Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SAG-pryse: 4 akteurs van kleur maak geskiedenis

Geskiedenisboeke is Maandag by die Screen Actors Guild-pryse herskryf toe al vier hoofpryse vir akteurs deur mense van kleur gewen is. HuffPost berig dit is die eerste keer in dié prysuitdeling se 27-jarige bestaan dat dit vermag is.

Die ontslape Chadwick Boseman en die Oscar-wenner Viola Davis het die prys vir beste akteur en beste aktrise gewen vir hul spel in die Netflix-drama Ma Rainey’s Black Bottom, terwyl Daniel Kaluuya in Judas and the Black Messiah en Youn Yuh-jung in Minari die pryse vir onderskeidelik beste byspeler en beste bespeelster ryker geword het.

“Ek weet nie hoe om my gevoelens te verwoord nie,” het Youn, die eerste Koreaan én Asiaat wat dié prys kon wen, oorbluf gesê. Sy het ook die eerste aktrise geword wat ’n prys vir ’n nie-Engelse rol kon wen.

“Ek is deur Westerlinge erken. Ek is werklik, werklik geëerd, veral omdat medeakteurs my as die beste byspeelster aangewys het. Ek weet nie, sê ek dit (byspeelster) reg? My Engels is nie baie goed nie. Ek is baie bly en gelukkig.”

Ma Rainey’s Black Bottom en Minari moes egter albei die knie voor The Trial of the Chicago 7 buig, wat die prys vir beste rolverdeling gewen het – die SAG-prys se weergawe van die Oscars se prys vir beste rolprent.

In die TV-kategorie is die pryse redelik gelykop uitgedeel: The Crown en Schitt’s Creek het albei twee pryse gewen, onder meer dié vir beste rolverdeling in ’n dramareeks en beste rolverdeling in ’n komediereeks.

Anya Taylor-Joy is vir die soveelste keer bekroon vir haar hoofrol in die Netflix-reeks The Queen’s Gambit, terwyl Mark Ruffalo ook weer ’n duim na bo gekry het vir sy hoofrol in I Know This Much Is True.

Die SAG-pryse is vanjaar vanuit die Shrine-ouditorium in Los Angeles aangekondig, maar meeste van die benoemdes het dit virtueel vanuit hul onderskeie wonings bygewoon.

Beroepswedders sal die wennerslys fyn bestudeer omdat dit oudergewoonte weer ’n kykie gee na wie in alle waarskynlikheid op 10 en 11 April, asook op 25 April met onderskeidelik ’n Bafta-prys en Oscar bekroon sal word.

Hier is die volledige wennerslys:

  • Beste akteur: Chadwick Boseman (Ma Rainey’s Black Bottom)
  • Beste aktrise: Viola Davis (Ma Rainey’s Black Bottom)
  • Beste byspeler: Daniel Kaluuya (Judas and the Black Messiah)
  • Beste byspeelster: Youn Yuh-jung (Minari)
  • Beste rolverdeling: The Trial of the Chicago 7
  • Beste waagtoertjies: Wonder Woman 1984
  • Beste akteur in ’n TV-rolprent of beperkte reeks: Mark Ruffalo (I Know This Much Is True)
  • Beste aktrise in ’n TV-rolprent of beperkte reeks: Anya Taylor-Joy (The Queen’s Gambit)
  • Beste akteur in ’n dramareeks: Jason Bateman (Ozark)
  • Beste aktrise in ’n dramareeks: Gillian Anderson (The Crown)
  • Beste akteur in ’n komediereeks: Jason Sudeikis (Ted Lasso)
  • Beste aktrise in ’n komediereeks: Catherine O’Hara (Schitt’s Creek)
  • Beste rolverdeling in ’n dramareeks: The Crown
  • Beste rolverdeling in ’n komediereeks: Schitt’s Creek
  • Beste waagtoertjies in ’n komedie- of dramareeks: The Mandalorian

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.