Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Saftas laat per ongeluk 3 benoemings weg

Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF), wat jaarliks die Suid-Afrikaanse Rolprent-en-TV-pryse (Saftas) aanbied, het bekend gemaak dat drie inskrywings op die benoemingslys vir die 15de Saftas-toekenningsgeleentheid per ongeluk weggelaat is.

Jozua Malherbe, regisseur van ‘Griekwastad’, is ’n Safta-benoeming as beste regisseur ryker nadat sy naam glo weens ’n glips vroeër weggelaat is. Foto: Nasief Manie

Die NFVF, wat die benoemings Donderdag uitgereik het, het die benoemingslys as volg bygewerk:

  • Jozua Malherbe, regisseur van Griekwastad, is ingesluit in die kategorie vir beste regisseur van ’n vollengte rolprent. Netwerk24 het Donderdag berig dat Jenna Bass (Flatland), Louw Venter (Stam) en Sunu Gonera (Riding With Sugar) reeds benoemings in dié kategorie ontvang het.
  • Die kortprent Address Unknown sluit by Heirloom, The Stranger en Uxolile in die kategorie vir beste kortprent aan.
  • In die kategorie vir beste studente-rolprent kom Fowl Goblin nou ook te staan teen Binding Adventures, Flower in the Subway en The Boy and the Robin.

Die bywerkings beteken Griekwastad se benoemings styg van ses tot sewe; The Animation School, wat skoonskip in die kategorie vir beste studente-rolprent gemaak het, se benoemings neem van drie tot vier toe omdat hulle ook Fowl Goblin vervaardig het.

Neo Moretlwe, ’n NFVF-woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê die weglatings is weens ’n “onskuldige fout”.

• TV-kykers hoef nie bekommerd te wees dat daar enige weglatings in die kategorieë vir beste TV-aanbieder en beste TV-sepie of -telenovela is nie – dit is die twee kategorieë waarin kykers self gaan stem wie koning(in) moet kraai.

Portia Joel, wat die rol van Lee-Ann Jacobs in die sepie ‘Suidooster’ vertolk, is benoem in die kategorie vir beste byspeelster in ’n sepie. Kykers kan ook vir ‘Suidooster’ in die kategorie vir beste TV-sepie of -telenovela stem. Foto: kykNET

In die eersgenoemde kategorie kan kykers kies tussen die TV-aanbieders (1) Devi Sankaree Govender (The Devi Show), (2) Dineo Ranaka (Yimlo), (3) Entle Bizana (Hectic on 3), (4) Katchie Nzama (Come Again), (5) Katlego Maboe (Tropika Island of Treasure Curacao), (6) Palesa Tembe (Afternoon Express) en (7) Waldimar Pelser (KN Verslag in gesprek).

In die laasgenoemde kategorie is die opsies (1) 7de Laan, (2) Arendsvlei, (3) Binnelanders, (4) Durban Gen, (5) Getroud met rugby, (6) Gomora, (7) Imbewu, (8) Isibaya, (9) Isono, (10) Legacy, (11) Lithapo, (12) Rhythm City, (13) Scandal!, (14) Skeem Saam, (15) Suidooster, (16) The Queen, (17) The River en (18) Uzalo.

Skakel *120*32020# en kies die kategorie waarin jy wil stem. Kies dan die syfer langs die TV-aanbieder vir wie of -program waarvoor jy wil stem om jou keuse amptelik in te dien. Stemme moet apart in elke kategorie ingedien word. Bepalings en voorwaardes geld. Dit kos R1,50 per minuut; gratis minute geld nie. Die aanlyn stembus sluit op 19 Mei om 21:00.

Die Saftas word vanjaar op 22 Mei om 18:30 uitgedeel. Dit sal op DStv-kanaal 161 en S3, sedert 1 April SABC3 se nuwe naam, uitgesaai word.

Besoek www.nfvf.co.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.