Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Saftas: ‘Griekwastad’ is beste rolprent!

Die Afrikaanse misdaadriller Griekwastad het Saterdagaand die topprys by die 15de Suid-Afrikaanse Rolprent-en-TV-pryse, oftewel die Saftas, gewen.

Die rolprent, wat gegrond is op Jacques Steenkamp se boek Die Griekwastad moorde: Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het, het die Netflix-drama Riding with Sugar en die riller Stam om die Safta vir beste rolprent geklop.

Jozua Malherbe, Griekwastad se regisseur, vervaardiger en kinematograaf, het ook rede om breed te glimlag nadat hy die Safta as beste regisseur van ’n vollengterolprent ontvang het – ’n kategorie waarin sy naam aanvanklik weggelaat is.

Netwerk24 het vroeër vandeesmaand berig die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF), wat die Saftas aanbied, het om verskoning gevra omdat hulle ná die aankondiging van die benoemingslys in April glo per ongeluk drie benoemings weggelaat het.

Benewens Malherbe se naam in die kategorie beste regisseur is ook die kortprent Address Unknown in die kategorie beste kortprent en Fowl Goblin in die kategorie beste studenterolprent op die aanvanklike benoemingslys uitgesluit.

Al drie dié weglatings het Vrydag- en Saterdagaand ’n Safta gewen.

Jozua Malherbe is vir sy regie van Griekwastad bekroon. Foto: kykNET
June van Merch het die Safta vir beste byspeelster in ’n TV-drama vir haar rol in Sara se geheim gewen. Foto: kykNET
Clint Brink het die Safta vir beste akteur in ’n sepie vir sy rol in Binnelanders ontvang. Foto: kykNET
Michelle Botes se rol in Legacy het haar die Safta vir beste byspeelster in ’n telenovela besorg. Foto: M-Net

Die NFVF het vanjaar se Safta-toekenningsplegtigheid weens die Covid-19-pandemie met ’n kinkel aangebied: Die seremonie het nie net oor twee opeenvolgende aande plaasgevind nie, maar dit is geheel en al virtueel, ook met ’n virtuele gehoor, aangebied.

Die Tussen ons-aanbieder Tracey Lange en die komediant en satirikus Coconut Kelz het Vrydagaand se verrigtinge behartig en die wenners aangekondig; Saterdagaand het Dineo Langa, Mpho Popps en Graeme Richards die leisels by hulle oorgeneem.

Die Netflix-komedie How to Ruin Christmas: The Wedding was vanjaar se grootste wenner – dit het agt beeldjies uit 13 benoemings ontvang, onder meer dié vir beste aktrise (Busisiwe Lurayi), beste byspeler (Desmond Dube) en beste redigering, klank, kunsregie, kostuums, grimering en haarstilering, asook kinematografie.

Die M-Net-telenovelas Legacy en The River is albei met ses Saftas bekroon. Michelle Botes het die Safta vir beste vroulike byspeler vir haar rol in Legacy gewen.

Rhythm City is as die beste sepie aangewys, Legacy as die beste telenovela, en die publiek het besluit Gomora is die gewildste sepie of telenovela in Suid-Afrika. Die publiek het ook vir die beste TV-aanbieder gestem, ’n prys wat eindelik aan Entle Bizana vir haar werk op Hectic on 3 oorhandig is.

Die plaaslike Netflix-dokumentêr My Octopus Teacher, wat in April ’n Oscar-beeldjie gewen het, het dié mylpaal met die Safta as beste natuur- of omgewingsprogram opgevolg.

Van die wenners wat veral kykers van Afrikaanse TV-programme en rolprente sal herken, sluit in die kykNET-sepie Binnelanders, wat die prys vir regie en beste akteur (Clint Brink) ontvang het; die kykNET-drama Tydelik terminaal, wat vir regie uitgesonder is; June van Merch, wat vir haar ondersteunende rol in Sara se geheim erken is; en James Borthwick en Martelize Kolver vir hul spel in die kykNET-komedie Hotel.

Die kykNET-maatsoekprogram Hoor my, sien my, soen my het die Safta vir beste program met ’n internasionale formaat gewen; Republiek van Zoid Afrika is as die beste verskeidenheidsprogram aangewys; die Maak my famous – Showcase het die Safta vir beste vermaakprogram in die sak gesteek; die dramarolprent Toorbos het twee Saftas verower, dié vir beste teks (René van Rooyen) en beste oorspronklike klankbaan (Andries Smit); en Tinarie van Wyk Loots en Tarryn Wyngaard is ook vir hul onderskeidelik hoof- en ondersteunende rol in Gat in die muur en Stam gehuldig.

