SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Charlie’s Angels’ kry net nie vlerke nie

Charlie’s Angels

Aksie

***

Meer as 40 jaar nadat Farah Fawcett, Jaclyn Smith en Kate Jackson misdade as die “Charlie’s Angels” opgelos het, het Hollywood voor sy beheptheid met rolprent-reïnkarnasies geswig en nog ’n aflewering in die franchise voorgesit.

Het enigiemand daarvoor gevra? Wel, dit bly seker met enige rolprentreeks ’n ope vraag . . .

Anders as die TV-reeks – of twee reekse, sou jy op die mislukking van 2011 aandring – en die vorige twee rolprente, Charlie’s Angels (2000) en Charlie’s Angels: Full Throttle (2003), spring die aksie in die draaiboekskrywer en regisseur Elizabeth Banks se nuwe verbeelding met net twee engele, Jane (Ella Balinska) en Sabina (Kristen Stewart), weg.

Daarby is die engele se bestuurder en beskermengel, Bosley, ook verdriedubbel, en word die karakter om die beurt deur Banks, sir Patrick Stewart en Djimon Hounsou vertolk. Dié nuwe kinkel is welkom.

Die aktrises Kristen Stewart (links), Ella Balinska (middel) en Naomi Scott is die nuwe ‘Charlie’s Angels’.Foto: Sony Pictures Releasing

Die derde engel, die stelselingenieur en fluitjieblaser Elena (Naomi Scott), word stelselmatig by die partytjie betrek nadat sy die hele span van ’n skoon energiebron inlig wat boosaarde ook as ’n wapen kan gebruik.

Wanneer die toestel in die verkeerde hande beland, (fliekgangers sou dit natuurlik nooit kon voorspel nie!) spring al die Angels en Bosleys in om die wêreld van oordramatiese ondergang te red.

Fliekgangers wat tussendeur al die “swaar” flieks op die kringloop op soek is na grootskerm-aksie, gaan moontlik hier ’n bietjie bevrediging kry en daarby ook die sporadiese humor waardeer, maar ’n rafeldun storielyn maak die eindproduk betreklik flou – ’n kenmerk waarvoor Banks as skrywer-regisseur al hoe meer berug word.

In vergelyking met sy voorgangers, wat tot vandag toe ten minste met heelwat onvergeetlike vegtonele kan spog, is die nuwe aflewering ook nie opwindend nie en is dit maklik vergeetbaar. Hier word heel duidelik ’n fondament gelê vir ’n opvolg of twee, maar dié proloog maak dié resensent definitief nie honger vir nog nie.

Wenk: Bly in jou sitplek wanneer die fliek klaar is – daar is heelwat ekstra-aksie en verrassende gasverskynings, ook deur een van die oorspronklike Angels, wanneer die erkenningslys begin rol.

  • Met o.a. Kristen Stewart, Naomi Scott, Ella Balinska, Elizabeth Banks, Patrick Stewart en Djimon Hounsou. Regie: Elizabeth Banks. Ouderdomsbeperking: 13 GT. Tydsduur: 118 min. In 2D, IMAX, 4DX en D-BOX.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.