Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA rolprentbedryf gaan ‘Jerusalema’-kortprent maak

Honderde werknemers in die Suid-Afrikaanse rolprent- en TV-bedryf gaan op Erfenisdag saamspan om ’n kortprent te vervaardig wat deur die liedjie “Jerusalema” geïnspireer is.

Die musiekvideo van Master KG (links) en Nomcebo Zikode se liedjie ‘Jerusalema’ is reeds meer as 150 miljoen keer op YouTube gekyk. Foto: Twitter

Die regisseur Calvin Hayward het die idee vir die kortprent bedink nadat Master KG en Nomcebo Zikode se liedjie opspraak gemaak en tot ’n wêreldwye dansuitdaging, bekend as die #JerusalemaDanceChallenge, gelei het.

Hayward se idee is om ’n kortprent met ’n fiktiewe storielyn te skiet. Die storielyn sal dan deur honderde rolprentlui aangevul word wat die #JerusalemaDanceChallenge op Erfenisdag aanpak – toevallig die dag wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs voorgestel het Suid-Afrikaners aan die dansuitdaging deelneem.

Hayward sê aan Netwerk24 hy en sy span het drie doelwitte wat hulle graag met die projek wil bereik.

“Ons wil rolprentspanne en rolverdelings uit saamhorigheid weer bymekaarbring.

“Dit is ook ’n geleentheid om fondse vir kospakkies in te samel wat ons aan die families van rolprentlui wil skenk wat erg onder Covid-19 deurgeloop het.

“En dit is natuurlik ook ’n geleentheid om ’n boodskap aan die wêreld te verkondig – dat Suid-Afrika (en Suid-Afrikaanse rolprentlui) weer gereed is om aan die werk te spring!”

Hoewel besonderhede oor die kortprent nog ’n geheim is, sê die vervaardiger Theresa van Graan, wat help om die projek te bemark, dat die rolverdeling Tyrone Keogh, Shamilla Miller en Zendaya Muringani insluit. Dit sal deur Hayward en Abongwe L. Booi geregisseer word. Die vervaardigers is Cheryl Eatock en James Muringani.

Die plakkaat wat die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf se Jerusalema-projek adverteer.

Van Graan sê die rolprentlui sal die dans in groepe van 100 aanpak om die Covid-19-regulasies te gehoorsaam. Hulle sal eers die choreografie leer voordat hulle dit op ’n rolprentstel sal uitvoer wat spesiaal vir die geleentheid by Cape Town Film Studios opgerig is.

“Ons mik geensins na ’n rekord nie, maar ons hoop dat baie mense opdaag om hul ondersteuning vir die rolprent- en TV-bedryf te wys. Ons syfers (die mense wat gaan deelneem) groei stadig maar seker,” sê sy.

Sy sê Master KG en Zikode gaan nie aan die projek deelneem nie.

“Ons het uitgereik na hom (Master KG), maar hy kon ongelukkig nie tyd in sy skedule inruim nie.”

Van Graan sê die dag se verrigtinge sal op die Instagram-profiel sa_film_industry_jerusalema_challenge met die hutswoorde #FilmingInSouthAfricaIsOpen en #SouthAfricanFilmJerusalemaChallenge vasgevang word.

Volgens ’n mediaverklaring word die projek ondersteun deur die plaaslike regering en die handelsbevorderingagentskap Wesgro, asook Cape Town Film Studios, Media Film Service, The Refinery (Post), Panavision, Film Afrika Fresh Unit Logistics, Steers, Debonairs Pizza, Fleet Star, Sterling Logistics, Bluewater, en CCPP Equipment Rental.

Enigiemand in die rolprent- of TV-bedryf wat graag aan die projek wil deelneem, kan hier registreer: https://bit.ly/35Nhvxd.

Suid-Afrikaners word ook aangemoedig om koopbewyse op https://bit.ly/33G0RNi en https://bit.ly/2HdG2Bh vir rolprentlui te koop en dit na 083 788 8838, cheryl@filmafrikaproduction.com of jamesmuringani@me.com te stuur. Skenkings kan ook op Erfenisdag by Cape Town Film Studios afgelaai word.

Stuur ’n e-pos na metalmoon@ion.co.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.