Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Gewigtige boodskap nie hier onsigbaar

The Invisible Man

Riller

****

The Invisible Man het op die oog af al die kenmerke van ’n eenster-rolprentervaring: voorspelbaarheid, oordrewe vertolkings, ’n saai draaiboek en die gekras van viole op klankbane waarvoor die gruwel- en rillergenre so berug is.

Die rolprent trap eintlik tot ’n mate in al dié strikke, maar die skrywer-regisseur Leigh Whannell, wat bekend is as skrywer van die Saw-gruwelreeks, het dit uit ’n invalshoek benader wat vars voel en – meer belangrik – werklik verrassend is.

Die rolprent val met ’n knal weg wanneer Cecilia (vertolk deur Elisabeth Moss) laataand uit haar kêrel, Adrian (Oliver Jackson-Cohen), se huis ontsnap.

Sy erken kort daarna aan haar suster én ’n vriend dat Adrian haar al vir jare mishandel en haar lewe met ’n ysterhand, soms ook ’n wurggreep, regeer.

Wanneer Adrian, ’n toonaangewende wetenskaplike, glo weens Cecilia se afwesigheid sy eie lewe neem, is sy nie oortuig dat hy werklik dood is nie – en begin sy vermoed dat hy ’n uitvindsel ontwerp het om homself onsigbaar te maak sodat hy haar kan bekruip, ’n teorie wat geen van haar naasbestaandes glo nie.

Cecilia (Elisabeth Moss) vermoed in ‘The Invisible Man’ haar ekskêrel is onsigbaar en bekruip haar. Foto: Universal Pictures / rollingstone.com

Die vermoede vervul Cecilia met vrees en angs, en die trauma wat sy vir jare ervaar het, kry dan die oorhand. Sy begin geselsies met “Adrian” aanknoop, wat sy vas glo langs haar staan, maar wat nóg sy nóg die kyker kan sien.

Daarmee plant sy wel angswekkende saadjies in die kyker se kop, wie se verbeelding (soos dié resensent s’n) vinnig op hol sal gaan. Oënskynlik leë vertrekke was lanklaas so grieselrig soos hier, veral in tonele waar Cecilia die vertrek verlaat en die kamera daar agterbly, of wanneer die kinematograaf deur die kameralens stadig en in stilte van hoek tot kant na Adrian se vermoedelike teenwoordigheid soek. Eenvoudige tegnieke het boeiende en spannende oomblikke opgewek, wat goed deur Moss se spel, Stefan Duscio se kinematografie en Benjamin Wallfisch se spookagtige klankbaan vermag is.

Naas die uiteinde – wat eindelik onthul of Cecilia in die kol was of nie – is die stof tot nadenke wat Whannell hier bied besonders. Die eenvoudige storielyn is ’n gewigtige metafoor vir vroue se noodkrete oor gesinsgeweld, aanranding en geweld, wat óf nie ernstig opgeneem word nie, óf as bogstories en lawwighede afgemaak word – en dit gebeur stééds, ondanks die #MeToo-era wat ’n kragtige kollig daarop plaas.

Hoewel dié boodskap plek-plek in die rolprent verlore raak, bly dit ’n mens tog met nabetragting by en word dit versterk deur Moss, wat ’n soortgelyke boodskap in die TV-reeks The Handmaid’s Tale verkondig, in ’n soortgelyke hoofrol.

Die eindproduk verdien heel gemaklik sy vier sterre, maar dit bly tog weens die ysingwekkende inhoud ’n moeilike tameletjie om aan alle fliekvlooie (ouer as 18) aan te beveel. Bangbroeke en – in alle erns – fliekgangers met hartprobleme moet liewer in Jan Tuisbly se karretjie ry as hulle nie hou van rolprente wat hulle van begin tot einde gaan laat wip van die skrik nie.

  • Met o.a. Elisabeth Moss, Aldis Hodge, Storm Reid, Harriet Dyer, Michael Dorman en Oliver Jackson-Cohen. Regie: Leigh Whannell. Ouderdomsbeperking: 18 DGGT (dwelms, geweld, gruwel, taal). Tydsduur: 124 min. In 2D en IMAX.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.