Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: In ‘Doctor Sleep’ gaan jy g’n uiltjie knip

Doctor Sleep

Gruwel, riller

****

In 'Doctor Sleep' word Danny met sy verlede gekonfronteer, wat fliekgangers van die 1980-rolprent 'The Shining' goed sal ken. Foto: USA Today / Warner Bros.

In die aanloop tot Allerheiligeaand het ek en my man ons daartoe verbind om in Oktober net gruwelflieks te kyk, veral dié uit die jare 70 en 80 wat mes-maniakke so gewild gemaak het.

Benewens Halloween (1978) en A Nightmare on Elm Street (1984), wat gehore met kiloliters tamatiesous-bloed en vioolmusiek laat wip het van die skrik, is ek eintlik skaam om te erken ek het ook die eerste keer The Shining (1980) gekyk, wat ek danksy die onlangse 15de Suid-Afrikaanse Horrorfest in Kaapstad darem op die grootskerm kon beleef.

Ek sal eerlik wees: Buiten Wendy Carlos en Rachel Elkind se besonderse klankbaan, het die res van die rolprent my om verskeie redes nie geval nie. Stephen King, skrywer van die gelyknamige 1977-roman, het die regisseur Stanley Kubrick se grootskerm-verwerking ook glo gehaat.

Om dié rede het ek nie werklik uitgesien na die langverwagte opvolg, Doctor Sleep, nie. My gemoed het egter ná ’n mediavoorskou van die fliek heeltemal omgeswaai, en selfs King het die rolprent op Twitter as “wonderlik” beskryf. Dít is werklik so.

Die opvolg val weg waar The Shining byna 40 jaar gelede afgesluit het: Die gruwelnag wat die bloedjong Danny in die Overlook Hotel ervaar het, spook by hom. Met behulp van die hotel se eertydse sjef, Dick, leer Danny hoe om sy telepatiese kragte, ’n gawe bekend as ’n shining, te gebruik om die spoke en sy gepaardgaande angs te bestry. Dis egter heeltemal hulpeloos teen ’n ander spook – alkoholisme – waarteen Danny (Ewan McGregor) jare later as volwassene baklei.

In ’n poging om sy lewe reg te ruk vlug (die volwasse) Danny na die dorp Frazier, waar sy pad met dié van die 13-jarige Abra (Kyliegh Curran) kruis. Nes Danny het Abra ook ’n shining, wat so magtig is dat dit die aandag van ’n kultusgroep prikkel. Die groep se leier, Rose the Hat (Rebecca Ferguson), vermoor mense met ’n shining sodat sy daarop kan teer en haar lewe daarmee kan verleng. Wanneer sy haar hande op Abra probeer kry, spring Danny in om die kultusgroep se slagting van veral kinders stop te sit.

Hoewel ek onseker is of dit King se bedoeling met sy gelyknamige 2013-opvolgroman was, ruim (die rolprent) Doctor Sleep heelwat van die vraagtekens uit die weg waarmee kykers in The Shining gestrand is. Dit is werklik skaars, maar hier is ’n voorbeeld van ’n opvolgprent wat beter as die eerste hoofstuk is. Die antwoorde wat Doctor Sleep met ’n slim, oortuigende, boeiende en volledige storielyn bied, maak The Shining tog vir my ’n bietjie beter.

Hier word egter heelwat huiswerk aan fliekgangers gegee wat The Shining oorgeslaan het: Die regisseur en draaiboekskrywer Mike Flanagan het soveel verwysings en terugflitse na die eerste rolprent by die tweede hoofstuk ingewerk, dat dit eintlik onmoontlik is om Doctor Sleep te geniet sonder dat jy The Shining gekyk het. Die 1980-rolprent is daarom ’n vereiste voordat jy Doctor Sleep kan aanpak.

Ja, dit is ’n reuse-belegging om te maak – die flieks is saam byna vyf uur lank – maar jy het albei hoofstukke nodig om heelparty opwindende en selfs hartroerende openbarings te ervaar. Die rolprent se sentrale boodskap oor die lig wat in ons elkeen skyn, sal ook net dán kristalhelder wees.

  • Met onder ander Ewan McGregor, Rebecca Ferguson, Kyliegh Curran en Cliff Curtis. Regie: Mike Flanagan. Ouderdomsbeperking: 16 DGGNT. Tydsduur: 153 min. In 2D.
Meer oor:  The Shining  |  Ewan Mcgregor  |  Flieks  |  Doctor Sleep  |  Stephen King  |  Gruwel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.