Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Dié ‘pil’ nie te bitter om te sluk

’n Dwelmsmous hou in hierdie skermgreep van die fliek twee Power-pille vas wat mense vir vyf minute lank superkragte gee. Foto: Netflix/denofgeek.com
Project Power

Aksie

***

Hoewel niemand herinner hoef te word aan die Covid-19-pandemie se ongenadige uitwerking op die kunste nie, is die afgelope vyf maande se karige fliekspyskaart een van die pandemie se opmerklikste gevolge in die vermaakbedryf.

’n Mens sou dink dat stromingsdienste dié stilte sou oorbenut om oë te lok, maar dit voel asof selfs hulle hul beste rolprentinhoud ietwat teruggehou het sodat hulle later, wanneer rolprentteaters heropen, teen megatreffers kan meeding.

Natuurlik was die fliekspyskaart nie heeltemal leeg nie, maar daar was – en daag my gerus uit as ek van iets vergeet het – nie werklik enige uitklophoue nie.

Dit is veral opmerklik in die superheld-subgenre waar rolprentmakers gewoonlik hierdie tyd van die jaar niks agterweë laat om gehore te oorbluf nie. Ook dié grootskerm-ontploffings was weens die uitstel van uitreikings grootliks skoonveld.

Netflix het wel met The Old Guard sy hand aan ’n superheldrolprent gewaag, maar dié eindproduk was vir die redes wat in ’n vorige skrywe hier op Netwerk24 genoem is, net so-so.

Asof Netflix gehoor gegee het aan dié reaksie, het hulle weer probeer om te beïndruk, dié keer met Project Power, wat ’n heel ander rigting as ander superheldrolprente inslaan. Hoewel dit in ’n stadium glo die gewildste rolprent op Netflix in Suid-Afrika was, is die rolprent in die geheel eintlik ook maar net wel . . . so-so.

Die konsep van Project Power is tog in sy eenvoud nogal interessant: ’n Wetenskaplike ontwikkel ’n pil, genaamd Power, wat enigiemand vir vyf minute lank ’n superkrag gee. Power is veral onder misdadigers in aanvraag omdat hulle dit gebruik om amok te saai. Wanneer ’n polisieman, Frank (vertolk deur Joseph Gordon-Levitt), besluit om die speelveld gelyk te maak en ook die Power-pil te gebruik sodat hy op gelyke voet kan terugbaklei, kruis sy pad met dié van Robin (Dominique Fishback), wat op straat met Power smous, en Art (Jamie Foxx), wat sy mes in het vir die wetenskaplike wat die pil ontwikkel het. Die trio span dan saam om die verspreiding van Power stop te sit.

Onder dié oppervlak illustreer die rolprent dwelmverslawing en -handel op ’n slim manier, asook die soms onbegryplike magshonger wat mense het – ’n hunkering wat ons ook hier in Suid-Afrika voor ons op veral politieke verhoë sien afspeel.

Daarby is die rolprent se visuele effekte nie afgeskeep nie, veral in die tonele net nadat ’n karakter Power gesluk het. Hoewel ’n mens eintlik nog meer van dié superkragte wou sien, moet ’n mens in dieselfde asem sê dat redigeerders die rolprent met ten minste 20 minute kon snipper; dit het beslis plek-plek gehanna-hanna.

Wat ook gepla het, is dat ons wéér – soos in The Old Guard en in talle ander superheldrolprente – ’n wetenskaplike het wat toetse op mense met superkragte uitvoer. Draaiboekskrywers, kan ons asseblief van dié karakter ontslae raak?

Die rolprent se sentrale boodskap is ook ietwat onoorspronklik. Die les wat die fliek probeer oordra, is reeds in 1939 in The Wizard of Oz geopper, ook talle kere daarna in verskillende variasies op die tema, maar dit is beslis debatteerbaar of dié les by mense ingesink het.

Die eindproduk is daarom goeie Saterdagaand-vermaak – maar niks meer nie.

  • Met o.a. Amy Landecker, Courtney B. Vance, Dominique Fishback, Jamie Foxx en Joseph Gordon-Levitt. Regie: Henry Joost en Ariel Schulman. Ouderdomsbeperking: 16. Tydsduur: 113 min. Op Netflix.
Meer oor:  Dominique Fishback  |  Joseph Gordon-Levitt  |  Jamie Foxx  |  Project Power  |  Fliek  |  Flieks  |  Netflix  |  The Old Guard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.