Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Romanse, dansende trolle en ‘dudes’ wat reis in tyd

’n Smeulende tienerdrama, Keanu Reeves se nuwe gesig en dansende trolle is waaraan fliekvlooie hulle die naweek kan verkyk.

Hero Fiennes Tiffin en Josephine Langford in ’n toneel uit die tienerromanse “After We Collided”.

• Die romantiese tienerdrama After We Collided is ’n vervolg op verlede jaar se treffer After. Die reeks is gemik op tieners en jong volwassenes, en volg die onstuimige romanse tussen Tessa (Josephine Langford) en Hardin Scott (Hero Fiennes Tiffin) ná universiteit en hul eerste treë in die beroepswêreld. Tessa poog om haarself in ’n groot uitgewery te bewys, terwyl dit blyk dat Hardin in sy motor slaap.

Dit is gegrond op Anna Todd se blitsreeks wat op die storieplatform Wattpad uitgereik is.

Waar die eerste fliek se ouderdomsperk 13 met ouerleiding is, is die vervolg se perk 18 vir dwelms, taal, vooroordeel, naaktheid en geweld. Gehore moet hulself dus op ’n intenser ervaring voorberei. Hardin is steeds geheimsinnig oor sy verlede, maar maak in die vervolg ’n gruwelike fout wat Tessa laat twyfel of hy die regte man vir haar is. Daar is ook ’n ander man wat stoei om Tessa se aandag.

Meer as een resensent het gekla oor die baie wendinge wat die verhaallyn onoortuigend maak, en die gebruik van popliedjies om emosie aan te dui.

Tog het bewonderaars die afgelope naweek na die bioskope gestroom. After We Collided het wêreldwyd meer as $20,9 miljoen by die loket verdien.

Branch (met die stemkuns van Justin Timberlake) en Poppy (Anna Kendrick) in die prettige musiekprent “Trolls World Tour”.

• Vir kinders en hul ouers is daar die kleurryke animasieprent Trolls World Tour met sy aansteeklike klankbaan en kwalik versteekte, dog nodige les oor diversiteit en dat verskille tussen mense, of dan trolle, heeltemal aanvaarbaar is. In die fliek ontdek Poppy en Branch dat daar ses verskillende trol-stamme oor die wêreld te vinde is. Elke stam het ’n voorliefde vir ’n spesifieke tipe musiek, of dit nou country, techno, klassiek of pop is, en hul voete stamp en die lywe swaai as hulle dit hoor. Tog blyk dit dat die rockers Queen Barb en King Trash meen net rock is bobaas en die res moet summier stilgemaak word. Poppy en Branch meen dit is tyd om die trolle van die wêreld bymekaar te bring en hul verskille te vier.

Die resensies was oorwegend gunstig en die meeste resensente meen die fliek rig geen skade aan nie, hoewel dit na die vervelige kant toe neig. Dit het geen ouderdomsbeperking nie.

• Die komiese wetenskapfiksiefliek Bill & Ted Face the Music is ’n vreemde verskynsel om te beskryf omdat dit reise vorentoe en terug in tyd verg. Dele van die fliek speel in die hel af en daar is ook ’n moordlustige robot in die storie en ’n baskitaarspeler met die naam Death. Fliekvlooie het die rockers William Preston (Alex Winter) en Theodore Logan (Reeves) meer as drie dekades gelede ontmoet. Hulle is eintlik nog dieselfde ouens al is hulle veel ouer. Hulle is gaaf en vriendelik en eintlik doodgoed met geen ambisie of doelwitte nie. Nog steeds so onskuldig verwonderd. Maar of hul volwasse

Alex Winter en Keanu Reeves in ’n toneel uit “Bill & Ted Face the Music”.

geword het en of hul huwelike dit gaan hou, weet ons nou nie. Hul dogters, Billie (Brigette Lundy-Paine) en Thea (Samara Weaving), meen hul pa’s is gaaf en het net ’n bietjie hulp nodig. Hierdie keer om ’n liedjie te vind wat die wêreld gaan red – ja, jy het reg gelees. Die twee boesemvriende reis in tyd om die liedjie op te spoor en die wêreld weer op sy as te laat draai. Hier is ook ’n duet tussen Mozart voor die klawers en Jimi Hendrix op kitaar om na uit te sien.

A.O. Scott van die New York Times meen dit is “skadelose pret en eintlik nogal snaaks”. Ouerleiding word aanbeveel en geen kinders jonger as 13 word toegelaat nie.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.