Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Dolittle’ sal jongspan laat droom

Dolittle

Fantasie-avontuur

***

Daar is jaarliks te min voorbeelde van rolprente wat jonk en oud sáám op reis neem en veral jong fliekgangers van die onmoontlike laat droom.

Animasierolprente is daar natuurlik elke jaar tot boordens toe vol, maar ek is nie altyd so seker of dit die avontuur aanwakker soos ’n fliek wat lyk asof dit in die werklikheid afspeel nie – een wat jou selfs net vir ’n oomblik laat glo dat die eens onbereikbare tog moontlik is.

Dolittle kan dít dalk met veral die jongspan regkry.

Dié fantasie-avontuur slaan ’n heel ander rigting as die komedies Dr. Dolittle (1998) en Dr. Dolittle 2 (2001) in, waarin die komediant Eddie Murphy eerste die naamrol van ’n veearts wat met diere kan praat, vertolk het.

In die nuwe weergawe kan die akteur Robert Downey jr. ook in die hoofrol met sy dieremaats gesels, maar die storie speel in ’n towerwêreld in die Victoriaanse tyd af, waar die werklikheid (én historiese feite) met animasie-elemente ingekleur en ietwat verbuig is.

Dr. John Dolittle gesels met die hond Jip, wie se stem deur die akteur Tom Holland verskaf word. Foto: Universal Pictures / www.medium.com

Die draaiboek fokus op dr. John Dolittle, wat ná sy vrou se dood in rou is en hom daarom van die wêreld afgesonder het. Wanneer ’n jong koningin Victoria (Jessie Buckley) egter dodelik siek word, word Dolittle gedwing om sy vere reg te skud en met behulp van sy dieremaats ’n teenmiddel vir die koningin op ’n gevaarlike towereiland te gaan soek.

Op die oog af is dit ’n storielyn wat volwasse grompotte dadelik sal afskiet, maar die resep is in die kol berei om veral die jongspan te vermaak; dít is bewys toe sowat tien kinders die mediavoorskou van die rolprent in Kaapstad bygewoon het.

Die vermaak word in die geheel deur die geanimeerde diere verskaf, wat ’n papegaai (wie se stem deur dame Emma Thompson verskaf word), gorilla (Rami Malek), ysbeer (John Cena), volstruis (Kumail Nanjiani), eend (Octavia Spencer), hond (Tom Holland), eekhoring (Craig Robinson), tier (Ralph Fiennes), kameelperd (Selena Gomez) en jakkals (Marion Cotillard) insluit.

Danny Elfman se klankbaan speel ook wonderlik saam om elke dier se beste karaktertrek te belig.

Benewens die ietwat uitgerekte verhaal, het net Downey jr. se vreemde Walliese aksent gepla. Hy was nie altyd verstaanbaar nie, en hoewel kinders ook gaan sukkel om hom te verstaan, sal dit danksy al die fliek se kaskenades waarskynlik nie vir hulle saakmaak nie.

Gesinne kan die fliek gerus saamkyk voor die werk- en skooljaar in volle swang begin.

  • Met o.a. Robert Downey jr., Antonio Banderas, Michael Sheen en die stemwerk van Emma Thompson, Rami Malek, John Cena, Kumail Nanjiani, Octavia Spencer, Tom Holland, Craig Robinson, Ralph Fiennes, Selena Gomez en Marion Cotillard. Ouderdomsbeperking: 7-9 OL G (ouerleiding, geweld). Tydsduur: 102 min. In 2D, 3D, DBOX en IMAX.
Meer oor:  Robert Downey Jr.  |  Fliekresensie  |  Flieks  |  Dolittle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.