Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Riller, superhelde en iets vir kinders op silwerdoek

Drie rolprente sal vandeesweek landwyd in rolprentteaters landwyd begin. En dit is nét reg vir diegene wat uitgehonger is vir aksie op die silwerdoek nadat die teaters hul vertoontye weens die pandemie drasties moes inkort.

Gael García Bernal vertolk ’n hoofrol in ‘Old’.

• Die riller Old van die regisseur, draaiboekskrywer en vervaardiger M. Night Shyamalan speel af op ’n afgeleë strand waar ’n klompie vakansiegangers ’n welverdiende blaaskans wil neem. Als lyk net te idillies – wit sand, turkooisblou see en sonskyn – maar dan ontdek hulle iets grieselrigs en op die koop toe verouder hulle skielik. Binne enkele ure word hul gladde velle vol plooie en vlekke en moet hulle vinnig ’n plan maak om dié veroudering stop te sit.

Die groot ensemble-rolverdeling sluit onder andere die Suid-Afrikaanse boorling Embeth Davidtz in, met Gael García Bernal en Vicky Krieps in van die groter rolle. Die draaiboek is gegrond op die Franse grafiese roman Sandcastle, wat Shyamalan as geskenk van sy dogters ontvang het.

Volgens dié skepper van die trefferprent The Sixth Sense het die roman hom diep geraak omdat sy vader aan demensie ly en hy gereeld oor sy eie oudwordproses dink. Die resensies was nie so goed nie, en het veral die draaiboek, die toneelspel en die vreemde einde gekritiseer. Die meeste meen die prent het op die rotse geloop. Dit wissel tussen twee uit vyf sterre en ’n swak drie. Die barometer Rotten Tomatoes gee dit 49%. Ouerleiding en geen kinders onder 13 is die ouderdomsbeperking.

Dwaye Johnson en Emily Blunt vertolk die hoofrolle in ‘Jungle Cruise’.

• Die ruie Amasone-woude is die agtergrond vir die avontuurprent Jungle Cruise met Dwaye Johnson en Emily Blunt. Blunt is ’n puntenerige Engelse navorser op soek na ’n boom wat ’n geneesmiddel kan wees vir talle van die mensdom se groot siektes, en Johnson is die luidrugtige skipper van ’n lendelam boot wat haar moet neem na die geheime plek waar die bome groei. Die prent speel af in die jare '20.

Daar wag groot avonture en uitdagings op die twee, waarvan gevaarlike diere en reptiele die minste blyk te wees. Hulle besef dat samewerking hul enigste opsie is. Dié gesinsprent blyk bykans teen kritiek bestand te wees.

Dit kry oorwegend tellings van drie uit vyf. Tog is daar waarskuwings dat dit ’n fantasie is en dat die romantiese aantrekkingskrag tussen die twee hoofspelers omtrent nul is. Tog sal dit nie die kleintjies pla op wie die prent gemik is nie. Die regisseur is Jaume Collet-Serra. Ouerleiding word aanbeveel.

Harley Quinn en Bloodsport, oftewel Margot Robbie en Idris Elba, in 'Suicide Squad 2'.

• Die Amerikaanse superheldprent Suicide Squad 2, wat ook in Imax-teaters uitgereik gaan word, volg nie op die eerste aflewering wat in 2016 hier uitgereik is nie. Kykers kan dus net hier inval sonder dat hulle die eerste prent hoef te gesien het.

Hier ontmoet ons weer die gevaarlike dog hoogs geheimsinnige flenterbende van gevangenes, Task Force X, wat werklik nie ’n snars omgee of hulle nou bokveld toe gaan of nie. Die regering, vernaam Amanda Waller (Viola Davis), het mos ’n toestel in hul breine ingeplant wat afgaan as ’n voet verkeerd gesit word.

Die klompie word op ’n eiland afgelaai waar hulle ’n laboratorium uit die Nazi-era moet infiltreer en wat ook al daar bekook word, onskadelik moet stel.

Maar eers moet hulle Harley Quinn (Margot Robbie) red; sy is onontbeerlik tot die prent, dan nie? Daar is ook ’n grootwithaai-karakter, naamlik King Shark, met die stemkuns van Sylvester Stallone. Dié glibberige kalant hap mense se koppe net so af en sê dan “nom-nom-nom”. Baie van die karakters is terug, onder andere Idris Elba as Bloodsport. Rotten Tomatoes gee dit 96%.

Bewonderaars meen dit is briljant met net die regte mengsel humor, bloed en verskrikking. Die skrywer en regisseur is James Gunn en daar is reeds sprake van ’n derde prent met hom in die regiestoel. Die ouderdomsperk is 16 vir taal. Let wel die lokprent bevat sterk taal.– Saamgestel deur Laetitia Pople

Meer oor:  Suicide Squad  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.