Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Knives Out’ is skerp, maar nie opwindend

Knives Out

Speurdrama

***

Goeie speurdramas op die grootskerm is in die meer onlangse verlede grootliks skoonveld. Waarheen het dit verdwyn?

Fliekvlooie kan heelwat leidrade onder ’n vergrootglas bestudeer en dit maklik tot by die kassie volg, waar reekse oor die oplos van moordraaisels hoogty vier – en TV-vervaardigers die genre byna vir hulself toeëien.

Dié “kaping” het egter nie vir Rian Johnson, onder meer die regisseur en draaiboekskrywer van Star Wars: The Last Jedi, gekeer om die genre te “red” en dit met ’n kinkel in Knives Out weer op die grootskerm “vry te laat” nie – en dít met ’n rolverdeling vol swaargewigte wat sy sak as vervaardiger waarskynlik geskud het.

Op die oog af het Johnson se jongste al die kenmerke van ’n tradisionele speurverhaal: Iemand gaan dood – híér die wêreldbekende misdaadskrywer Harlan Thrombey (vertolk deur Christopher Plummer) – en die speurder Benoit Blanc (Daniel Craig) word aangestel om sy moord op te los.

In ‘Knives Out’ probeer ’n speurder vasstel watter van die misdaadskrywer Harlan Thrombey (in die stoel, middel, vertolk deur Christopher Plummer) se familielede hom vermoor het.Foto: Lionsgate

Die verdagtes sluit Thrombey se hele gesin in, sy kinders, Linda (Jamie Lee Curtis) en Walt (Michael Shannon), sy skoondogter Joni (Toni Collette), en sy kleinkinders Meg (Katherine Langford) en Ransom (Chris Evans), wat almal in ’n mindere of meerdere mate ’n oog op die patriarg se boedel het.

In ’n nuwe wending word dié moordraaisel, wat gewoonlik aan die einde van die rolprent ontknoop word, heelwat vroeër opgelos, wat dan tot ’n onverwagse nuwe raaisel lei. Dié opvolgraaisel betrek Thrombey se oppasser en verpleegster, die immigrant Marta (Ana de Armas), meer regstreeks en dwing die rolprent dan in ’n nuwe, welkome rigting.

In die geheel is Johnson se skryfwerk skerp én slim. Sy kommentaar oor sosiale klas in Donald Trump se Amerika is nodig, en die vraagtekens waarom die intrige draai, is geloofwaardig en boeiend.

Craig bewys ook hier hoekom hy werklik een van die mees onderskatte akteurs in Hollywood is: Hy is ’n verkleurmannetjie wat meer as net sy bekendste rol, dié van James Bond, op die grootskerm kan vertolk.

Die probleem is dat die eindproduk net nie opwindend is nie – spanning ontbreek ook geheel en al – en wanneer jy so baie Hollywood-bekendes in een fliek het, is die grootste slaggat dat een of meer van hulle nie genoeg ontgin word nie. Dit is jammer dat dit dié keer Curtis en Collete is.

  • Met Daniel Craig, Chris Evans, Ana de Armas, Jamie Lee Curtis, Michael Shannon, Don Johnson, Toni Collette, Katherine Langford en Christopher Plummer. Regie: Rian Johnson. Ouderdomsbeperking: 16 DGT. Tydsduur: 130 min. In 2D.
Meer oor:  Knives Out  |  Christopher Plummer  |  Chris Evans  |  Toni Collette  |  Drama  |  Flieks  |  Jamie Lee Curtis  |  Daniel Craig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.