Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Is dit die fliek van die jaar?

Daar was lanklaas 'n rolprent wat hom so verras het soos die Suid-Koreaanse drama 'Parasite', skryf Christiaan Boonzaier. Hy het vyf sterre aan die rolprent toegeken.

Fliekgangers en rolprentresensente ervaar in die laaste kwartaal van die jaar gewoonlik ’n vroeë Kersfees wanneer die wêreldwye wedloop om veral ’n Oscar-prys begin en rolprentvervaardigers hul beste breekware daarvoor uithaal.

Hoewel die ooraanbod van uithaler-rolprente in dié tyd in Suid-Afrika in min of meer dieselfde tyd vertoon as wat dit in die buiteland uitgereik word, skyn die kalklig egter op eie bodem die dofste op rolprente wat nié ’n Engelse draaiboek het nie.

Die meeste van dié haal glo weens byna onbeduidende kykergetalle nooit die plaaslike kringloop nie, en dié wat dit wel haal verdwyn ’n paar dae nadat dit verskyn het – en dan ook eers ’n jaar nadat dit in die res van die wêreld gedraai het.

Dit was daarom ietwat vreemd om te sien hoe Ster-Kinekor én Nu Metro die Suid-Koreaanse rolprent Parasite so vroeg op die hande dra en dit nie net op 11 Oktober landwyd uitreik nie, maar op sommige plekke in die land daaraan selfs dieselfde – indien nie meer nie – blootstelling as die (Engelse) gruweltreffer Ready or Not gee.

Hoekom? Is dit omdat die regisseur Bong Joon-ho met rolprente soos Snowpiercer (2013) ’n groot aanhang in Suid-Afrika gekry het? Onwaarskynlik. Kan dit wees omdat Parasite vroeër vanjaar die eerste Koreaanse fliek geword het om die Cannes-rolprentfees se topprys, die Palme d’Or, te wen? Miskien, maar vorige wenners – Shoplifters (2018), The Square (2017), I, Daniel Blake (2016) – het ook op eie bodem aan die agterspeen gesuig.

In ‘Parasite’ wend die Kim-gesin hulle tot misdaad om van hul armsalige ontstaan te ontsnap.

Of is dit bloot omdat Parasite sterk aanspraak maak op die titel as die beste rolprent van die jaar? Dit is buitengewoon vir ’n rolprent met ’n nie-Engelse draaiboek, ja, maar ná ’n mediavoorskou in Kaapstad kan ek rapporteer dat dít in alle waarskynlikheid die antwoord is.

Die rolprent word in Suid-Afrika as ’n drama bemark, maar is elders ter wêreld ook al as ’n “sielkundige komedie” en “komiese riller” beskryf – genres wat ’n mens soos grondboontjiebotter en Marmite nie aldag saamgooi nie. Bong sou die mengelmoes in alle waarskynlikheid so verkies omdat dit die kyker nie vooraf toelaat om die rolprent in ’n boksie te plaas nie. Dit wat jy dus vermoed gaan nie noodwendig wees wat jy uiteindelik kry nie.

Bong se komiese aanslag kom wel na vore in sy vertelling van die werklose Kim-gesin, pa, ma, seun en dogter, wat in armsaligheid vasgevang is en ’n wanhopige bestaan voer. In ’n poging om hulself van die lae sosiale klas te stroop waarvan hulle so siek en sat is, draai hulle die skatryk en liggelowige Park-gesin ’n rat voor die oë en maak hulle hulself op ’n bedrieglike manier tuis in die Park-huishouding as onderskeidelik motorbestuurder, huishoudster, Engelsonderwyser en kunsterapeut.

Die lewe vir die Kims is skielik goed. Hulle melk die Parks soos net woekerdiere kan, maar besef nie terwyl hulle vreet dat hulle tegelykertyd ook op dryfsand staan nie: Hoe meer hulle hulself uit ’n karige bestaan wriemel, hoe dieper sak hulle weg in ’n skynlewe vol leuens en bedrog.

Dit is dan wanneer ’n Lord of the Flies-tipe stryd om oorlewing losbars en die fliek so vinnig wendings opdiep en van genres verwissel dat jy eintlik ’n sitplekgordel nodig het. Meer durf ek nie sê nie.

Bong het as skrywer sy stewige storievertelling voorgesit, wat ondersteun word deur byna eindelose dialoog. Kykers sal dus vir meer as twee uur die fliek met Engelse onderskrifte moet “lees”, maar dit is hier werklik nie moeite nie. Ondanks heelwat eenvoudige metafore is sy ontleding van sosiale klas, rykdom en menswees meesterlik, en die eindproduk ’n geskenk waarmee fliekgangers byna nooit bederf word nie.

Dit verdien ’n Oscar vir beste internasionale rolprent – en sal daarby ook sterk aanspraak maak op die goue beeldjie vir beste rolprent van die jaar

  • Met o.a. Song kang-ho, Lee Soen-kioen, Tsjo Jeo-djeong, Tsjoi Woe-sjiek en Park Soe-dam. Regie: Bong Djoen-ho. Ouderdomsbeperking: 16 DGST. Tydsduur: 132 min. In 2D.
Meer oor:  Oscars  |  Bong Joon-Ho  |  Parasite  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.