Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: Skouspelagtige oorlogsfliek poer-poer maar

In ‘Midway’ probeer lt.kdr. Edwin Layton (Patrick Wilson) nog ’n Japannese aanval afweer. Foto: Lionsgate

Midway

Geskiedkundige drama

***

Ek is onlangs heel toevallig op ’n vroeë Kersfeesviering by ’n gesprek oor geskiedkundige dramas se rol in die skep van (geskiedkundige) fopnuus betrek.

Die onderwerp is nie ’n nuutjie nie: Hollywood is berug daarvoor om ware gebeure op die grootskerm te plak, maar heelwat feite te verdraai – en sommige daarvan selfs uit hul duim te suig – sodat ’n storie sexier aangebied kan word.

Deesdae lei dit darem tot heelwat video-essays op YouTube, waarin kenners en kritici onakkuraathede in rolprente en TV-reekse blootlê. Ontledings oor die jongste reeks van Netflix se The Crown is ’n goeie voorbeeld, maar ek twyfel of die feite ooit in die gehoor se skote beland, wat bloot dít wat hulle in elke nuwe reeks sien as die ware Jakob aanvaar.

Slinkse vervaardigers kom wel met minder weg as die onderwerp ’n welbekende geskiedkundige gebeurtenis is. Die probleem duik grotendeels by meer onbekende gebeure op, waar die besonderhede nie alombekend is nie – en onwaarhede net met moeite afgeskiet kan word.

Die Slag van Midway, wat die spil is waarom die oorlogsfliek Midway draai, kan as een so ’n voorbeeld beskou word, veral as dit met die bekender Japannese aanval op Pearl Harbour op 7 Desember 1941 vergelyk word. Hoewel aanlyn ontledings van Midway nog nie volop is nie, sê ’n paar kenners dat die gebeure wat in die Tweede Wêreldoorlog van 4 tot 7 Junie 1942 afgespeel het meestal akkuraat in die rolprent uitgebeeld is.

Die verbeelding van die Marshalleilande as ’n bergagtige landskap – wanneer dit in der waarheid ’n plat atol (ringvormige koraaleiland) is – laat my tog wonder aan watter feite die vervaardigers nog geskaaf het . . .

Die rolprent val byna oombliklik weg met die Japannese se verrassingsaanval op Pearl Harbour en die Amerikaners se daaropvolgende teenaanvalle op verskeie Japannese militêre basisse in die Stille Oseaan. Lt.kdr. Edwin Layton (vertolk deur Patrick Wilson), ’n inligtingsoffisier in die Amerikaanse vloot, vermoed egter die Japannese beplan ’n tweede aanval. Dit word deels bevestig deur ’n groep musikante wat geheime Japannese intelligensie oor ’n aanval op die Midway-atol ontsyfer en ’n leeueaandeel speel in dít wat by die Slag van Midway afgeweer is.

Die rolprent het op die oog af al die kenmerke van ’n skouspelagtige Hollywood-oorlogsfliek, onder meer uithalerkinematografie en visuele effekte, wat waarskynlik ’n reusehap uit die begroting van $100 miljoen geneem het. As dít jou enigste vereiste vir ’n goeie oorlogsrolprent is, moet jy dit definitief op die grootskerm beleef.

Dit is egter jammer dat die spanningslose draaiboek grotendeels poer-poer en daarom in die hek duik. Wes Tooke maak sy debuut as skrywer met ’n draaiboek waarin klimakse nie ontbreek nie, maar waar aanvalle en ontploffings so volop is dat dit vinnig holruggery word – en ’n eenvoudige storie onnodig uitgerek is.

Hoewel die storie uit ’n Amerikaanse perspektief vertel word, moet ’n mens tog die hoed lig vir die Japannese se perspektief wat ingesluit is. Dit maak die storie egter nie minder afgesaag nie.

Die enorme rolverdeling, meestal mans, en die komponiste Thomas Wander en Harald Kloser se klankbaan help ook nie veel om die fliek bo enigiets meer as “oukei” te verhef nie.

  • Met onder andere Aaron Eckhart, Darren Criss, Dennis Quaid, Ed Skrein, Luke Evans, Mandy Moore, Nick Jonas, Patrick Wilson en Woody Harrelson. Ouderdomsbeperking: 13 GTV. Tydsduur: 138 min. In 2D.
Meer oor:  Fliekresensie  |  Oorlog  |  Midway  |  Flieks  |  Patrick Wilson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.