Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA loket bloei met R1 miljard weens pandemie

Die Covid-19-pandemie het fliekgangers verlede jaar tuis vasgekluister en yslike verliese by die Suid-Afrikaanse loket veroorsaak. Sal hulle na rolprentteaters terugkeer? Ja, sê kenners aan Christiaan Boonzaier.

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse loket het verlede jaar meer as R1 miljard minder as in 2019 weens die aanslag van die Covid-19-pandemie verdien.

Dié yslike finansiële knou is vervat in ’n jaarverslag, bekend as Box Office Report South Africa (January-December 2020), wat onlangs deur die Nasionale Rolprent-en-Video-stigting (NFVF) saamgestel en uitgereik is.

Luidens die verslag het slegs sowat R214 miljoen verlede jaar by die loket ingerol in vergelyking met die R1,22 miljard wat in 2019 aangeteken is.

Verlede jaar se inkomste is nie net verreweg die kleinste bedrag wat sedert 2010 verdien is nie (sien grafika), maar is meer as 83% minder as die R1,31 miljard wat die NFVF in 2019 voorspel het die plaaslike loket in 2020 in sy sak sou steek.

Dr. Anna-Marie Jansen van Vuuren, ’n dosent van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) se rolprentprogram en navorser oor die Suid-Afrikaanse rolprentwese, sê aan Netwerk24 dié verliese is nie eintlik “verbasend” nie.

“Rolprentteaters was letterlik van einde Maart tot einde Augustus gesluit – dit is vyf maande, byna die helfte van die jaar.

“Tussen Junie en Augustus het beleidmakers ook arme rolprentverspreiders en die eienaars van rolprentteaters aan ’n lyntjie gehou deur nie vir hulle te sê wanneer hulle mag heropen nie. Toe rolprentteaters uiteindelik weer kon oopmaak, het dit nog etlike weke geduur om die fynere besonderhede te bevestig, soos of daar 50 mense in ’n teater mag wees of slegs 50 mense op ’n rolprentteater se hele perseel.

“Ek dink regtig nie die regering het in daardie stadium die mense in kreatiewe bedrywe ’n guns bewys nie.”

Die NFVF se verslag, wat saamgestel is uit data wat deur plaaslike rolprentverspreiders verskaf is, teken in besonderheid aan wat presies verlede jaar die uitwerking van die pandemie op die Suid-Afrikaanse loket was.

Van hul sleutelbevindinge sluit die volgende in:

  • Fliekgangers het in Januarie (2020) meer as dubbeld soveel geld by die loket uitgegee as in Januarie 2019, maar die goeie nuus stop daar. In Februarie en Maart verlede jaar – toe die eerste koronavirus-gevalle in Suid-Afrika bevestig is en die vlak 5-inperking boonop ingestel is – is meer as R145 miljoen minder verdien as in die ooreenstemmende tyd in 2019.
  • Die loket het van April tot Julie verlede jaar nie ’n sent verdien nie – ’n verstommende teenstelling met die sowat R539 miljoen wat in die ooreenstemmende tyd in 2019 ingestroom het.
  • Nadat rolprentteaters weer in Augustus (2020) kon heropen, kon slegs sowat R83 miljoen tot die einde van die jaar verdien word – nie naastenby die inkomste van sowat R465 miljoen wat van Augustus tot Desember 2019 verdien is nie.
  • Slegs 96 nuwe rolprente is verlede jaar in Suid-Afrika uitgereik in vergelyking met ’n gemiddeld van 211 wat elke jaar vanaf 2010 tot 2019 die lig gesien het.
  • Slegs ses nuwe Suid-Afrikaanse rolprente is verlede jaar in Suid-Afrika uitgereik, in vergelyking met 22 in 2019.
  • Suid-Afrikaanse rolprente het van 2010 tot 2019 jaarliks ’n gemiddeld van R65,5 miljoen per jaar by die loket verdien – ’n bedrag wat verlede jaar tot R7,6 miljoen gekrimp het (sien grafika). Uit die ses plaaslike rolprente wat uitgereik is, het die romantiese komedie Vergeet my nie die meeste geld verdien (R3,7 miljoen), gevolg deur Toorbos (R1,4 miljoen), Poppie Nongena (R1,1 miljoen), Bhai’s Café (R617 920), Knuckle City (R558 936) en Flatland (R26 835).
  • Slegs vyf rolprente kon meer as R10 miljoen verdien: Bad Boys for Life (R51,4 miljoen), The Croods: A New Age (R12,5 miljoen), Dolittle (R11 miljoen), Wonder Woman 1984 (R10,6 miljoen) en Sonic the Hedgehog (R10,5 miljoen).

Luidens die verslag is dit opmerklik dat talle groot rolprente wat verlede jaar uitgereik moes word, uitgestel is en eers vanjaar op die grootskerm sal draai. ’n Handjievol van dié uitreikings is ook eerder op stromingsdienste gestroom. Dít het tot die bedryf se lelike knou bygedra.

Nee, rolprentteaters in SA gaan nié ‘doodgaan’

Volgens kenners is dit nie neusie verby vir rolprentteaters in Suid-Afrika nie, ondanks fliekgangers se vrese oor die koronavirus, die herlewing van inryteaters en stromingsdienste wat al hoe meer die oorhand kry.

