Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA seekat-dokkie wen nóg pryse

Die Suid-Afrikaanse dokumentêr My Octopus Teacher het sy opgang op die wêreldverhoog voortgesit en twee pryse op die Critics Choice Documentary Awards gewen.

Die dokumentêr, wat op 7 September op Netflix uitgereik is, het die prys vir beste kinematografie en beste wetenskaps- of natuurdokumentêr gewen.

Deadline berig naas Dick Johnson Is Dead, ook ’n Netflix-dokumentêr, is dit die enigste rolprent wat meer as een prys kon verower.

Volgens Pippa Ehrlich, die dokumentêr se regisseur, het die sonderlinge rolprent oor die besonderse vriendskap tussen ’n rolprentmaker en ’n seekat in Simonstad se ysige water nou reeds 17 pryse gewen – almal in die buiteland.

“Dit is vir ons ongelooflik om ’n Critics Choice te wen,” sê Ehrlich aan Netwerk24.

“Dit is verbysterend om ’n prys vir kinematografie in so ’n internasionale kompetisie te wen – alle eer aan (die kinematograaf) Roger Horrocks, (die rolprentmaker) Craig Foster en (die fotograaf) Warren Smart wat die rolprent so magies laat lyk. Ek is baie trots op die visuele wêreld wat ons geskep het.”

Ehrlich sê dit is ook ’n pluimpie vir Suid-Afrika dat hulle dié twee pryse gewen het.

“Deel van die rede hoekom ons internasionale kinematografiepryse wen, is omdat die seewoud (van die Suid-Afrikaanse kus) so beeldskoon en verrassend is, en ek dink dít is wat gehore bekoor.

“Dis ook verrassend om die prys vir beste wetenskaps- of natuurdokumentêr te wen, want ons het teen van die beroemdste regisseurs ter wêreld te staan gekom, maar ons wou hierdie rolprent maak om die aandag op die natuur te vestig, maar ook ons verhouding met die natuurwêreld. Ons het nie ’n tipiese natuurbewaringsrolprent gemaak nie, so dit is opwindend om erkenning daarvoor te kry.”

Pippa Ehrlich Foto: Sea Change Project

Benewens dié pryse het die rolprent ook in Oktober onder meer vier Jackson Wild Media-pryse gewen, wat as die Oscars vir natuurrolprente beskryf word. Ehrlich sê dié en ander pryse is werklik ’n verrassing – nie net omdat sy nie eers bewus was daarvan dat Netflix hulle vir kompetisies soos die Critics Choice ingeskryf het nie.

“Die reaksie op die rolprent oortref ons verwagtinge. Pryse is ongelooflik, maar wat vir my nog ongeloofliker is, is die e-posse wat ons van oor die wêreld heen kry van mense wat vertel hoe die rolprent hulle geraak het én hul siening oor die natuur verander het.

“Die feit dat dame Jane Goodall dit as een van haar gunstelingrolprente beskou en (die skrywer-aktivis) George Monbiot daaroor getwiet het . . . Hulle is my natuurbewaringshelde, so om deur hulle erken te word, is ook ongelooflik.”

Ehrlich sê sy was nie bewus van die Amerikaanse rolprentwebwerf IndieWire se insluiting van My Octopus Teacher op sy langlys van rolprente wat moontlik volgende jaar ’n Oscar-benoeming kan kry nie.

“Weet jy, ons het ’n buitekans daarvoor (’n Oscar). Ons weet nie of ons daarvoor kwalifiseer en wat Netflix se plan is nie. Dit gaan opwindend wees om te sien wat gebeur, en ek dink dit is ook vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf opwindend dat ’n plaaslike rolprent erken word.

“Maar ek moet weer benadruk: Pryse is net die versiering op die koek. Die feit dat so baie mense gewillig is om na jou storie te luister en daarop te reageer, is eintlik al wat ’n rolprentmaker wil hê.

“Ek hoop dat die rolprent ander soortgelyke natuurrolprente inspireer, want ons is tans op ’n mespunt gebalanseer en ons moet ernstig begin dink oor die wêreld wat ons vir ons kinders en hul kinders skep.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.