Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA fliekmaker kry 2 internasionale verspreiders vir riller

Twee Suid-Afrikaanse rolprentmakers se jongste prent is pas deur twee groot internasionale verspreiders in onderskeidelik die VSA en Brittanje opgeraap.

Die skrywer en regisseur Henk Pretorius, onder meer bekend om ‘Bakgat’ en ‘Fanie Fourie’s Lobola’, se jongste rolprent is aan twee internasionale verspreiders verkoop. Foto: Paul Harries, Dark Matter Studios

Die skrywer en regisseur Henk Pretorius en die vervaardiger Llewelynn Greeff se rillerprent The Unfamiliar, met die Franse aktrise Jemima West, gaan deur Lionsgate in Brittanje en Vertical Entertainment in die VSA versprei word.

West – van The Mortal Instruments: City of Bones-faam, is te sien as ’n weermagdokter in die Britse taakmag wat van ’n oorlog na haar huis terugkeer. Sy is oortuig dat sy weens posttraumatiese stresversteuring vreemde dinge sien of dit haar verbeel. Tog blyk dit dat daar wel geeste in haar huis is. Die akteur Christopher Dane, bekend om EastEnders en Born of Hope, speel haar wederhelf.

Pretorius, hier bekend om gewilde komiese prente soos Fanie Fourie’s Lobola, Bakgat en Leading Lady, sê sy droom het uiteindelik waar geword.

“In ’n hoogs mededingende rolprentbedryf probeer baie mense jou terughou. Die kuns is om nie na hulle te luister nie, te fokus op dit wat jy gebore is om te doen en vorentoe te beur. Om die prent te skep, wat nou ’n wêreldgehoor gaan bereik, is ’n visie wat ek sedert my kinderjare koester.”

Die prent het geen verwysing na ’n spesifieke tydperk nie, vertel Pretorius. “Dit is ’n metafoor vir oorloë wat klaar gebeur het, of wat ook nog kan gebeur. Alle moderne tegnologie is uit die rolprent gehou en ouer karre is gebruik, ook ouer selfone. So in my kop kan dit dalk net voor 2014 afspeel met ‘Operation Herrick’, waar die Britse weermag die Amerikaanse troepe in Afganistan help veg het.

“Terwyl ons die prent geskryf het, was daar baie spanning in Midde-Ooste asook met die Islamitiese Staat (Isis) en dit het gelyk of dit kan ontaard in iets regtig tragies. Die Amerikaanse president het net nou die dag generaal Qasem Soleimani laat skiet, ’n Irannese generaal-majoor, so die spanning is nog steeds aan die broei.”

Die plakkaat vir ‘The Unfamiliar’.

Jennifer Nicole Stang, ’n Kanadese skrywer en regisseur, het saam met Pretorius die draaiboek geskryf.

Die riller- of gruwelgenre gee hom die geleentheid om ’n ernstige boodskap onder die dekmantel van vermaak aan te bied. “Ek kon ook dieper delf in die psige van mense wat graag na ’n gruwelprent wil kyk. Jy moet die heeltyd die spanning opbou, en die kyker op die punt van hul stoel hou. Ek glo dat lande nie moet inmeng met ander lande se regerings en ideologie nie, en daarom leer die hoofkarakter dat sy eerder moet tuis bly en haar familie veilig hou. Dit word alles in die subteks ontleed en ek hoop dat die prent ’n gesonde debat sal ontlok. Ek probeer nooit preek in my flieks nie, so die vrae word oop gelos vir die kyker om self oor te besluit.”

Hy wou ook ’n ander lig werp op die toeristebestemming Hawai, waar die prent deels afspeel. “Hawai het ’n ryk mitologiese kultuur, wat die inwoners eintlik glad nie met toeriste deel nie, en dit vorm deel van die komponent van die ‘unfamiliar’ in die prent. Enige land en enige groep mense is vir my interessant en verdien hul eie stem en insig in die wêreld. Die Westerse boksie waarin ons mense probeer druk, werk nie altyd nie en kan selfs gevaarlik wees.”

Die prent word op Cannes se virtuele rolprentmark van 22 Junie tot 26 Junie bekend gestel. Weens die Covid-19-pandemie vind al die bedrywighede van die gesogte mark en fees aanlyn plaas.

Pretorius en Greeff bly voltyds in Brittanje. “Ons spog dat ons die eerste positiewe Brexit-storie is. Natuurlik is dit ironies, want ons is Suid-Afrikaners. Llewelynn is al 17 jaar in Brittanje en ek het vir twee jaar in Los Angeles gebly voordat ek in 2017 hierheen getrek het.”

Hulle verkies Brittanje omdat die bedryf meer uiteenlopend is as byvoorbeeld Hollywood. “Met ’n meer diverse bedryf is daar ook meer geleenthede vir fliekmakers wat hul eie ding wil doen. Ons het harder gewerk en was te hardegat om te luister. Niemand wou hierdie prent finansieel steun nie. Nou wil vier maatskappye dit koop, en ons kon die beste twee kies.”

  • The Unfamiliar word in Oktober in Suid-Afrika, September in Brittanje uitgereik en in Augustus in die VSA.
Meer oor:  Fliek  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.