Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Rimpelings van Griekwastad-moorde’ op silwerdoek vasgelê

Elke jaar sedert 2012, wanneer die blare in April begin verkleur, neem ’n beklemming besit van Griekwastad se mense.

Eerskomende Saterdag is dit presies sewe jaar gelede dat die Steenkamp-gesin deur hul seun en broer op ’n plaas buite dié Noord-Kaapse dorpie vermoor is. Boonop word ’n rolprent binnekort oor dié treurspel, wat die ganse land geskok het, gemaak.

Arnold Vosloo, internasionale rolprentster, wat reeds uit Los Angeles in Suid-Afrika geland het, vertolk die hoofrol; dié van brig. (toe kol.) Dick de Waal, die ondersoekbeampte in die saak.

Die ingang na die plaas Naauwhoek waar die tragedie afgespeel het. Foto: Verskaf

De Waal het Don Steenkamp in Augustus 2012, ’n paar dae ná sy 16de verjaardag by sy skool, Grey-kollege in Bloemfontein, in hegtenis geneem. Don is later skuldig bevind dat hy op Goeie Vrydag sy ouers, Deon (44) en Christel (43) Steenkamp, en suster, Marthella (14), doodgeskiet, Marthella verkrag en regsverydeling gepleeg het.

Hy dien sy vonnis van 20 jaar tronkstraf sowat 260 km van Griekwastad in die Upington-gevangenis uit.

Steeds sit niemand Sondae op die kerkbanke waar Deon, Christel, Marthella en Don altyd gesit het nie, sê Bennie Jordaan, ’n hegte vriend van die Steenkamps.

“Ons herdenk steeds hul verjaardae en dink aan hulle op tentpensteek-byeenkomste, waarby hulle baie betrokke was.”

Hy en sy vrou, Maureen, bedryf ’n slaghuis in die huis waar die Steenkamps op die dorp gewoon het voordat hulle na die plaas Naauwhoek verhuis het.

“Ons is steeds hartseer en dit bly tragies. Hoewel dit lank gelede gebeur het, voel dit soos gister.

“Ons kan nie aanhou tob nie. Die lewe gaan sy gang. Ek glo nie die rolprent sal te veel mense pla nie, want dit wat gebeur het, is verby. Hoewel ek nie die rolprent sal kyk nie.”

Nog ’n inwoner sê sy kry ’n beklemming as dit April word.

“Die herfsblare laat altyd ’n knop in my keel.

Die plaasopstal waar die moorde plaasgevind het.Foto: Argief

“Ons dorpsnaam het nou ’n klad op. Wanneer vreemdelinge hoor van waar ons kom, is daar die alewige vrae.

“Ek glo darem Tertius Kapp se draaiboek gaan sensitief en menslik wees. Die rolprent sal hopelik ’n dieper inslag volg.

“Al kan ons nie die tragedie vergeet nie, sal ek dalk nie die rolprent kyk nie. Ons was te betrokke.

“Ek het vertroue en berusting in die regsproses en aanvaar regter Frans Kgomo se uitspraak. Dit bly egter menslik om te wil glo dat die kind wat ons geken het, nie tot so iets in staat sou wees nie.”

Junior Ludwick, nog ’n vriend van die Steenkamps, voel ou wonde word nou oopgekrap.

“Ons wat in die binnekring was, gaan weer emosioneel raak. Ons kan egter nie die rolprent keer nie. My oorlede vrou, Romi, was destyds ontroosbaar oor Christel, haar beste vriendin, se grudood.

“Ek glo die Vader sal beskik dat iets goeds uit iets slegs moet vloei. Dalk doen die rolprent dit. God is nie afwesig nie. Ons moet net glo.

Die ingang na die dorp.Foto: Argief

“Toe ons onlangs hard gewerk het by die skou in Griekwastad, was Deon-hulle gedurig in ons gedagtes. ’n Mens sou altyd vir Deon raad, of ’n resep van Christel vra.

“Ek bly lief vir Don, maar vergifnis? Dalk eendag.”

Linda Jansen sê daar is nog verdeeldheid onder dorpenaars oor Don se skuld. Diegene wat glo ’n onbekende plaasaanvaller was betrokke, kan nie glo dat ander weer Don se skuld aanvaar nie.

“Sommige mense glo soms hy is skuldig, en ander kere nie. Ons is ’n handvol inwoners en kan nie bekostig om verdeeld te wees nie.”

Sy glo die rolprent kan dalk ’n soort berusting vir almal bring.

Vosloo, wat reeds dekades oorsee woon en werk, was onbewus van die Steenkamp-treurspel tot met die uitnodiging om die rol van De Waal te vertolk.

Sy diep en onvervulde begeerte om weer in ’n Afrikaanse rolprent te speel, het waar geword.

“Dit is ’n nuwe uitdaging in my beroep. Boonop is die draaiboek roerend. Die mooi verstandhouding tussen De Waal en sy seun, te midde van die ondersoek na ’n gesinsmoord, is aangrypend.”

Die rol pas hom.

Foto’s van die Steenkamp-gesin by hul troosdiens in Griekwastad. Foto: Emile Hendricks

“Gelukkig is ek Afrikaanssprekend en middeljarig, en het al die rol van ’n polisieman gespeel. Dié keer is ek darem ’n goeie polisieman.

“Dis ook baie natuurliker om in Afrikaans te sê ‘Staan stil, of ek skiet’, eerder as in Engels in die een of ander aksent. Vloekwoorde in Afrikaans het ook net soveel meer plofkrag; vra my vrou, Sylvia, as ek agter die stuurwiel in Amerika is . . .”

Nie dat daar veel vloekwoorde in die rolprent is nie.

“Die rolprent gaan oor die rimpelings wat die treurspel onder nabye familielede, vriende, inwoners, joernaliste en die polisie veroorsaak het.

“Hoewel ons binnekort gaan repeteer, wil ek nie vooraf te veel weet nie. Wanneer ’n toneel op die moordtoneel verfilm word, wil ek dit vir die eerste keer saam met die kyker beleef; wanneer iets soos ’n koeldrankglas jou oog natuurlik tref en die kamera dit opneem. Dit maak die spel meer geloofwaardig.”

Die rolprent, met die voorlopige naam Griekwastad, sal vanjaar op die Silwerskermfees bekend gestel en volgende jaar uitgereik word.

Don Steenkamp destyds tydens ’n ondersoek ter plaatse deur die hof. Foto: Emile Hendricks
Don Steenkamp by die troosdiens van sy ouers en suster. Foto: Argief
Don Steenkamp staan langs sy grootouers, Bettie en Don Steenkamp, by die troosdiens van sy ouers en suster. Foto: Argief

Meer oor:  Don Steenkamp  |  Arnold Vosloo  |  Griekwastad  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.