Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIES: Bouwer steek toon in yskoue rillerwater

The Rage. Met Carel Nel en David Viviers. Regisseur: Jaco Bouwer. *** (Showmax)

Joe-hoe! Uiteindelik ’n plaaslike riller deur Suid-Afrikaners oor Suid-Afrikaners. Alhoewel die draaiboek ’n onnodige Amerikaanse geur het.

Hier bewys die teater-, rolprent- en TV-regisseur Jaco Bouwer dat hy sy grieselstorie ken en weet hoe grillers se ratte geolie moet word. Ook dat ’n neurotiese kamera spanning se treffendste verteller is.

Jong, wellustige tieners (monsterkos) rafel uit gedurende ’n paartie met ’n uitklopskop. Hulle beland in ’n winkel uit The Texas Chain Saw Massacre (1974).

Lida Botha lewer ’n kostelike vertolking soos net sy kan as die eienaar. Soos te verwagte, word een na die ander tieners afgemaai of deurboor. Wees voorbereid – daar is erge bloedige geweld en gemotiveerde kru taal.

Bouwer slaag daarin om, soos in The Blair Witch Project (1999), die kamera in te span as ’n deelnemende en benouende verteller.

Bouwer slaag daarin om, soos in The Blair Witch Project (1999), die kamera in te span as ’n deelnemende en benouende verteller. Die redigering gee flink tempo en is in die kol en die snitte is meestal op die regte oomblik. Die kamera terroriseer jou soos ook die beligting en musiek, hoofsaaklik deur stemme (baie doeltreffend), maar die belangrikste: Bouwer se tydsberekening is fyn. Hy weet wanneer om te skok.

Die draaiboek gee hom egter nie genoeg geleentheid om die volle impak van die grieselrigheid te ontgin nie – daarvoor is dit te voorspelbaar. Dink hoe oorspronklik was Midsommar, A Quiet Place, Get out!, The Invisible Man en Us. Ons kan by daardie draaiboeke leer.

Ná daardie vernuwing is dit moeilik om na nabootsings van tiener-opkerf (slasher)-films te kyk en nie te weet wat kom nie.

Die akteurs verdien lof. Nicole Fortuin, asook Carel Nel as ’n wandelende voëlverskrikker met sy The Machinist-aanslag, wie se ruggraat ook ’n karakter in die storie is, beïndruk geweldig. Ook die bekwame David Viviers lewer onderspeelde spel wat ’n balans bring.

Maar dis Bouwer, wat sy toon in flieks se yskoue rillerwater steek (dis anders as TV-grillers), wat uitstaan.

Aanbeveel! Maar dit ontstel. Bouwer is ons eie George Romero, maar meer as dit: Hy het ook sy eie oorspronklike styl. Hou hom dop!

  • Niemand onder 16 as gevolg van taal, seks, dwelms en geweld.

The Boy Who Harnessed the Wind. **** Met Chiwetel Ejiofor en Maxwell Simba. Regisseur: Chiwetel Ejiofor (Netflix)

The Boy Who Harnessed the Wind.

Dit is die beste Afrika-film wat niemand gesien het nie. Dit is in 2018 gemaak nadat Ejiofor ’n ware storie uit Malawi gehoor het wat ’n mens met ontsag en hoop vervul. Veral in vandag se inperkingstye, wanneer hulp deur en aan die gemeenskap ’n toonaangewende rol speel, vertroos dit.

Landelike Malawiërs gaan gebuk onder ’n erge droogte. Mielies is skaars en mense stormloop skure waar dit geberg word. Die selfsugtige regering word geblameer. Die inwoners probeer mielies in verdorde grond plant sonder water.

’n Blinkslim seun, pragtig gespeel deur Maxwell Simba, beplan om ’n windpomp op te rig wat water uit ’n boorgat kan trek om die mielies te voed maar die plattelanders weier.

Hy doen alles in sy vermoë om hulle te oortuig.

Die uiteinde sal ’n knop in jou keel bring en jou laat glo aan medemenslikheid en hoop.

Hierdie film op Netflix moenie onderskat word nie. Dit sal jou aangryp en verstom. Ten sterkste aanbeveel.

  • Beperking: niemand onder 13

The Healer *** Met Oliver Jackson-Cohen en Camilla Luddington. Regisseur: Paco Arango (Netflix)

Ons het wonderwerke en mededeelsaamheid nou nodiger as ooit tevore, daarom is hierdie fliek nou soos soet medisyne en dit laat jou boonop lag.

Jy sal selfs jou kop in ongeloof en mededoë skud as jy besef: Dis die klein dingetjies wat mense in tye van nood (en pandemies) doen wat ’n verskil maak. En hierdie storie is op die waarheid gegrond.

’n Sjarmante jongman wie se lewe uitgerafel het, maar wat fluit-fluit deur die lewe gaan, moet hom ’n jaar lank inperk op die dorp Halifax, in Novia Scotia, Kanada, om te bewys hy kan verantwoordelikheid aanleer.

Hy ontmoet nie alleenlik ’n flink-mooi meisie wat lipstiek oor sy lewe sit nie, maar word as ’n wonderwerker beskou wat ongeneeslike siektes kan genees. Nou moet hy uithaal en wys!

Wat hy in nood in die goedige dorpie regkry, sal jou inperkingstyd met verwondering en pret vul. Sterk aanbeveel. (Netflix)

  • Niemand onder 7.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.