Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA rolprentmaker wen R3 miljoen met kortprent

’n Dokumentêre kortprent wat in net drie dae verfilm is het ’n rolprentmaker van Ballito die topprys van $200 000 (sowat R3 miljoen) in die internasionale My Rode Reel-kortprentkompetisie besorg.

Timothy Hay (38), heeltyds regisseur en kamera-operateur by Hellmot Productions, het met sy weninskrywing, Amanzi Olwandle (Ocean Water), sowat 10 000 ander inskrywings vanuit 114 lande uitgestof om eindelik koning te kraai.

Hay, wat ook verlede jaar die jaarlikse Cape Union Mart Adventure Film Challenge gewen het, sê hy het glad nie die My Rode Reel-prys verwag nie omdat hy sy inskrywing bloot as ’n hartstaak aangepak het om sy vaardighede as regisseur en kinematograaf te slyp.

“Ek was eintlik geskok,” sê hy oor die oomblik toe hy van sy prys ingelig is.

“Hulle het my eintlik sowat vyf dae voordat hulle die wenners (aanlyn) aangekondig het, gebel omdat hulle glo onderhoude met almal op die kortlys wou voer.

“In die onderhoud het hulle allerhande vrae oor die rolprent gehad – en teen die einde van die gesprek het hulle net gesê, terloops, jy ís die wenner.

“Ek was selfs nog oorbluf toe ek ’n paar dae later saam met vriende vir ’n naweek weggaan.”

Amanzi Olwandle vertel die ware verhaal van Avuyile (Avo) Ndamase wat gereeld in Port St. Johns gaan branderplankry, op dieselfde plek waar sy broer dekades tevore deur ’n haai doodgebyt is.

Avuyile ‘Avo’ Ndamase vertel self sy storie in die regisseur Timothy Hay se dokumentêre kortprent ‘Amanzi Olwandle (Ocean Water)’.

Hay het via ’n vriend van Ndamase se storie gehoor en hom (Ndamase) genader met sy idee vir die kortprent. Hay sê toe Ndamase die groen lig vir die projek gee, het alles baie vinnig gebeur. Benewens Ndamase, wat self in die rolprent verskyn, is twee jong akteurs, Mphathi Ndlovu en Sanele Antiono Mthethwa, ingespan om Ndamase en sy broer in terugflitse van hul kinderdae te vertolk. Dit is in net drie dae in Sinangwana aan die Suid-Afrikaanse suidooskus verfilm.

“Ons het nogal gejaag – ek het net my motor gepak, my toerusting gegryp en ’n paar ouens (Kyle Smith en Dylan Theron) gesmeek om die projek saam met my aan te pak.

“Hulle het dadelik ingestem, hulle het nie eens betaling verwag nie. Ek kon dit in elk geval nie bekostig om hulle te betaal nie, ek het net genoeg geld gehad om die reis en almal se verblyf en kos te betaal.”

Van links: Ndamase, Mphathi Ndlovu, Sanele Antiono Mthethwa en Hay.

Hy sê die rede hoekom hy so begeesterd oor die projek was, was omdat Ndamase se storie hom so aangegryp het.

“Ek wou nog altyd ’n roerende storie in die Transkei skiet – en Avo se storie is beslis dít. Hy is die tipe ou wat mal is oor branderplankry. Hy praat baie, hy het baie kennis, en hy is ook baie spiritueel, wat ek ook in die kortprent wou wys.

“Elke oggend was hy, byvoorbeeld, eers sy hande net soos hy en sy broer gedoen het toe hulle kinders was. Hy stap ook dieselfde paadjie tot op die strand en ry branderplank op dieselfde plek as destyds saam met sy broer. En hy (Ndamase) is nie meer bang vir die water of vir haaie nie, want hy gaan eintlik om sy broer te ‘sien’, om sy broer te ‘besoek’, elke keer wanneer hy branderplankry. Sy broer se gees is met hom wanneer hy in die water is.”

Die hele span saam. Agter (van links) staan Kyle Smith, Ndamase, Hay en Dylan Theron. Voor staan Mthethwa en Ndlovu.

Dit is juis daarom hoekom Hay sê die rolprent belangrik is – kykers kan daaruit ’n les leer.

“Avo het gesien hoe die haai sy broer aanval, maar hy ry steeds vreesloos branderplank op die Suid-Afrikaanse kus. Hy het aanbeweeg en hy is nie meer bang nie, hy klou nie aan sy vrees vas nie. Dit is belangrik dat mense sien hoe dit lyk om aan te beweeg. As jy bang is vir dít waarvoor jy lief is, dan hou jy jouself eintlik in die lewe terug.”

Hay het benewens ’n kontantprys sowat 20 stukke Rode-toerusting en -bykomstighede gewen.

  • Hay se weninskrywing kan hier bo op Netwerk24 gekyk word, maar is ook by https://myrodereel.com/watch/9470 en op YouTube beskikbaar.
Meer oor:  Port St. Johns  |  Fliek  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.