Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA sibbe se droomfliek betower op Franse fees

’n Suid-Afrikaanse kortrolprent met ’n virtuele kinkel het die eerste rolprent van sy soort in Afrika geword wat vroeër vandeesmaand by die gesogte Annecy-animasiefees in Frankryk vertoon is.

The Lost Botanist was boonop net een van nege rolprente uit ’n poel van 90 wat sake vir ’n prys in die kategorie VR@ANNECY uitgespook het. Dié kategorie is uitsluitlik vir rolprente wat net met ’n spesiale kopstuk gekyk kan word en kykers daardeur aan ’n skynwerklikheid (oftewel virtuele werklikheid of VR) blootstel.

Die droomwêreld in The Lost Botanist is in net vier maande opgetower deur die broer en suster Rick (38) en Ree Treweek (40), wat oorspronklik van Kokstad in KZN kom, maar deesdae in onderskeidelik Johannesburg en Kaapstad woon.

“Ons het gewikkel,” sê Ree kort nadat sy van die Annecy-animasiefees teruggekeer het.

“As jy by so ’n groot fees sien hoe groot die spanne is wat aan VR-rolprente werk, is ek net dankbaar vir elke lid van ons klein spannetjie wat The Lost Botanist moontlik gemaak het.”

Die Treweeks se span het uit agt mense bestaan, medewerkers uitgesluit.

’n Skermgreep uit die droomwêreld in die kortrolprent The Lost Botanist.

Ree verduidelik dat The Lost Botanist soos enige ander VR-rolprent net deur ’n spesiale kopstuk gekyk kan word. In dié geval dompel die kopstuk die kyker in ’n tuin vol mitologiese plantegroei en betowerende diere. Ja, dit is ’n rolprent, sê sy, omdat kykers na ’n storie kyk, maar dit is ook deels “interaktiewe teater” omdat kykers by tye in die fliek ook moet reageer op van die karakters voordat die fliek kan aangaan.

Die Treweeks het die aanvanklike idee vir die rolprent by hul oom, Tony Cunningham, gekry, wat ’n plantkundige is. Toe hulle sy liefde vir plante met hul liefde vir die mitologie vermeng, is The Lost Botanist gebore.

Die Treweeks het die aanvanklike idee vir die rolprent by hul oom gekry, wat ’n plantkundige is.

“Baie VR-rolprente is net ’n skietery, maar ons wou iets doen wat nostalgies, wonderlik en hoopvol is – ’n droom wat ’n wye gehoor sal lok.”

Terwyl Ree as kunstenaar en kunsleier gehelp het om die wêreld in The Lost Botanist te skep en te illustreer, het Rick die animasie in die VR-wêreld uitgelê en lewe gegee. Die eindproduk het hulle albei oorbluf omdat nie een van hulle werklik opleiding in die skep van skynwerklikhede het nie.

Die suster en broer Ree en Rick Treweek met die VR-kopstukke waardeur ’n kyker hul animasierolprent The Lost Botanist kyk.

“Ons het net ’n idee gehad en het nie heeltemal geweet of dit gaan werk nie, maar ons het geweet dit kan spesiaal wees en het dit daarom nagejaag.

“Die ervaring in Frankryk (by die animasiefees) is vir ons so inspirerend en spesiaal – en dit het ons nou net aangepor om aan te hou met wat ons doen, want VR is nog nuut en daar is nog kans om byna te dikteer hoe dit verder moet ontwikkel – natuurlik wil ons nou deel van hierdie gesprek wees.”

Die boet en sus dink ook daaraan om The Lost Botanist in ’n groter projek te ontwikkel, veral omdat die rolprent nie sonder ’n VR-kopstuk toeganklik is nie.

“Ons weet VR-tegnologie is duur en is nog nie volop beskikbaar nie, maar daar gaan ’n tyd in die nabye toekoms wees wanneer dit wel bekostigbaar sal wees.

“Tot dan sal ons elemente van The Lost Botanist wil uitbrei sodat mense wat nie die fliek kan kyk nie, tog ook dié wêreld kan ervaar. Ons dink aan speelgoed, legkaarte, dalk ’n uitstalling of selfs iets soos ’n (TV-)reeks. Ons wil ons verbeelding vrye teuels gee en kyk waarheen dit ons lei.”

Meer oor:  Animasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.