Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Rolprent maak haar weer verlief op manlief
Sean-Marco Vorster en Marguerite van Eeden (links) saam met die regte Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis tydens die verfilming van ‘Vergeet my nie’ in Gobabis, Namibië. Foto: Gallo Images / Misha Jordaan

Sy was sommer opnuut verlief op haar man nadat sy hul liefdesverhaal op die silwerskerm gesien het.

Mardaleen Derks (44) en haar man, Hugo (46), se besonderse paadjie na geluk het as inspirasie gedien vir Huisgenoot en kykNET se tweede rolprent, Vergeet my nie.

Dit is ’n goedvoel-fliek wat die liefde vier, net betyds vir Valentynsdag.

“Alles is mos nou nie heeltemal soos wat dit gebeur het nie, maar die rolprent het beslis die goue draad van óns storie vasgevang,” het Mardaleen Donderdag vanuit Namibië gesê.

Op Gobabis, waar Mardaleen skoolhou, kan die mense ook nie wag dat die rolprent uitgereik word nie. Baie het reeds te kenne gegee dat hulle die sowat 200 km sal aflê om die eerste vertoning in Windhoek te gaan kyk.

Sy en Hugo het met ’n kronkelpad uiteindelik bymekaar gekom.

Hulle het mekaar in die 1990’s raakgesien toe albei nog studente in Potchefstroom was.

Ná universiteit het hulle in dieselfde kommune in Londen beland – waar hulle toe verlief geraak het.

Terug in Suid-Afrika het hul paadjies egter weer geskei. Mardaleen wou in Kaapstad aan haar loopbaan werk en Hugo se hart was in die boerdery.

Maar lank hierna het die liefdesvure weer opgevlam en het hulle dit maak werk ondanks duisende kilometers tussen hulle.

Sean-Marco Vorster en Marguerite van Eeden beeld die ware liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks uit wat die inspirasie vir ‘Vergeet my nie’ was. Foto: Gallo Images / Misha Jordaan

Nou woon die Derks-egpaar al amper 15 jaar gelukkig getroud op hul plaas saam met hul kinders, Githe (13) en Liam (12).

Marguerite van Eeden (22), wat die rol van Mardaleen vertolk, het haar amper eers aan die einde van die verfilmingsproses ontmoet.

“Sy en haar man is ongelooflik,” sê Van Eeden.

“Hul storie wys dat liefde altyd wen. Én dat die liefde jou altyd sal bring tot by die persoon wat vir jou beskore is, al neem dit ’n bietjie tyd.”

Van Eeden is al van ’n jongs af ’n aktrise. Sy het die hoofrol in Vaselinetjie vertolk en het ook al rolle in Sara se geheim, Die Byl en Fynskrif losgeslaan.

Sean-Marco Vorster (27), wat die rol van Hugo vertolk, het bekend geword vir sy rolle in Lyfstraf, Die windpomp,Strikdas en Susters.

Vir hom was die rolprent besonders, iets waaraan ’n mens nie gewoond is nie.

Die wêreld is vol Amerikaanse liefdesverhale, wat die sake van die hart nie altyd realisties uitbeeld nie, sê Vorster.

“Liefde is ’n keuse, iets waarvoor ’n mens moet werk, en dit is wat ek uit die maak van Vergeet my nie geleer het,” sê Vorster.

‘Vergeet my nie’ word op Valentynsdag landwyd bekend gestel.

Dit is juis dié twee jong sterre se uitnemende vertolking wat Mardaleen se hart opnuut laat smelt het.

“Hul uitbeelding was knap gedaan. Hulle het ons liefde so eg laat lyk. En toe ek vir Vorster sien, toe raak ek sommer opnuut verlief op my man,” sê Mardaleen.

Tonele vir Vergeet my nie is oor sowat twee maande in Potchefstroom, Johannesburg, Kaapstad, Namibië en Londen verfilm.

Dit het fyn beplanning geverg om al die tonele bymekaar te kry, maar alles was die moeite werd.

“Ons is baie dankbaar teenoor Mardaleen en Hugo Derks dat hulle hul storie met ons gedeel het, en ook teenoor kykNET en The Film Factory, wat die verhaal so mooi ontgin en vir die silwerdoek ontwikkel het,” sê Yvonne Beyers, Huisgenoot se redakteur.

Vergeet my nie is ’n goedvoelfliek wat die liefde vier, sê Beyers.

“Ek gaan die fliek nog ’n paar keer kyk, want dit laat my elke keer opnuut verwonderd voel oor daardie oomblik wanneer twee mense vir mekaar kyk en gelyk besef: ‘Dit is vir jóú wat ek wil hê.’ ”

Die rolprent begin Vrydag landwyd in teaters draai.

Meer oor:  Mardaleen Derks  |  Liefde  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.