulasies: Só moet akteurs op stel soen, intiem wees

Die verantwoordelikste en veiligste manier om naak- en sekstonele op rolprent- en TV-stelle in Suid-Afrika te verfilm, is in nuwe omvattende regulasies vervat – die eerste in sy soort in die land.

Al die organisasies wat aan die regulasies getimme
Al die organisasies wat aan die regulasies getimmer het.

’n Handvol organisasies in die bedryf het Protocols for Intimate Content in TV, Film and Associated Media, South Africa saamgestel en onlangs uitgegee. Die nieregeringsorganisasie Intimacy Practitioners South Africa (Ipsa) het die projek gekoördineer.

Die regulasies volg op riglyne wat die nieregeringsorganisasie Sisters Working in Film and Television (Swift) in 2019 neergepen het om seksuele teistering op Suid-Afrikaanse filmstelle te bekamp.

Sara Blecher, onder meer die regisseur van die rolprent Dis ek, Anna, het Swift ’n jaar tevore gestig. Sy is kort daarna as Suid-Afrika se eerste intimiteitskoördineerder aangestel – iemand wat op ’n stel seker maak dat niemand se regte tydens die verfilming van naak- of sekstonele geskend word nie.

Blecher en Kate Lush, ook ’n intimiteitskoördineerder, het besef dat die gebruik van intimiteitskoördineerders op al hoe meer stelle in die land omvattender regulasies regverdig en dit veral as handleiding moet dien vir rolprentlui wat nié dié koördineerders kan bekostig nie. Hulle het in Januarie verlede jaar begin om die eerste “raamwerk” vir die regulasies te skryf.

Nadat hulle internasionale regulasies in dié verband bestudeer het, het hulle met organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga), die Suid-Afrikaanse Silwerdoekfederasie (Sasfed) en die Organisasie vir Onafhanklike Vervaardigers (IPO) vergader om oor hul raamwerk te gesels. Hulle het saam tot die gevolgtrekking gekom dat ’n nuwe organisasie sonder winsbejag gestig moet word om aan die spits van die nuwe regulasies te wees.

Die voorblad van die nuwe regulasies wat gratis aanlyn afgelaai kan word.

Blecher, Lush en dr. Èmil Haarhoff het Ipsa toe gestig.

“Ons het toe al die sleutelorganisasies in die Suid-Afrikaanse rolprent- en TV-bedryf om een (virtuele) tafel saamgekry om hieroor te gesels en saam regulasies te ontwikkel wat in ’n Suid-Afrikaanse konteks werk,” sê Lush.

“Ons het ons eerste Zoom-vergadering rondom Junie verlede jaar gehad en saam regulasies opgestel sodat dit almal se ervarings en standpunte insluit.

“Benewens Ipsa, Sasfed, die IPO, Saga en Swift, was ook Sage (Suid-Afrikaanse Redigeerdersgilde), die PMA (Vereniging vir Persoonlike Bestuurders), die CDA (Rolwerwersvereniging), die WGSA (Suid-Afrikaanse Skrywersgilde) en die IBFC (Onafhanklike Swartrolprentmakersgroep) teenwoordig.”

Hul gesamentlik eindproduk gee in die breë riglyne waarvolgens vervaardigers “intieme” tonele op ’n verantwoordelike en sensitiewe manier op stelle moet aanpak. Dié tonele sluit onder meer seksuele inhoud in soos soene, gesimuleerde seks of masturbasie; inhoud met seksuele geweld soos verkragting, aanranding en teistering; en nieseksuele inhoud soos karakters wat bloot aan mekaar raak.

Van die riglyne sluit meer spesifiek die volgende in:

  • Dit is standaardpraktyk dat akteurs nié hul tong gebruik wanneer hulle soen nie. Indien ’n regisseur dit vereis, moet albei akteurs oor die besluit saamstem en hul toestemming gee;
  • Akteurs wat naaktonele aanpak, moet slegs naak wees terwyl die kamera vir die spesifieke toneel rol. Sodra die toneel stop, moet die akteur bedek word totdat die kamera weer begin rol. “Dit is verpligtend.”;
  • Akteurs se geslagsdele mag nie tydens naak- of sekstonele aan mekaar raak nie; en
  • Akteurs wat tot naak- of sekstonele instem of hulself selfs in ’n kontrak daartoe verbind, mag enige tyd in die vervaardigingsproses besluit om hul toestemming terug te trek.

Lush sê die Suid-Afrikaanse regulasies is uniek omdat dit deur al die bogenoemde organisasies geskep is en eensklaps ook saam deur hulle uitgereik en onderskryf is.

Sy sê hoewel dit slegs as ’n riglyn dien en in dié stadium nog nie wetlik afdwingbaar is nie, kan dit rolprentlui ’n aanduiding van die beste praktyke op stel gee.

“As dit (die regulasies) nie in plek is wanneer ’n akteur op stel kom nie, kan hulle die vervaardiger daarna verwys – of rolwerwers kan selfs daarop aandring dat ’n akteur slegs ’n kontrak sal onderteken as vervaardigers kan bewys dat hulle die regulasies toepas.”

Sy sê sy hoop dit word ook by skool- en universiteitsleerplanne ingesluit sodat jong mense met die regulasies vertroud is wanneer hulle die bedryf betree.

  • Die regulasies kan gratis afgelaai word by intimacysouthafrica.org.za/protocols.
  • Rolprentlui wat meer oor intimiteitskoördineerders wil leer of een vir ’n projek wil huur, kan ’n e-pos na intimacysouthafrica@gmail.com stuur.
Meer oor:  Zoom  |  Sage  |  Pma  |  Saga  |  Suid-Afrikaanse Akteursgilde  |  Ipo  |  Swift
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.