Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA rolprentmakers wen groot by Durban FilmMart

Suid-Afrikaanse rolprentmakers het Sondag die voortou geneem toe die pryswenners van die 11de Durban FilmMart (DFM) aangekondig is.

Sara CF de Gouveia Foto: Durban FilmMart

Dié rolprentmark bied jaarliks ’n platform vir rolprentmakers dwarsoor Afrika om hul rolprentprojekte voor te lê en dan om finansiering vir die vervaardiging en verspreiding van dié projekte mee te ding.

Suid-Afrikaners het vanjaar nege pryse by die DFM verower, terwyl projekte vanuit die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Mosambiek en Uganda elk met twee pryse bekroon is. Projekte vanuit Egipte, Marokko, Togo, Tunisië en Zimbabwe het elk een prys gewen.

Sara CF de Gouveia, regisseur van die Safta-bekroonde The Sound of Masks, en die vervaardiger Natalie Geyser het saam vier van die nege pryse gewen wat aan die Suid-Afrikaners toegeken is.

Hulle het dié pryse vir hul dokumentêr The House is Burning ontvang. Dit vertel die verhaal van ’n jong meisie van Eersterivier wat ’n klimaatsaktivis word nadat sy die impak van die droogte in Kaapstad op haar gesin se inkomste en welstand beleef.

Die projek is benewens die DOK Leipzig-prys, die GZDOC-uitnodiging, en die DOK.fest München-prys ook deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) met R100 000 bekroon as die beste voorlegging op vanjaar se rolprentmark.

De Gouveia en Geyser sal danksy al dié pryse na Duitsland en China kan reis om daar verdere finansiering vir die dokumentêr te soek.

Matthys Boshoff Foto: Argief

Ander Suid-Afrikaanse wenners sluit in Matthys Boshoff, regisseur van Die verhaal van Racheltjie de Beer, wat saam met die vervaardigers Lucia Meyer-Marais en Jozua Malherbe die Sørfond-prys gewen het vir Vlees van my vlees – ’n vollengte verwerking van sy gelyknamige kortprent. Die prys sluit die bywoning van ’n slypskool en ’n geleentheid in Oslo, Noorweë, in om ook daar om finansiering mee te ding.

Die vervaardiger Khosie Dali en die regisseur Imran Hamdulay het die CineMart-prys vir hul projek The Accident ontvang, wat hulle toelaat om die Rotterdam Lab in Nederland by te woon, terwyl die regisseur Sara Chitambo met die IEFTA-prys vir haar vollengte dokumentêr Conti-Mental/Black People Don’t Get Depressed huis toe is.

Die NFVF het ook twee pryse van R50 000 elk vir onderskeidelik die projekte 12 Pangas en Behind High Walls toegeken.

Die DFM, wat weens die pandemie ook vanjaar aanlyn aangebied is, het vanjaar 230 inskrywings gelok, waarvan 32 gekortlys is. Rolprentmakers moes toe hul projekte voorlê.

Vanjaar het 26 projekte van Talents Durban, die DFM en die roemryke internasionale rolprentfees in Berlyn se gesamentlike opleidings- en ontwikkelingsprogram, asook ses Jumpstart-projekte, nog een van die DFM se ontwikkelingsprogramme, ook vir pryse in aanmerking gekom.

Besoek www.durbanfilmmart.co.za vir ’n volledige lys van wenners.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.