Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Ster van ‘My Octopus Teacher’ geloof ná Oscar-sege
Octopus Teacher
Pippa Ehrlich en James Reed met hul Oscars saam met die aktrise Marlee Matlin. Foto: Reuters

Die kurk van Suid-Afrikaners se sjampanjebottels kan amptelik hard klap: Die Suid-Afrikaanse dokumentêr My Octopus Teacher het Maandagoggend (SA tyd) die Oscar vir beste vollengte dokumentêr gewen.

Die rolprent, wat die sonderlinge vriendskap tussen die rolprentmaker Craig Foster en ’n seekat in Simonstad se ysige water bekyk, het die dokumentêre CollectiveCrip CampThe Mole Agent en Time geklop – en daarmee vermoedelik die eerste dokumentêr vanuit Afrika geword wat in dié kategorie met ’n Oscar-beeldjie vereer is.

Pippa Ehrlich en James Reed, die rolprent se regisseurs, het die prys vanuit Union Station in Los Angeles in ontvangs geneem.

Reed het op 'n vraag van 'n joernalis oor wat die dokumentêr so uniek maak, gesê die ster van die fliek (Craig Foster) het grotendeels self die verhaal op kamera vasgelê.

“Dankie aan die Akademie,” het Ehrlich oorbluf gesê toe sy die Oscar in ontvangs neem.

“Ek wil Craig Foster en sy gesin bedank, wat hul harte vir ons oopgemaak het, wat ons gesteun het, wat ons gevoer het en ons toegelaat het om hul huis vir drie jaar in ’n vervaardigingsmaatskappy te omskep.”

Ehrlich het ook hul produksievennote in Nederland, Off The Fence, Netflix, die kinematograaf Roger Horrocks en die Sea Change Project, wat hulle onder meer toespits op die bewaring van die Groot Afrika-seewoud, bedank.

“Ek weet daar is seker baie Suid-Afrikaners wat tans wakker is en die seremonie kyk. Hierdie storie is op talle vlakke ’n persoonlike storie wat in ’n seewoud aan die onderpunt van Afrika afspeel, maar op ’n meer universele vlak gee dit ons ’n kykie na ’n ander tipe verhouding tussen die mens en die natuurwêreld.”

Ehrlich het in September verlede jaar aan Christiaan Boonzaier gesê dat die dokumentêr eintlik al ’n dekade aan die kom is. Die organisasie Sea Change Project en Off The Fence het twee jaar aan die rolprent gewerk voordat dit aan Netflix voorgelê is. Die stromingsdiens was glo dadelik verlief op die projek en het die rolprentmakers toe die nodige finansiële steun gegee om die dokumentêr te voltooi. Dit is amptelik op 7 September op Netflix uitgereik, ook hier in Suid-Afrika.

“Ons het hierdie projek begin om ons ondervindinge van die seewoud en ons liefde vir die natuur te deel,” sê Ehrlich.

“Dit was ’n verrykende ervaring om die voorreg te hê om Craig se vriendskap met die seekat vas te vang. Dit het my toegelaat om die wêreld deur ’n ander spesie se oë te bekyk, wat ’n mens se perspektief verbreed.”

Die magiese onderwaterbeelde in die rolprent is deur Foster en Horrocks vasgevang. Horrocks, wie se werk ook in die dokumentêre minireekse Blue Planet II en Our Planet skitter, het dié beelde op kameras met ’n 6K-resolusie vasgevang.

Hul eindproduk is wêreldwyd geprys omdat dié beelde onder meer ’n illustrasie insluit van hoe seekatte stukke “gereedskap” gebruik om hulself teen haai-aanvalle te beskerm; hoe presies hulle op twee, drie of vier tentakels op die seebodem loop; en heel moontlik die eerste beelde van wilde koppotige diere – soos seekatte en pylinkvisse – wat speels raak.

Pippa Ehrlich Foto: Sea Change Project

Ehrlich sê hulle hoop om met die rolprent weer ’n sterk band tussen die mens en die natuur te bewerkstellig.

“Ons liefde vir die Groot Afrika-seewoud spruit uit ons daaglikse interaksie met hierdie ongelooflike plek. Ons verbind onsself daartoe om dié liefde en ondervinding met soveel as moontlik mense te deel.

“Ons hoop om, in ’n wêreld wat baie vinnig verander, ’n aandeel daarin te hê om weer lewe in ons oeroue verhouding met die natuur en die oseaan te blaas.”

Lees hier verder: Netflix-dokkie bekyk SA man se vriendskap met seekat

Foster het ook in September verlede jaar aan Murray la Vita vertel sy tyd met die seekat “was sekerlik die mees transformatiewe tyd in my lewe waarin ek van die grootste lesse geleer het”.

Foster het as rolprentmaker lang tye saam met die San in die Kgalagadi deurgebring en by hulle boekdele oor spoorsny geleer. Hy het gewonder of hy dié tegnieke in die see naby sy huis in Simonstad onder die water kon toepas – en hy het in die proses toe heel toevallig ’n vriendskap met ’n seekat aangeknoop, ’n seekat by wie hy boekdele oor die onderwaterwêreld geleer het.

