Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA kry eerste ‘waghond’ vir sekstonele op stel
Sara Blecher

Die Suid-Afrikaanse regisseur Sara Blecher, bekend om die rolprent Dis ek, Anna, is pas aangestel as Suid-Afrika se heel eerste intimiteit-koördineerder.

Sy word ingeroep om toe te sien na die welstand van akteurs tydens naak- en sekstonele. Sy werk nou saam met die regisseur en die akteurs in dié tonele sodat dit sonder voorval verloop en geloofwaardig voorkom. Dié werk is reeds algemeen oorsee.

“Alle rolprentbedrywe in die wêreld het dit nodig. Dit is ’n revolusionêre stap vir die plaaslike bedryf; die feit dat ons dit nog nooit voorheen gehad het nie, is skandelik.”

Sy het die eerste keer bewus geword van die tipe werk met ’n demonstrasie op die internasionale rolprentfees in Berlyn – dit is reeds algemene praktyk in Amerika, Brittanje en Australië.

Dit is nie verpligtend om intimiteit-koördineerders op stel te hê nie. “Nie hier of enige plek in die wêreld nie, maar al hoe meer vervaardigers stel sulke koördineerders aan. HBO het dit onlangs verpligtend gemaak dat so iemand op hul stelle moet wees.”

Blecher is deur die Johannesburgse akteur- en bestuursagentskap Talent-ETC in die pos aangestel.

In ’n onderhoud het sy haar werk bestempel as soortgelyk aan dié van ’n waagtoertjie-koördineerder – sy is daar om die veiligheid van die akteurs in gesimuleerde sekstonele te waarborg en te sorg dat dit so natuurlik en oortuigend as moontlik voorkom.

Blecher het ook verlede jaar die nieregeringsorganisasie Swift (Sisters Working in Film and Television) gestig, wat hulle bewyer vir die veiligheid van vroue wat in die bedryf werk.

“In die nadraai van die #MeToo-beweging oorsee het vervaardigers al hoe meer daarvan bewus geword dat hulle aanspreeklik gehou gaan word vir seksuele teistering op hul stelle. Daarom is dit bloot onverantwoordelik om nie ’n intimiteit-koördineerder op stel te hê sodat die tonele veilig en sonder voorval verloop nie. ”

Sy sien wel verandering. “Daar is ’n sterker bewustheid van vroue se veiligheid. Op die oomblik is dit veral vroue wat praat oor wat met hulle gebeur op stel, hoe meer hulle gehoor word, hoe beter sal hul stemme opklink. Onder die mans is die verandering stadiger; ek bespeur egter wel ’n begeerte om te verander. Daar is nog ’n gebrek aan sensitiwiteit rakende die uitbeelding van vroue op die skerm.”

Blecher se debuutprent was Otelo Burning, wat handel oor swart branderplankryers aan die Durbanse kus wat danksy branderplankry van ’n lewe van armoede in die township ontsnap. Dit is deur CNN as een van die top-rolprente uit Afrika aangewys. Dit het sewentien internasionale pryse verower.

In 2016 is sy bekroon met ’n Safta as beste regisseur vir haar prent Dis ek, Anna wat gegrond is op Anchien Troskie se gelyknamige biografiese roman.

Meer oor:  Sekstonele  |  Sara Blecher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.