Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Samuels en Edkins vereer vir bydrae tot rolprentkuns
Die regisseur Enver Samuels, wat vereer is met ’n menseregteprys op die pas afgelope internasionale rolprentfees in Durban.

Drie nuwe toekennings is op die pas afgelope 42ste internasionale rolprentfees in Durban (Diff) se toekenningsaand die naweek bekendgemaak.

Die pryse, ingestel deur die sentrum vir die kreatiewe kunste (CCA) by die Universiteit van KwaZulu-Natal, dien die sentrum se strewe om “demokrasie, menseregte, sosiale geregtigheid, kunsopvoeding en toegang tot die kunste vir almal te bevorder”, het Ismail Mahomed, die direkteur van die sentrum, gesê.

Die rondreisende, plaaslike rolprentprojek Sunshine Cinema, wat gratis rolprentvertonings van Afrikaprente na gemeenskappe neem met ’n gepaardgaande opvoedkundige program, is met die eerste toekenning vir die bevordering van toegang tot die rolprentkuns vereer.

Don Edkins, vervaardiger van die Steps-reeks dokumentêre prente wat ’n spesiale verering op die afgelope internasionale rolprentfees in Durban ontvang het.

Die Kaapse rolprentvervaardiger Don Edkins se bekroonde Steps- dokumentêre programreekse het die opvoedkundeprys ontvang. Edkins het die reeks Steps for the Future in 2001 tot 2004 begin waarvolgens 38 prente oor MIV en Vigs geskep is. Daarna het ’n programreeks oor demokrasie, Why Democracy? gevolg, toe Why Poverty? en tans ontwikkel hy as deel van die Generation Africa-rolprentprogram ’n dokkie-reeks van 25 rolprente wat die fokus plaas op migrasie, ontheemding en die impak daarvan op jong Afrikane. Steps werk met 16 Afrika­lande saam om die dokkie-reeks oor migrasie te maak.

Die dokumentêre rolprentmaker Enver Samuels is vereer met die Diff-menseregteprys. Samuels ontvang die prys vir sy forensiese dokumentêre rolprente oor die politieke leiers Dulcie September (Murder in Paris) en Ahmed Timol (Someone to Blame - The Ahmed Timol Inquest), wat albei in sluipmoordaanvalle gesterf het. Samuels “heropen” die ondersoek na hul dood en belig die belangrikheid van die korrekte feite en konteks aangaande hierdie mense se dood. Sy Murder in Paris is ook as die beste dokumentêre prent op die fees vereer. Hy deel die prys met Jory Shank vir I Am Here. Dit handel oor ’n vrou wat die Jodeslagting oorleef het en diep in haar negentigs steeds mense bewus maak daarvan en ook versoening bepleit onder alle mense, ongeag herkoms of kultuur.

Die rolprentfees was vanjaar aanlyn en alle vertonings was gratis. Die Chinese regisseur Shi Xin se debuutprent, A Little Bird Reminds Me, wat handel oor die grootwordjare van ’n seuntjie wie se pa ’n skilder is en ma ’n aktrise, is aangewys as die beste internasionale rolprent op die fees en Xin die beste regisseur. John Gutierrez se misdaaddrama Sons of the Sea is die beste Suid-Afrikaanse rolprent op die fees. Dit het die onwettige handel in perlemoen as vertrekpunt en wys hoe ’n gesin uitmekaargeskeur word. Dit speel af in ’n Kaapse vissersgemeenskap.

Ander wenners is:

Beste akteur: Seounggyun An - My Son

Beste aktrise: Tsholo Maseko - Pusha Pressa Phanda

Beste draaiboek: My Son

Dapperheid in kunstenaarskap: Pusha Pressa Panda

Beste dokumentêr (internasionaal): Downstream to Kinshasa

Beste Suid-Afrikaanse kortprent: Shaka Inkosi Yamakhosi

Beste Afrika kortprent: What Did You Dream?

Beste kortprent: Ala Kachuu - Take and Run

Menseregteprys van Amnesty Durban: I, Mary

Rolprente word nog vandag 1 Augustus vertoon by durbanfilmfest.com.

Meer oor:  Enver Samuels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.