Hier is die volledige wennerslys:

TV

Sepies

  • Beste sepie: Rhythm City
  • Beste regie: Binnelanders
  • Beste teks: Scandal!
  • Beste aktrise: Petronella Tshuma (Rhythm City)
  • Beste akteur: Clint Brink (Binnelanders)
  • Beste byspeelster: Masasa Mbangeni (Scandal!)
  • Beste byspeler: Mothusi Magano (Skeem Saam)

Telenovelas

  • Beste telenovela: Legacy
  • Beste regie: Gomora
  • Beste teks: The River
  • Beste aktrise: Sindi Dlathu (The River)
  • Beste akteur: Menzi Ngubane (Isibaya)
  • Beste byspeelster: Michelle Botes (Legacy)
  • Beste byspeler: Meshack Mavuso Magabane (The River)
  • Beste oorspronklike klankbaan: The River
  • Beste redigering: The River
  • Beste kinematografie: Legacy

Sepies / Telenovelas

  • Gewildste sepie of telenovela (deur die publiek aangewys): Gomora
  • Beste klank: The River
  • Beste kostuums: Legacy
  • Beste grimering en haarstilering: Legacy
  • Beste kunsregie: Legacy

Dramas

  • Beste drama: Blood & Water
  • Beste regie: Tydelik terminaal
  • Beste teks: Housekeepers
  • Beste aktrise: Kate Liquorish (Still Breathing)
  • Beste akteur: Brandon Auret (Still Breathing)
  • Beste byspeelster: June van Merch (Sara se geheim)
  • Beste byspeler: James Ngcobo (Queen Sono)
  • Beste redigering: Still Breathing
  • Beste klank: Blood & Water
  • Beste oorspronklike klankbaan: Lockdown
  • Beste kunsregie: Agent
  • Beste kostuums: Queen Sono
  • Beste grimering en haarstilering: Trackers
  • Beste kinematografie: Blood & Water

Komedies

  • Beste komedie: The Riviera
  • Beste regie: The Riviera
  • Beste teks: Black Tax
  • Beste aktrise: Busisiwe Lurayi (How to Ruin Christmas: The Wedding)
  • Beste akteur: James Borthwick (Hotel)
  • Beste byspeelster: Martelize Kolver (Hotel)
  • Beste byspeler: Desmond Dube (How to Ruin Christmas: The Wedding)
  • Beste redigering: How to Ruin Christmas: The Wedding
  • Beste klank: How to Ruin Christmas: The Wedding
  • Beste kunsregie: How to Ruin Christmas: The Wedding
  • Beste kostuums: How to Ruin Christmas: The Wedding
  • Beste grimering en haarstilering: How to Ruin Christmas: The Wedding
  • Beste kinematografie: How to Ruin Christmas: The Wedding

Ander TV-kategorieë

  • Beste TV-aanbieder (deur die publiek aangewys): Entle Bizana (Hectic on 3)
  • Beste TV-dokumentêr: Chasing the Sun
  • Beste kinematografie (dokumentêr): Chasing the Sun
  • Beste kinderprogram: Takalani Sesame
  • Beste kompetisie-werklikheidsreeks: Celebrity Mystery Box
  • Beste gestruktureerde of dokumentêre werklikheidsreeks: Pale Ya Kosa
  • Beste gestruktureerde werklikheidsreeks (sepie): Life with Kelly Khumalo
  • Beste program met ’n internasionale formaat: Hoor my, sien my, soen my
  • Beste opvoedkundige program: Made in SA
  • Beste dokumentêre program: The Devi Show
  • Beste aktuele program: Carte Blanche: Women’s Month Special
  • Beste verskeidenheidsprogram: Republiek van Zoid Afrika
  • Beste jeugprogram: Africa’s Biggest Brags
  • Beste vermaakprogram: Maak my famous – Showcase
  • Beste leefstylprogram: Come Again
  • Beste TV-fliek: Loving Thokoza
  • Beste natuur- of omgewingsprogram: My Octopus Teacher
  • Beste aanlyn inhoud: The Adventures of Noko Mashaba – Lockdown Shandis

Rolprente

Vollengte rolprente

  • Beste rolprent: Griekwastad
  • Beste regie: Jozua Malherbe (Griekwastad)
  • Beste teks: René van Rooyen (Toorbos)
  • Beste aktrise: Tinarie Van Wyk Loots (Gat in die muur)
  • Beste akteur: Tshamano Sebe (8)
  • Beste byspeelster: Tarryn Wyngaard (Stam)
  • Beste byspeler: Hakeem Kae Kazim (Riding with Sugar)
  • Beste kinematografie: Riding with Sugar
  • Beste klankontwerp: Riding with Sugar
  • Beste oorspronklike klankbaan: Toorbos
  • Beste redigering: Griekwastad
  • Beste produksie-ontwerp: Riding with Sugar
  • Beste kostuumontwerp: Riding with Sugar
  • Beste grimering en haarstilering: Triggered

Dokumentêre

  • Beste dokumentêr: How to Steal a Country
  • Beste regie: How to Steal a Country
  • Beste redigering: How to Steal a Country
  • Beste klank: How to Steal a Country
  • Beste kortprent: Lindela Under Lockdown

Ander rolprent-kategorieë

  • Beste kortprent: Address Unknown
  • Beste studenterolprent: Fowl Goblin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.