Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA regisseur wen 2 pryse op gesogte rolprentfees
Godisamang Khunou het die DOK Industry-ontwikkelingsprys van €5 000 op die DOK Leipzig-rolprentfees in Leipzig, Duitsland, ontvang. Die prys is aan haar oorhandig deur dr. Eva-Maria Stange, die Duitse staat Sakse se minister van wetenskap en kuns. Foto: Facebook/Susann Jehnichen

Die Suid-Afrikaanse regisseur Godisamang Khunou het twee ontwikkelingspryse ter waarde van €6 000 op die gesogte DOK Leipzig-rolprentfees in Leipzig, Duitsland, gewen.

Khunou het die DOK Industry-ontwikkelingsprys van €5 000 ontvang vir haar dokumentêre reeks Black Women and Sex, wat vroue in Afrika se seksuele kwessies in oënskou neem.

Dié prys vir vroueregisseurs is vanjaar vir die eerste keer toegeken en word deur die Duitse staat Sakse se departement van kuns geborg. Die prys is deur dr. Eva-Maria Stange, die minister van wetenskap en kuns, aan Khunou in Leipzig oorhandig.

Die paneel, bestaande uit Toni Bell, Anca Paunescu en Katja Wildermuth, het Khunou se “unieke en dapper stem” geloof en gesê dat “vroue in die hele Afrika-diaspora aanklank by die projek sal vind”. Khunou het 19 ander regisseurs om die prys geklop.

Daarby het sy ook die Zonta Club-ontwikkelingsprys van €1 000 ontvang, waarmee ’n “talentvolle vrou haar reis- en verblyfkoste kan delg om haar netwerk te verbreed”.

Khunou het op die dokumentêr se Facebookblad geskryf sy is in ekstase oor albei pryse.

“Ek is bly dat ’n projek waarin ek glo en wat ’n hartsprojek is, plaaslik en internasionaal erkenning kry. Die beste lê nog voor!”

Sy het vroeër vanjaar op die Durban FilmMart, wat deel van die Durbanse Internasionale Rolprentfees is, die DOK Leipzig-prys vir Black Women and Sex gewen. Dié prys het haar in staat gestel om die DOK Leipzig-rolprentfees by te woon.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: www.dok-leipzig.de, www.durbanfilmmart.co.za, www.facebook.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.