Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA animasiehuis wen gesogte internasionale prys

Suid-Afrika se voorste animasie-vervaardiger, Triggerfish, is pas met die internasionale Mifa-prys bekroon vir sy “baanbrekersrol in die animasiekuns in Suid-Afrika en die res van Afrika”.

’n Toneel uit ‘Seal Team’ met Quinn (middel), die rob wat besluit om die haaie aan die Kaapse kus ’n les te leer. Foto: Triggerfish

Véronique Encrenaz, hoof van Mifa, het dié aankondiging op die Annecy Internasionale Animasiefees, die grootste ter wêreld, gemaak.

Stuart Forrest, Triggerfish se uitvoerende hoof, het die prys ontvang.

Dié prys plaas Triggerfish in die geselskap van wêreldbekende animasiehuise wat voorheen die prys gewen het, naamlik Illumination wat Despicable Me geskep het, Aardman (Wallace & Gromit), Gebeka Films (My Life as a Courgette) en GKIDS (Wolfwalkers).

Encrenaz het ook na Triggerfish se “konstellasie van pryse” verwys, waarvan die eerste klompie pryse toegeken is vir sy eerste twee rolprente, Adventures in Zambezia en Khumba.

Dié flieks het nie net pryse gewen nie, dit het ook nege miljoen fliekkaartjies oor die wêreld heen verkoop.

Triggerfish se nuutste fiksiefliek, Seal Team, word binnekort uitgereik, asook sy animasie van Roald Dahl se Revolting Rhymes, die Annie-pryswenner The Snail and the Whale, die Emmy-wenner Zog, die Annecy-wenner Stick Man en die Rose d’Or-wenner The Highway Rat. Al die rolprente is deur Magic Light Pictures vervaardig.

Stuart Forrest, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse animasiehuis Triggerfish, met die internasionale Mifa-prys wat pas op die Annecy-fees in Frankryk oorhandig is. Foto: Verskaf

Die animasiefees vind vanjaar vir die 60ste keer plaas en word van 14 tot 19 Junie in die dorp Annecy in Frankryk aangebied. Dit bestaan uit regstreekse teatervertonings, asook virtuele aanbiedings.

Die fokus is vanjaar op animasie in Afrika met ’n sterk klem op Triggerfish. Op 17 Junie is dié animasiehuis die onderwerp van ’n fokussessie wat sy ontwikkeling sedert sy ontstaan in 1996 in Kaapstad sal blootlê. Een van die jongste uitbreidings is die vestiging van sy eerste buitelandse kantoor in Galway, Ierland. ’n Lokprent van Seal Team sal onder meer in die sessie vertoon word.

In die slotvertonings op 19 Junie sal Khumba en Stick Man aan die beurt kom, asook die Triggerfish-kortfilm Belly Flop wat in 2018 die lig gesien het en 15 internasionale pryse opgeraap het.

Seal Team handel oor die rob Quinn wat in die see by Kaapstad woon en telkens van die grootwithaaie moet vlug. Op ’n dag besluit Quinn dis tyd om die haaie ’n les te leer en maak hy ’n span robbe bymekaar wat net so dapper, dom en verspot is soos hy.

Van die stemme wat hierin gehoor kan word, behoort aan Jessie T. Usher as Quinn, J.K. Simmons van Whiplash en Justice League, Matthew Rhys (The Americans), Kristen Schaal (Toy Story 3 en 4, Despicable Me 2), die fliekster Dolph Lundgren, asook die Suid-Afrikaners John Kani (The Lion King, Black Panther) en Sharlto Copley (District 9, Chappie en Maleficent).

  • Al die bogenoemde Triggerfish-rolprente word op Showmax vertoon.
Meer oor:  Revolting Rhymes  |  Roald Dahl  |  Emmy  |  Despicable Me  |  Black Panther  |  Sharlto Copley  |  Matthew Rhys  |  The Lion King  |  J.K. Simmons  |  Maleficent  |  Toy Story 4  |  John Kani  |  Justice League  |  Fliek  |  Triggerfish  |  Animasie  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.