Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA draaiboek-skrywers met Muse-pryse bekroon

Die draaiboekskrywers Anton Fisher, Louis Pretorius en Meg Rickards is onder ’n handvol skrywers in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf wat Maandag elk met ’n Muse-prys bekroon is.

Dié pryse word sedert 2013 jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Skrywersgilde (WGSA) uitgedeel om skrywers te vereer wat volgens die gilde “dikwels gesiglose en ongewaardeerde skeppers van vermaak-inhoud” in Suid-Afrika is.

Die gilde het vanjaar pryse in sewe kategorieë uitgedeel, insluitende skryfwerk vir rolprente, TV, dokumentêre, teater, radio, animasie en webreekse.

Fisher, vervaardiger en skrywer van die kortprent Address Unknown, was vanjaar die enigste pryswenner wat twee keer bekroon is: Hy het in die kategorieë vir beste draaiboek (kortprent, vervaardig) en beste Gautengse skrywer koning gekraai.

“Ek voel werklik nederig en geseënd dat ek met so ’n ongelooflike rolverdeling en tegniese span kon werk,” het Fisher op Facebook gesê.

“Dankie aan die Skrywersgilde.”

Anton Fisher Foto: Argief
Louis Pretorius Foto: Argief
Meg Rickards Foto: Facebook

Pretorius, onder andere skepper van die TV-treffer Die boekklub, het die prys vir beste TV-draaiboek (vervaardig) gewen, meer spesifiek vir die vyfde episode van die kykNET-regsdrama Fynskrif se derde reeks.

Hy is nie te verbaas dat die prys syne is nie, omdat hy in dié kategorie slegs teen homself meegeding het – hy is ook vir die draaiboek van die kykNET-komedie Kompleks en die twaalfde episode van Fynskrif se tweede reeks benoem.

“Die Muse-pryse is vir my as skrywer baie belangrik,” sê Pretorius aan Netwerk24. “Om erkenning te ontvang van die mense wat saam met jou in die bedryf staan, is ’n groot eer en een wat ek koester.

“Ek moedig alle skrywers aan om hulle by die gilde aan te sluit om sodoende ’n broodnodige kollektiewe stem vir skrywers in Suid-Afrika tot stand te bring.”

Ook Rickards het van oor tot oor geglimlag oor die prys wat sy ontvang het as medeskrywer van die komedierolprent Kaalgat Karel.

“Ek is versot op skrywers,” het Rickards op Facebook geskryf.

“Hulle word dikwels in die hele ekosisteem van rolprentvervaardiging vergeet, maar sonder hul stories sal geen rolprente of TV(-reekse) gemaak word nie. So dankie, WGSA, vir al die werk wat julle doen om skrywers te steun.”

Sy sê hoewel haar naam op die Muse-beeldjie staan, het sy die rolprent saam met Paul Egan, haar man, geskryf.

“Die idee oor ’n reeks-kaalnaeler (serial streaker) was syne. Skryf is ’n eensame aktiwiteit, so dit was werklik pret om iets saam met hom te skryf.”

Van die ander wenners sluit in Carol Shore en Maralin van Reenen vir die draaiboek van die dokumentêr Mother to Mother, asook Wilmi Wheeler vir haar radioteks Die huisbesoek. Wheeler het in 2019 die RSG-radiodramaslypskool, wat deur Kobus Burger aangebied is, bygewoon en in dieselfde jaar met Die huisbesoek die prys vir jong skrywers (jonger as 30 jaar oud) in RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie gewen.

Hier is die volledige wennerslys:

  • Beste draaiboek (animasie): Peter Goldsmid (Natiki)
  • Beste draaiboek (dokumentêr): Carol Shore en Maralin van Reenen (Mother to Mother)
  • Beste teaterteks: Ian Bruce (The Hard Way)
  • Beste radioteks: Wilmi Wheeler (Die huisbesoek)
  • Beste draaiboek (kortprent, vervaardig): Anton Fisher (Address Unknown)
  • Beste draaiboek (kortprent, nie vervaardig): Moso Sematlane (The Season of Hyssops)
  • Beste TV-draaiboek (vervaardig): Louis Pretorius (Fynskrif, episode 305)
  • Beste TV-draaiboek (nie vervaardig): Kerry von Lillienfeld (Amandla Power)
  • Beste draaiboek (vollengte rolprent, vervaardig): Meg Rickards (Kaalgat Karel)
  • Beste draaiboek (vollengte rolprent, nie vervaardig): Gavin Sher (Glavu)
  • Beste Gautengse skrywer: Anton Fisher
  • Beste opkomende skrywer: Dean Ravell (GBV)
Meer oor:  Kaalgat Karel  |  Kobus Burger  |  Gbv  |  Fynskrif  |  Die Boekklub  |  Kompleks  |  Suid-Afrikaanse Skrywersgilde  |  Wgsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.