Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
'Rol baan hopelik die weg vir dowe akteurs'
Die 73-jarige dowe Paul Raci, wat vir ’n Oscar as beste byspeler in die fliek ‘Sound of Metal’ benoem is. Dit het hom 40 jaar geneem om ’n rol in ’n rolprent te kry.

Die akteur Paul Raci, wat vir ’n Oscar benoem is vir sy rol as berader vir dwelmverslaafdes in die fliek Sound of Metal, sê die dowe gemeenskap is verheug dat hulle hierin as “normale” mense uitgebeeld word. Hulle het immers dieselfde probleme as niegestremdes en raak ook verslaaf.

Kampvegters hoop dat lof vir Sound of Metal, wat vir ses Oscars benoem is, onder meer vir beste rolprent, tot meer flieks oor gestremdes sal lei.

Hollywood kom lank reeds onder skoot oor sy beperkte uitbeelding van vroue, swart mense en ander gemarginaliseerdes. Hoewel hulle ’n poging aanwend om te verbeter, het gestremdes in 2019 ’n verteenwoordiging van net 2,3% behaal, terwyl 26% van volwassenes in die VSA met gestremdhede leef.

Die enigste dowe aktrise wat al ’n Oscar gewen het, is Marlee Matlin vir Children of a Lesser God in 1986.

Sound of Metal gaan oor die tromspeler Ruben Stone, vertolk deur Riz Ahmed, wat sy gehoor verloor vier jaar nadat hy sy dwelmgebruik laat vaar het. Hy sluit aan by ’n sober dowegemeenskap met Joe, gespeel deur Raci, as leier.

Die 73-jarige Raci, seun van dowe ouers met gevolglik Amerikaanse gebaretaal as moedertaal, was voorheen ’n tolk by die Deaf West Theatre in Los Angeles.

Riz Ahmed en Olivia Cooke vertolk die hoofrolle in ‘Sound of Metal’, wat oor ’n dowe tromspeler handel. Ahmed is vir dié vertolking vir ’n Oscar as beste akteur benoem.

Al speel verskeie dowe akteurs in Sound of Metal, is die vervaardigers gekritiseer omdat hulle die hoofrolle aan horendes toegeken het.

Raci sê hy hoop die fliek baan die weg vir meer werk vir dowe akteurs aangesien “daar talle talentvolles is wat rolle verdien”.

Nog flieks oor en met gestremdes wat Sondag (Amerikaanse tyd) om ’n Oscar meeding, is Crip Camp, ’n dokumentêr oor die regte van gestremdes, en Feeling Through, met die doofblinde akteur Robert Tarango.

Om vervaardigers en skrywers te help om hul idees oor die uitbeelding van karakters te verander, tree die organisasie RespectAbility as tussenganger op. Dié span was in 2019 by 12 projekte betrokke en in 2020 by 70.

Die hoop is dat dié toename tot baie meer goeie flieks sal lei, waarvan reeds na een uitgesien kan word. In November reik Disney se Marvel Studios die aksiefliek Eternals uit, met die dowe Lauren Ridloff as Makkari, ’n heldin met superspoed. – Reuters

Meer oor:  Oscar Fliek  |  Sound Of Metal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.