Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Mendes wys die hel van oorlog soos dit is
Een van die tonele aan die begin van die oorlogsprent 1917. Regs is Dean-Charles Chapman as Blake en links is George MacKay as Schofield.

1917

Oorlogsdrama

****

Dié oorlogsprent is die hellevaart van twee bloedjong Britse soldate wat op ’n geheime sending gestuur word in die Eerste Wêreldoorlog. Hulle moet Duitse vyandsland betree en ’n Britse bevelvoerder bereik om ’n boodskap oor te dra. Meer as 1 600 van hul eie kamerade se lewe is op die spel asook die lewe van een se ouer broer.

Behalwe vir krete van pyn, uitroepe oor naderende gevaar, vlugtige niksseggende gesprekke, skril bevele of die laaste hortende woorde van sterwende soldate, is daar bitter min dialoog.

Die kyker sien op groot skaal wat oorlog doen aan mense, hoe dit gemeenskappe verwoes, hoe vinnig en geruisloos die dood sy opwagting maak – in een toneel moet ’n soldaat aan die lewe probeer bly met ’n Duitse skerpskutter in die omtrek. Koeëls fluit om sy kop. Die klankskap wat hier geskep word is van hoogstaande gehalte, so ook die redigering van klank en beeld in die neerstort van ’n Duitse vegvliegtuig.

Jy sien nie bloedvergieting nie, maar jy weet dit is daar, of naby – jy sien wel lyke in verskillende stadia van ontbinding.

In een toneel sien jy skielik ’n ongeskonde natuurtoneel. Dit ruk jou, want dit is so onvanpas. Die prent is eintlik meer riller as oorlogsdrama, die spanning raak onhoudbaar. Gaan die twee jong seuns dit maak?

1917 is opgedra aan die regisseur Sam Mendes se oupa, wat as 17-jarige in die oorlog geveg het. Die jong Mendes het met sy oupa se oorlogstories grootgeword.

Een daarvan, oor ’n jong soldaat wat ’n boodskap moet neem, was die begin van die aangrypende prent.

Aan Mendes se sy is die kinematograaf Roger Deakins – dink The Shawshank Redemption asook No Country for Old Men, wat die rolprent in een kameraskoot met geen snitte en in een dag verfilm het.

Dit was Mendes se opdrag sodat die kyker die twee soldate so natuurlik moontlik kan volg.

Jy plons letterlik saam met hulle vir sowat twee uur en verlaat hulle dan weer midde ’n ander storie – nie hulle of die kyker is dieselfde mense nie.

Hier is nie prekery of ’n geskiedenisreferaat nie. Hul gesprek oor medaljes aan die begin van die prent het ’n wrang nadraai.

In die prent speel groot akteurs, soos Benedict Cumberbatch, Colin Firth en Sam Rockwell klein rolletjies.

Die hoofrolle word deur die jong akteurs Dean-Charles Chapman as Blake en George MacKay as Schofield vertolk.

Mendes is bekend om groot prente in die moderne fliekskat – myns insiens is sy grotes American Beauty, Road to Perdition en Skyfall. Hierdie is nog ’n welkome, dog onthutsende toevoeging tot sy glorieryke loopbaan.

Die prent verdien om op die grootskerm gesien te word. Jy kan nie die ware ontstellende impak daarvan ingeprop op ’n klein skerm ervaar nie.

  • 119 minute. Die prent gaan ook op IMAX uitgereik word. Die ouderdomsbeperking is 13.
Meer oor:  1917  |  Fliekresensie  |  Oorlog  |  Flieks  |  Sam Mendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.