Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Oulike ‘Nappy Blues’ sal lagspiere prikkel

Ouers wat nog woelwaters in die huis het – maar ook dié wat jare of selfs dekades gelede hul eersteling verwelkom het – sal baie begrip hê vir die uitdagings waarvoor die hoofkarakters in Nappy Blues te staan kom.

Dié komiese kortrolprent – die tweede van nege aflewerings in Netwerk24 en die KKNK se Kortom-kortrolprentprojek – fokus op Marina (vertolk deur Roeline Daneel) en Ludwig (Albert Pretorius) wat met ’n eersteling in hul arms hul voete as nuwe ouers probeer vind.

Anders as ander rolprente wat die onderwerp al van hoek tot kant bekyk het, vertel Carla Smith, die regisseur en draaiboekskrywer, die verhaal vanuit die baba se perspektief: Kykers kyk dus deur die baba se oë na Marina en Ludwig se wipwarit om ouerskap baas te raak.

Nappy Blues

Hoewel nuwe ouers, veral op sosiale media, dit soms voorhou dat ouerskap maanskyn en rose is, draai Smith nie doekies om oor die ware ervaring nie: ’n Vroegoggend en laataand pajamadril, doeke wat verkeerd om aangesit word, en glipse en blapse – van hulle met ’n onaangename stank – wat (soms letterlik) oor Marina en Ludwig se pad rol.

Dit is juis hul liefdevolle onkunde wat kykers se lagspiere ’n paar keer sal prikkel en herinnerings sal oproep van die kaskenades wat hulle dalk self met hul eie eerstelinge gehad het.

Daar is nie, soos wat die titel te kenne gee, eintlik veel blues in die kortrolprent nie: Die baba is eintlik besonder soet, en wanneer probleme opduik dink Marina en Ludwig uit die vuis – soos wat ouers in werklikheid maar doen.

Dit doen egter geensins aan die oulike eindproduk afbreuk nie.

Nadat jy die kortrolprent van byna ses minute gekyk het, kyk ook gerus op Netwerk24 na ’n agter-die-skerms-blik van hoe dit gemaak is. Eva du Preez se kamerawerk met ’n selfoon is werklik interessant en dit gee ’n mens ook ekstra insig oor die uitdagings wat Daneel en Pretorius in hul akteurspel moes aanpak.

KYK HIER NA 'N AGTER-DIE-SKERMS-VIDEO VAN NAPPY BLUES:

Wil jy die eerste kortrolprent kyk?

Kortpad, die eerste kortrolprent in die Kortom-reeks, is nog op Netwerk24 beskikbaar. Klik hier om dit te kyk.

Waarna kan intekenare volgende week uitsien?

Die derde kortrolprent in die reeks, Markus en die son, word op 18 Augustus uitgereik.

ROLPRENT 3: Markus en die son

Kan ek jou ’n storie vertel? 

Markus word wakker in sy woonstel in Kaapstad. Met ’n blik op die toekoms, dink hy terug aan sy verlede – hoe hy en sy vrou saam hier beland het en hoe onwaarskynlik dit is dat twee mense mekaar ontmoet en ’n lewe saam begin. Dié kortrolprent is as een skoot, sonder enige snitte of redigering verfilm. ’n Kortrolprent oor die oomblik net ná ’n mens wakker word. 

Regisseur en skrywer: PHILIP RADEMEYER

Kamerawerk en redigeerder: KOBUS MARX

Produksie, stelinkleding en stilering: MARYKE NEL

Met WILHELM VAN DER WALT 

Meer oor:  Carla Smith  |  Roeline Daneel  |  Albert Pretorius  |  Kortfilms  |  Kortom  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.