Dr. Anna-Marie Jansen van Vuuren Foto: Verskaf

Jansen van Vuuren meen dat NFVF-syfers oor die afgelope vyf jaar bewys dat Suid-Afrikaners tog daarvan hou om in tradisionele rolprentteaters te gaan fliek.

“Máár die meeste Suid-Afrikaners sal vir jou sê dat dit die hoë koste van fliekkaartjies, asook duur versnaperings, is wat hulle vantevore verhoed het om gereeld by tradisionele rolprentteaters uit te kom,” sê sy.

“Met die ekonomie wat in die moeilikheid is, gaan die eienaars van tradisionele rolprentteaters moet dink aan ’n nuwe besigheidsplan en/of -model om mense terug te lok, want terwyl almal hul geldjies omdraai, bly dit ’n luukse om na ’n rolprentteater te gaan.”

Sy sê dit is waar dat die pandemie fliekgangers, ook die ouer garde, gedwing het om alternatiewe soos Netflix te oorweeg.

“Tog was ek so drie weke gelede by die Cinema Nouveau-teater in Rosebank, Johannesburg – en dit op ’n Sondag-laatmiddag, wat ek nie sou beskou as ’n tyd wat baie mense sal gaan fliek nie – en daar was regtig baie mense. Die bestuurder het vir my gesê daar was ’n hele aantal nuwe uitreikings en dat hy glo dít die rede is hoekom soveel mense op die betrokke dag kom fliek het. Dit wys jou net dat goeie inhoud mense lok. Ja, ons kan dramas en komedies gerieflik by die huis op ’n digitale skerm geniet, maar wat van 3D en rolprente met visuele effekte?”

Leon van Nierop, skrywer en resensent par excellence, stem saam en sê dat die “verstaanbaar dramatiese” afname by die loket die indruk skep dat teaters “doodgaan” – dit is egter nie “heeltemal waar” nie.

Leon van Nierop Foto: Peter Whitefield

“Dit is ’n tydelike probleem. Wanneer mense ingeënt is, sal die vrees en onsekerheid oor of flieks ‘veilig’ is, ook afneem.”

Hy sê een van die hoofredes vir die afname, wat altyd binne die konteks van die pandemie geplaas moet word, is die mededinging van stromingsdienste.

“Mense rig hul televisiekamers amper soos fliekteaters in. Dit is egter ’n tweesnydende swaard. Volgens navrae aan fliekgangers het ek die volgende reaksie gekry: Mense verkies tuisfliek omdat hulle nou uit die gewoonte is om te gaan fliek, maar hulle mis die samehorigheidsgevoel om saam met ander te fliek.”

Van Nierop sê ’n rolprent soos Godzilla vs. Kong, wat onlangs uitgereik is, het in Suid-Afrika uitstekend in rolprentteaters gevaar, al kan ’n mens dit ook stroom. Dít is een bewys dat mense vir “loketreuse” en “groot kanonne”, wie se uitreikdatums na vanjaar uitgestel is, steeds rolprentteaters toe sal stroom.

“Die soort rolprente wat (tans) in teaters gewys word, is nie aandagtrekkers nie en is meer vir die fynproewer, behalwe natuurlik groot flieks soos Godzilla vs. Kong en Mortal Kombat. Die res van die rolprente soos Every Breath You Take, Nomadland, Judas and the Black Messiah en Voyagers is rolprente wat gewoonlik Cinema Nouveau toe sou gaan. Dus sal jy nie maklik die gerief van jou huis verlaat om hierna te gaan kyk nie, wat ook die indruk skep dat teaters doodgaan.”

Hy sê daar word in die volgende ses maande rolprente soos A Quiet Place Part II, The Conjuring: The Devil Made Me Do it, Cruella, Fast & Furious 9, Tom Cruise se Top Gun: Maverick en Mission: Impossible 7, asook Scarlett Johansson se Black Widow uitgereik, wat mense op die grootskerm móét sien.

“Dit is gemaak vir die reuse-skerms van groot teaters en ‘verdwyn’ op plasmaskerms. Dit is ook die soort rolprente wat jy met ander mense wil deel – die sogenaamde ‘sosiale ervaring’ – en daardie uitreikings sal bewys of mense sal teruggaan teaters toe.

“My persoonlike mening: O ja, hulle sal teruggaan, want honderdduisende het vir Godzilla vs. Kong teruggegaan.”

Hy sê ’n mens moet ook nie vergeet dat tuisfliekgangers al hoe meer aan “grotkoors” begin ly nie.

“Hulle raak moeg vir hul eie voor- en televisiekamers. Dit is juis hulle wat nou terugkeer teaters toe.”

En hulle sal ook terugkeer omdat die tye en wette gaan verander, sê hy.

“Meer mense sál teruggaan fliek toe wanneer meer fliekgangers in teaters toegelaat word, veiligheid natuurlik in ag genome. Ja, flieks het swaargekry terwyl hulle gesluit was en natuurlik sou hul syfers gedaal het, maar dit gaan stadigaan weer optel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.