Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Les Mis’ dwing ’n nodige blik na binne

In Les Misérables begin drie polisielede skarrel wanneer hul wangedrag deur ’n kind met ’n hommeltuig op kamera vasgevang word. Foto: Le Pacte / www.bostonglobe.com
Les Misérables

Drama

****

Fliekgangers wat die Franse drama Les Misérables vandeesweek aanpak – en die teleurstelling dat dit nié ’n musiekspel is nie opsy skuif – gaan vir 102 minute lank onvermydelik vergelykings tref.

Dié wat die Fransman Victor Hugo se gelyknamige 1862-roman en die welbekende musiekspel ken, sal eerstens – moontlik met verwondering – vergelyk hoe die skrywer-regisseur Ladj Ly aan die storie getorring en dit na die hede verplaas het.

Daarby sal Suid-Afrikaners hulle kan vereenselwig met die alledaagse ellende wat in die rolprent blootgelê word: Dít wat in die fliek in Montfermeil, ’n voorstad van Parys, afspeel, kan op gelyke voet geplaas word met van die onkruid wat lank reeds in ons eie agtertuin wortelgeskiet het.

’n Klokkie sal uit die staanspoor lui, danksy ’n toneel waarin hordes mense oor alle grense heen – swart en wit, ryk en arm, jonk en oud – saam ’n groot Wêreldbeker-oorwinning vier.

Die jolyt verskans tydelik heelparty vratte – polisiegeweld, korrupsie, ongelykheid – wat een vir een onthul word wanneer drie polisielede elkeen in ’n mindere of meerdere mate hul mag misbruik en die inwoners onnodig die skrik op die lyf ja.

Wanneer hul gedrag deur ’n kind met ’n hommeltuig op kamera vasgevang word, breek ’n geskarrel los om die beeldmateriaal te vernietig – en dit lei uiteindelik tot ’n skouspelagtige opstand teen onregverdigheid, waarin jonk vir oud op ’n teatrale wyse sê: Genoeg is nou genoeg!

Ly, wat sy fiksiedebuut met dié rolprent maak, draai nie doekies om oor die ekonomiese, politieke en maatskaplike penarie waarin die wêreld hom tans bevind nie. Pleisters word links en regs afgeruk om die gehoor opnuut te laat regop sit oor dít wat ons as ’n alledaagsheid aanvaar.

Die eindproduk laat ’n mens ook opnuut – en met ’n tikkie angs! – besef hoe die miserabele werklikheid wat Hugo byna 160 jaar gelede in sy roman vasgepen het, steeds miljarde op aarde se voorland is.

In ’n tydperk waarin daar pal op vooruitgang gehamer word, dwing die rolprent ons om na binne te kyk en onsself af te vra of ons nie oor die eeue heen eintlik maar steeds hamsters op ’n wiel is wat sonder ophou op dieselfde plek om en om en om draai nie.

Die rolprent verdien die onlangse Oscar-benoeming in die kategorie beste internasionale rolprent.

  • Met o.a. Damien Bonnard, Alexis Manenti, Djibril Zonga, Issa Percia, Al-Hassan Ly, Steve Tientcheu, Almany Kanoute en Nizar Ben Fatma. Ouderdomsbeperking: 16 GT (geweld, taal). Tydsduur: 102 min. In 2D.
Meer oor:  Fliekresensie  |  Vermaak  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.