SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Komedie oor slimfoon is pap

Jexi

Komedie

**

Internetliefde, selfoonverslawing en kunsmatige intelligensie (KI) is lywige onderwerpe wat ’n mens nie aldag op die grootskerm in ’n komedie sien nie.

Jon Lucas en Scott Moore, wat flieks soos Bad Moms en die The Hangover-trilogie geskep het, het egter besluit om dít as die hoofbestanddele in die ietwat vreemde romantiese komedie Jexi te gebruik.

Die fliek vlek die lewe van die jammerlike Phil (Adam DeVine) oop, wat droom van nuusjoernalis wees en – soos die meeste van ons – gans te veel tyd op sy slimfoon deurbring. Wanneer dit weens sy eie toedoen breek, kry hy ’n splinternuwe een wat spog met die nuutste tegnologie, onder meer die KI-assistent Jexi, wat soortgelyk aan Google se Siri of Amazon se Alexa in ’n gebruiker se tegnologiese behoeftes voorsien.

Anders as Siri en Alexa het Jexi (wie se stem op Phil se selfoon deur die aktrise Rose Byrne verskaf word) ’n wil van haar eie: Nie net ignoreer sy Phil se opdragte nie, maar sy begin by sy lewe inmeng om hom van ’n skaam bleeksiel tot ’n gewilde grapkas om te tower.

In ‘Jexi’ is Phil (Adam DeVine) verslaaf aan sy slimfoon.Foto: Lionsgate

Wanneer die “nuwe” Phil Cate (Alexandra Shipp) se oog tref en hy nie meer so baie tyd vir sy slimfoon – en Jexi – het nie, breek die KI-assistent se KI-hartjie en word die demoon in haar weens jaloesie wakker. Met toegang tot al Phil se wagwoorde en bankbesonderhede, poog sy dan om sy lewe te verwoes – wat die komedie plek-plek in ’n ietwat vreemde riller verander.

Hoewel Lucas en Moore eintlik hier tong uitsteek vir fanatiese slimfoongebruikers, sal hulle fliekgangers tog twee keer laat dink oor die persoonlike en soms sensitiewe inligting wat mense sonder skroom in hul slimfone in pons; daaraan was ons almal seker ten minste een keer in die verlede skuldig.

Dié pitkos kom egter weens allerhande absurditeite – soos ’n uiters lawwe sekstoneel tussen mens en slimfoon – nie naby die ongesonde verhouding tussen mens en tegnologie wat in ’n fliek soos Her (2013) verken is nie. Jexi is daarenteen pap, gaan onnodige paranoia oor KI skep, en is boonop nie werklik snaaks nie. Byrne se stemwerk is darem ’n ligpunt.

  • Met o.a. Adam DeVine, Alexandra Shipp, Michael Pena en Rose Byrne. Regie: Jon Lucas en Scott Moore. Ouderdomsbeperking: 18 DNST. Tydsduur: 100 min. In 2D.
Meer oor:  Jexi  |  Komedie  |  Alexandra Shipp  |  Flieks  |  The Hangover  |  Adam Devine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.