Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Old Guard’ se hou is flou

The Old Guard

Aksie

***

Hoewel Charlize Theron haar die afgelope 25 jaar as een van Hollywood se veelsydigste aktrises gevestig het, is dit onmiskenbaar dat sy ’n nis in aksierolprente gevind en – as vervaardiger – ook deels vir haarself geskep het.

Benewens haar Oscar-bekroonde én -benoemde rolle in die dramas Monster (2003), North Country (2005) en die meer onlangse Bombshell (2019), raak Theron al hoe meer bekend vir rolle waarin sy booswigte ’n goeie drag slae gee – dink maar aan Aeon Flux (2005), Hancock (2008), Mad Max: Fury Road (2015) en daai steeds ikoniese gevegtoneel van by die agt minute lank in Atomic Blonde (2017), wat sy ook vervaardig het.

In The Old Guard, wat sedert Vrydag die gewildste rolprent op Netflix in Suid-Afrika is, bou Theron op dié rolle voort – dié keer as Andy, die leier van ’n geheime groepie huursoldate, wat nes Duncan McLeod in die Highlander TV- en rolprentreeks onsterflik is.

Kort voordat die groep ’n nuwe lid, Nile (KiKi Layne), bykry, vang hul buitengewone kenmerk die oog van ’n wetenskaplike wat hoop om toetse op hulle uit te voer en groot geld uit hul onsterflikheid te verdien.

Dít lei tot talle botsings en werklik indrukwekkende gevegstonele wat Theron weer tot die uiterstes beproef het: Sy het selfs (natuurlik per ongeluk) in die proses ’n ligament in haar hand glo van die been af geskeur. Eina!

Hoewel dié toewyding prysenswaardig is, kan ’n mens dit nie ignoreer dat gevegskuns hier gebruik is om ’n onoorspronklike storielyn te verbloem nie – een wat oor die dekades heen in talle superheldrolprente opgeduik het en sedertdien in ’n nuwe gedaante slaafs herhaal is.

Daarby is die choreografie van die rolprent se grootste uitklophou – die gevegstonele – onnatuurlik perfek uitgevoer. ’n Mens sou dink dat ’n vuisgeveg, byvoorbeeld, meer ontspoor as wat dit in dié eindproduk die geval is – en nie dat elke skop en hou op sy plek is nie.

Die rolprent bied in die geheel tog goeie laataand-vermaak. Die hoed moet ook gelig word vir ’n diverse rolverdeling, wat onder andere onder die huursoldate ’n swart heldin én ’n gay egpaar insluit – iets wat fliekgangers nie aldag in dié genre sien nie. Die insluiting is welkom en moes lankal gebeur het.

  • Met o.a. Charlize Theron, Chiwetel Ejiofor, Harry Melling, KiKi Layne, Luca Marinelli, Marwan Kenzari, Matthias Schoenaerts en Van Veronica Ngo. Regie: Gina Prince-Bythewood. Ouderdomsbeperking: 16. Tydsduur: 125 min. Op Netflix.
Meer oor:  Charlize Theron  |  Netflix  |  The Old Guard  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.