Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Resensie: 'Wesens' bring dringende boodskap
’n Toneel uit die Afrikaanse wetenskapfiksieprent ‘Wesens’.

Wesens

Wetenskapfiksie

***

Wesens lyk op die oog af eksperimenteel danksy die formaat waarin dit verfilm is. Ons kyk, aldus die inleiding, na vergete rolle film, wat toevallig in ’n oudhedewinkel gevind is. Dit gee ’n gevoel van verkenning en avontuur. Wat wag op die kyker? Die koddige vierhoek op ’n swart skerm, altyd effe dynserig neem die kyker terug na die laat 1960’s. Dit druis heeltemal in teen hierdie visueel geletterde generasie se flink lees en verteer van beelde. Hier kyk jy stadiger.

Vier agente van die “Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens” is op ’n hoogs geheime sending iewers in die Karoo. Soms is die beelde afgesny of skommel dit so ’n bietjie. Tog sien ons mooi, oop landskapskote van die droë, verlate vlaktes, die blou hemel en helder wolke. Dan tussenin ewe koddige, dog plegtige “wetenskaplike” opnames met “getuienis” van ’n boer en ’n konstabel. Alles is darem baie skraps en die majoor (Morné Visser), met die gekamde kuif, is nogal ’n meneer. Reeds onderweg ervaar ons dat hy nie eintlik die wetenskaplike in sy span se wêreldbeskouing deel nie.

Wesens het geen spesiale effekte nie, geen kniebuig dus vir die hoeha wat Hollywood dikteer vir wetenskapfiksie nie. Dink ’n bietjie aan soortgelyke prente wat voortdonder in die bioskope, dié prent sal daarteen verdwyn soos ’n spikkel in die heelal. Dit beteken egter nie dat daar nie ’n uitklophou wag nie.

Albert Maritz is heerlik om te beleef as die boer wat ’n vreemde vonds op sy plaas aanmeld. Hy is gewoon die sout van die aarde, daardie vreemde nag het nie net die brandewyn gepraat nie. Wat hy ervaar het, pas bitter moeilik in sy verwysingsraamwerk. Maritz gee dit sekuur weer en laat ’n mens uit die maag lag.

Van die heelal gepraat, die prent is nogal filosofies so tussen ’n paar komieklike voorvalle deur. Idees oor die wonder van die wetenskap en evolusie word aangehoor, ook opmerkings oor die Rooigevaar en ’n kommunis onder elke bos en oor die voorgeskiedenis van Suid-Afrika en die eerste nasie. Die beskeie prent kan dalk net die gees verruim. Die gebeure hier speel af enkele maande voor die Amerikaanse maanlanding. Maar verder moet ’n mens eintlik niks sê nie.

Albert Maritz is heerlik om te beleef as die boer wat ’n vreemde vonds op sy plaas aanmeld. Hy is gewoon die sout van die aarde, daardie vreemde nag het nie net die brandewyn gepraat nie. Wat hy ervaar het, pas bitter moeilik in sy verwysingsraamwerk. Maritz gee dit sekuur weer en laat ’n mens uit die maag lag.

Ook Pietie Beyers en Morné Visser staan sterk in hul rolle. Beyers het meer uitdagings, wat hy met gemak hanteer. Daar is werklik magiese tonele van verwondering opgesluit in Wesens, presies dit wat jy verwag van ware wetenskapfiksie, wat die onbesoedelde wêreld asof nuutgebore vir die mens wys.

Daar is egter raaiselagtighede wat as tekortkominge ervaar word. Die blitsige verdwyning van Rayno von Schlicht se karakter is darem net te gerieflik, hoekom dan nie net drie karakters uit die staanspoor nie? Die dialoog kom soms as te uitgedink voor en pas nie gemaklik en oortuigend in die karakters se monde nie. Ook pla die onderlinge fisieke struwelinge van die drie mans. ’n Mens sou dink as agente het hulle gevegsopleiding gehad, maar die rondvallery laat dit nie so lyk nie.

Wesens bring egter ’n boodskap, ’n baie nodige een vir die tyd van verwoesting waarin ons leef, of soos ons voorouers, wat oorloë beleef het, sou sê waarin die mensdom eintlik nog altyd geleef het. As daar ’n boodskap in ’n paar woorde hier uitgelê kan word, is dit “moenie die sneller trek nie, vra eers vrae”. As die mensdom dit net kan toepas.

Meer oor:  Wesens  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.