Craig Foster Foto: Sea Change Project

“Die interaksies met my seekatleermeester was baie beslis op haar terme. Haar bui het nogal baie gewissel. Sy was oor die algemeen saggeaard en het my nooit, ooit gebyt nie. Daar was egter nie elke dag hierdie groot fisieke kontak tussen ons nie. Maar wanneer dit gebeur het, was dit baie, baie kragtig.

“Wanneer énige dier jou uit haar eie nader en fisiek kontak maak, is dit moeilik om nié daardeur geraak te word nie, selfs al ken jy daardie dier baie goed. Daar is iets misterieus wat gebeur en waarop jy nie jou vinger kan lê nie.

“Van my inheemse leermeesters het hieroor gepraat – wanneer daardie fisieke kontak plaasvind, is daar die een of ander misterieuse pakt wat tussen jou en daardie dier gesluit word.

“Maar ek kan nie maak of ek weet wat sý uit die ervaring gekry het nie. Haar brein [mind] is so anders as myne. Mense sê dit is ’n liefdesverhouding of wat ook al . . . Daar bestaan geen twyfel nie dat ek haar wél liefgehad het, maar wat in reaksie daarop gebeur, is debatteerbaar. Is die dier net nuuskierig? Is ek dalk vir haar bloot van nut as beskerming of wanneer sy jag? Of is daar iets anders?

“Kyk, sy is maklik so intelligent soos ’n hond of ’n kat, maar haar intelligensie is anders as dié van byvoorbeeld ’n hond. Twee derdes van haar kognisie is buite haar brein. [Byvoorbeeld in haar pote.] So, jy het te doen met ’n dier wat honderdmiljoene jare van ons verwyder is op die evolusionêre skaal, maar tóg is haar neurale samestelling nie so anders as ons s’n nie.”

Lees hier verder: Die seekat wat ek liefgehad het

Pryse by die dosyne

Die rolprent is wyd geloof en het voor vanjaar se Oscars wêreldwyd van die gesogste rolprentpryse ter wêreld gewen.

Dit sluit in ’n American Cinema Editors-prys, ’n Bafta-prys, twee Critics’ Choice Documentary-pryse, die prys vir beste rolprent by die EarthxFilm-rolpentfees, die prys vir beste regisseurs (aan Ehrlich en Reed) van ’n dokumentêr by die internasionale dokumentêre rolprentfees in Guangzhou, ’n Houston Film Critics Society-prys, ’n Producers Guild of America-prys, en vier Jackson Wild-pryse, wat beskou word as die Oscars vir wetenskap- en natuurdokumentêre.

Die Kaapse komponis Kevin Smuts is ook deur die International Documentary Association (IDA) vereer vir die rolprent se klankbaan. Hy het in Januarie vanjaar aan Elretha Britz gesê hy het net vier maande tyd gehad om dié musiek te komponeer.

Octopus is nie jou gewone natuurverhaal nie. Dit gaan oor die besonderse band tussen ’n mens en ’n dier en is in wese ’n liefdesverhaal – en dit is wat ek met my musiek moes verklank,” het hy gesê.

Kevin Smuts, wat ‘My Octopus Teacher’ se klankbaan gekomponeer het. Foto: Argief

“Craig het my genooi om saam met hom te gaan duik, maar die koue water is nie vir my nie. Dit was ook nie nodig om die kelpwoude in die Atlantiese Oseaan self te besoek nie, ek kon dit op die skerm sien – dit was absoluut asemrowend en dit is werklik nie moeilik om daardeur geïnspireer te word nie. Ek glo bitter min Suid-Afrikaners weet van die wonderwêreld onder die see.”

Smuts het klavier en strykinstrumente op sy rekenaar gegenereer en dit in 90% van die klankbaan gebruik. Barbara Kennedy voer ook ’n kort tjellostuk uit, terwyl Matthew Dennis ook sing.

“Die idee was nie om wysies te komponeer nie. Dit gaan oor ’n klankwêreld wat ’n sekere gevoel weergee.”

Lees hier verder: My Octopus Teacher  se komponis wen groot prys

Benewens dié prys het die IDA die Pare Lorentz-prys aan Foster, Ehrlich en Reed toegeken omdat hulle met My Octopus Teacher aan “die hoogste produksiewaardes en kunstenaarskap in regie, teks, komposisie, kamerawerk, redigering en navorsing” voldoen het.

Die Oscar-beeldjie wat hulle nou in hul sak gesteek het, span die kroon.

  • My Octopus Teacher is steeds in Suid-Afrika op Netflix beskikbaar.
  • Die Oscar-toekenningsplegtigheid word Maandag om 22:30 op DStv-kanaal 101 herhaal.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Kgalagadi  |  Our Planet  |  San  |  Guangzhou  |  Bafta  |  Groot Afrika-Seewoud  |  Sea Change Project  |  James Reed  |  Pippa Ehrlich  |  Dolby-Teater  |  The Mole Agent  |  Collective  |  Crip Camp  |  Fliek  |  My Octopus Teacher  |  Oscars  |  Time  |  Netflix  |  Flieks  |  Craig Foster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.