Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA flieks soos ‘Fiela’ op aanlyn indie-fees

Rolprentvrate wat reeds hul gunsteling-stromingsdiens se aanbod deurgedraf het, het danksy die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Rolprentfees (Saiff) binnekort nog sowat ’n honderd aanbiedinge om van te kies.

Saiff, wat vir die eerste keer in 2018 aangebied is, vind vanjaar van 14 tot 30 Augustus plaas – dié keer weens die Covid-19-pandemie geheel en al aanlyn.

Hoewel die fees die afgelope twee jaar in talle venues oor Suid-Afrika heen aangebied is, verbreed vanjaar se digitale kinkel ook die fees se grense: Enigiemand in enige Afrika-land sal vanuit die gemak van hul huis die fees se aanbiedinge kan stroom.

Die fees se program sluit oudergewoonte weer inhoud in sewe kategorieë in: kortprente (fiksie), vollengte-fiksierolprente, vollengte-dokumentêre, kort dokumentêre, musiekvideo’s, virtuele werklikheid, en inhoud waarin waaghalse hul staal toon. Dié kategorieë sluit animasierolprente in.

Rolprente van onder meer Amerika, Australië, Brittanje, China, Estland, Frankryk, Ghana, Kanada, Libanon, Namibië, Nigerië, Portugal en Zimbabwe is op die program.

Suid-Afrikaanse rolprente skitter natuurlik ook op die fliekspyskaart. Van die hoogtepunte sluit in die skrywer-regisseur Brett Michael Innes se weergawe van Fiela se kind, wat vroeër vanjaar met die prys vir beste rolprent en die beste draaiboek by die Saftas bekroon is.

Die aktrise Amalia Uys is ook te sien in Innes se kortprent Blue Dress. Uys vertolk die rol van Claire, ’n vrou wat deur ’n man aangerand word. Jare later versoek die aanvaller om Claire te ontmoet sodat hy om vergifnis kan smeek.

Die aktrise Amalia Uys in ‘Blue Dress’. Foto: IMDB

Die aktrise Jennifer Steyn, wat verlede jaar saam met Marc Lottering in die musiekspel Aunty Merle – It’s a Girl! te sien was, vertolk die hoofrol in die wêreldpremière van die skrywer-regisseur Felix Seuffert se kortprent Heirloom. Die rolprent, wat byna geen dialoog het nie, fokus op ’n vrou wat ná die dood van haar lewensmaat ingelig word van ’n afskeidsgeskenk waarvan sy nie bewus was nie.

Die akteurs Deon Lotz, Soli Philander en Dillon Windvogel gaan ook die lagspiere prikkel in Mr The Fastest. Dié donker komedie vertel die verhaal van ’n voormalige motorrenjaer wat weer agter die stuur moet inklim om ’n nuwe uitdager ore aan te sit.

Ander Suid-Afrikaanse hoogtepunte sluit in die kortprente Ninth Life Crisis, Oasis, PB&J, The Company’s Garden, The Number en Umama; die vollengte-rolprente Aya, Last Broken Darkness en The Last Victims; die kort dokumentêre Beyond the Fence, Beautiful in My Skin, The Armstrongs en Thirsty Land; die musiekvideo’s van die liedjies “Die deur” deur die aktrise Christia Visser en “Rainmaker” deur die Djembe Monks; en die waaghalsvertonings Abhay, Escape, Hall Fight, Samson en Ou Brasse.

Die aktrise Christia Visser in die musiekvideo van haar enkelsnit ‘Die deur’.

Kaartjies kos R40 per aanbieding. Feeskaartjies wat ’n versameling rolprente insluit, of toegang tot al die rolprente in ’n spesifieke kategorie bied, is ook beskikbaar: ’n Brons feeskaartjie kos R69, ’n silwer feeskaartjie R99,99 en ’n goue feeskaartjie R259,99.

Kaartjies kan op https://saiff2020.eventive.org/welcome gekoop word. Meer inligting is ook op dié webblad én http://saindiefilmfest.com/ beskikbaar.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Marc Lottering  |  Flieks  |  Soli Philander  |  Brett Michael Innes  |  Deon Lotz  |  Fiela Se Kind  |  Christia Visser  |  Indie  |  Dillon Windvogel  |  Saftas  |  Safta  |  Amalia Uys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.