Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Vergeet my nie’ bied net ligte vermaak
Marguerite van Eeden in die rol van Mardaleen in ‘Vergeet my nie’.

Vergeet my nie

Liefdesdrama

**

Nie almal se liefdespaadjie loop met ’n pylreguit lyn van die heel eerste ontmoeting na die kansel toe of na ’n tipe ewige verbintenis nie.

Vergeet my nie se verhaallyn se kinkel is verfrissend realisties. Dié romantiese rolprent was die wenner van Huisgenoot en kykNET se tweede fliekkompetisie. Die liefde vlot nie heeltemal nie, want die lewe en ander drome as ’n ewige maat het in die pad daarvan gekom.

Dit is die verhaal van Mardaleen en haar Hugo – wat op Potch vlugtig as studente ontmoet het, in Londen toevallig in dieselfde huis gebly het en daar mekaar werklik gevind het.

Toe skei hul paaie weer, want Mardaleen is ’n stads- en beroepsmens en Hugo wil naby Gobabis, op die familieplaas in Namibië, gaan boer waar daar nie veel aangaan nie.

Die hoofrolle is perfek geplaas en daar is ’n natuurlike en ongekunstelde dinamika tussen die twee akteurs. Marguerite van Eeden is die vurige en ambisieuse Mardaleen, Sean-Marco Vorster is Hugo, die gemoedelike plat-op-die-aarde-plaasmens. Hul veroudering oortuig ook op emosionele vlak – meer as drie jaar verloop hier en in die tyd is daar ’n tragiese verlies en ander uitdagings, soos ’n loopbaan, boerdery wat moet vlot, ensovoorts.

Wat pla is dat die prent soveel meer kon wees. Dalk is die verwagtinge van kykers van ’n Afrikaanse prent net soveel hoër? Die gehaltekerf word met elke prent hoër. Daar is een of meer betekenislae wat hier ontgin kon word vir ’n ryker fliekervaring.

As jy net ’n lekker Vrydagaand-Valentynsafspraak wil hê, en nie te hoë verwagtinge het nie, is dit die regte keuse. Dit kry ’n regmerkie vir romanse. Dit bly ’n veilige prent wat kykers dalk nostalgies kan terugneem na die laaste jare van die 1990’s en vroeë 2000, na hul studentedae of hul oorbruggingsjaar toe hulle as veiligheidswagte, oppassers van bejaardes of in restaurante in Londen gewerk het vir ’n bietjie lewenservaring en om studenteskuld te delg.

Die Londen-tonele is ’n aaneenskakeling van oomblikke voor bakens van die stad met skrapse inhoud. Die beste oomblikke in die Londen-tydperk is Mardaleen se verhouding met ’n bejaarde grompotskrywer wat sy versorg. Fiona Ramsay laat loop met die karakter.

Die kyker weet Mardaleen se ma is in ’n kwesbare verhouding met haar pa en dat sy as middeljarige waarskynlik platsak gaan wees na ’n beoogde egskeiding. Geen wonder Mardaleen is lugtig vir ’n lewe sonder die anker van ’n eie loopbaan en inkomste nie. Dit raai die kyker – daar is nie behoorlike dialoog met Hugo daaroor nie. Sonder om swaar dra al aan die eenkant te wees, kon die prent verdiep het.

Vergeet my nie is ligte vermaak vir ’n aand uit. Dit is nie veel meer as dit nie.

Meer oor:  Vergeet My Nie  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.