Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Racheltjie’ stel hoë standaard

Die verhaal van Racheltjie de Beer

Drama

****

Die standaard van Afrikaanse rolprente het die laaste paar jaar die hoogte ingeskiet.

Natuurlik is ons ganse rolprentgeskiedenis nie sonder uitskieters nie, maar vir jare het dit gevoel asof Afrikaanse rolprente ’n lawwe element van vermaak bo goeie akteurspel, regie, teks en klank op die prys stel – en rolprentmakers ’n standaard koester wat ons byna deur die bank laat bloos.

Stian Bam vertolk die rol van Racheltjie de Beer se pa, Herman, in Die verhaal van Racheltjie de Beer. Foto: Indigenous Film Distribution

Die bedryf se ommeswaai weg van die powere was waarskynlik op sy opmerklikste by vanjaar se Silwerskermfees, waar ek (ongelukkig) net by drie vollengte rolprente kon uitkom: Die verhaal van Racheltjie de Beer, Poppie Nongena en Toorbos. Elk van dié rolprente het ’n draaiboek as enjin gebruik om pragwerk op te wek – waarskynlik die beste nog. In Oktober, Januarie en Mei, wanneer dié drie rolprente onderskeidelik uitgereik word, sal fliekgangers sien hoe die driestuks eintlik die aflosstokkie vir mekaar aangee en saam ’n nuwe tydvak in die Afrikaanse rolprentkunde aankondig – een wat hopelik nie gou stoom sal verloor nie.

Die regisseur en draaiboekskrywer Matthys Boshoff se langverwagte rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer is eerste uit die wegspringblokke.

Boshoff en die skrywer-regisseur Brett Michael Innes het saam aan die draaiboek getimmer, wat op Innes se gelyknamige roman gegrond is – ’n vertelling wat op sy beurt die geliefde en tragiese volksverhaal van die tienerheldin Racheltjie de Beer opnuut in oënskou neem.

Fliekgangers sal nie verbaas wees oor hoe die fliek eindig nie – hulle ken die storie en heelwat variasies daarvan net te goed – maar dít wat die slot voorafgaan is ’n weldeurdagte verrassing.

Die skryfduo het nie verniet aan 11 verskillende weergawes van die draaiboek geskaaf nie.

Die visuele effekte wat in die rolprent ingespan is, is ook iets wat jy nog nie in ’n Afrikaanse rolprent gesien het nie.

Die spilpunt is die De Beer-gesin – die patriarg Herman (Stian Bam) en sy twee kinders, Racheltjie (Zonika de Vries) en Jamie (Johannes Jordaan) – wat na die Witwatersrand se goudveld onderweg is. Terwyl hulle trek, dra Herman swaar aan ’n verlede met die De Beer-kinders se ma, Marie (Beáte Opperman), soveel so dat hy hom nie net emosioneel van sy kinders afsluit nie, maar ook die Lundt-gesin, by wie hulle tydens hul tog tuisgaan.

Terwyl Herman met sy eie interne storm stoei, neem Racheltjie die voortou om haar boetie te versorg, ondanks haar verlange na haar ma en die ingewikkelde wipplank wat sy skielik tussen kindwees en vrouword moet ry. Dié troebel tyd lei dan tot ’n draaikolk van omstandighede wat tot ’n tragiese misverstand en die welbekende slot lei.

In die geheel is daar nie ’n haar uit plek in die rolprent nie. Die pas is stadig, ja, en Sandra Prinsloo se voordrag van Jacoba Lundt onnodig teatraal, maar dit ontspoor nie die eindproduk nie. Veral die kinematografie, Chris Letcher se klankbaan, en Zonika de Vries in die skoene van die tienerheldin is skitterend.

Die visuele effekte wat in die rolprent ingespan is, is ook iets wat jy nog nie in ’n Afrikaanse rolprent gesien het nie. Dit verhef die fliek tot kosbare kuns wat beleef moet word, wat later gedeel moet word, en waarop ons jare later nog werklik trots kan wees.

  • Met o.a. Zonika de Vries, Stian Bam, Antoinette Louw, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Seputla Sebogodi, Johannes Jordaan, Charlie Bouguenon en Beáte Opperman. Regie: Matthys Boshoff. Ouderdomsbeperking: 10-12 OL. Tydsduur: 105 min. In 2D.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.