Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Scholtz vier 50 j. in die ‘moewies’

Die rolprentvervaardiger André Scholtz vier vyf dekades in die plaaslike rolprentbedryf en sy naam is aan talle droomprente soos Katinka Heyns se 'Die Wonderwerker' gekoppel. Hy het met Laetitia Pople oor sy liefde vir die 'moewies' gesels.

Die rolprentvervaardiger André Scholtz vier vanjaar 50 jaar in die plaaslike rolprentbedryf.

Saterdae in Koffiefontein se skemer “stadsaal” met die tjirrr van die 35-milimeter-projektor in sy ore het die veteraan-rolprentvervaardiger André Scholtz dolverlief op flieks geraak.

“Die stadsaal was elke Saterdagaand – behalwe as dit die volgende dag Nagmaal was – gepak. Ek het gereeld gaan fliek, maar nooit kon droom dat dit my lewe sou word nie,” sê Scholtz (74) wat vanjaar 50 jaar in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf vier.

Toorbos, sy jongste prent as vervaardiger, sal Saterdagaand die negende kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai afsluit.

Dit is ’n rolprentverwerking van een van Dalene Matthee se geliefde bosromans en die regisseur is René van Rooyen.

Scholtz was betrokke by seminale rolprente en televisiereekse in die bedryf. Sy heel eerste prent as vervaardiger was Liefste Veertjie, hy was onder meer die vervaardiger van Katinka Heyns se Die Wonderwerker, asook haar reeks gegrond op PG du Plessis se roman, Fees van die ongenooides, en van heelparty van Leon Schuster se vroeë prente.

Die Scholtz-gesin het in die 1950’s van Zambië, waar sy pa ’n mynwerker was, verhuis na Koffiefontein in die Vrystaat, waar hulle gaan boer het. Op die afgeleë plaas het hy hom verlustig in Afrikaanse fiksie – van Die Swartluiperd, die Fritz Deelman-avontuurreeks tot Die Buiter. Stories het so deel van sy lewe geword.

Nadat hy ’n BComm-graad aan Kovsies behaal het en ’n draai by ’n beleggingsmaatskappy gemaak het, het hy in 1969 sy naam as bestuurkwekeling by Kinekor opgegee. Hy het rolprente bemark en later aangekoop.

Dit is hier waar hy vervaardigers en regisseurs soos Boet Troskie, Elmo de Witt, Jan Scholtz, Dirk de Villiers, Albie Venter en talle ander ontmoet het.

Sandra Vaughn (links), Elani Dekker (middel) en 'n
Sandra Vaughn (links), Elani Dekker (middel) en 'n ekstraspeler in die rolprent 'Toorbos'.
Elani Dekker en Stiaan Smith in die rolprent 'Toor
Elani Dekker en Stiaan Smith in die rolprent 'Toorbos'.
Elani Dekker in 'n skermgreep uit die rolprent 'To
Elani Dekker in 'n skermgreep uit die rolprent 'Toorbos'.

“Hierdie ‘vertakking’ in die bedryf as ’n verspreider, het my lus aangewakker. Ek het later na vervaardiging saam met oorlede Elmo de Wit oorgeskakel. Liefste Veertjie was die eerste van oor die 30 rolprente waarby ek as vervaardiger betrokke was.”

Sy werk is soos die werk van ’n saaiboer, skerts hy. “Jy weet nooit of dit wat jy geplant het, ’n oes gaan oplewer nie. Jy moet hare op jou tande hê.”

Die regering moes nog altyd die bedryf ondersteun en dit maak sake kwesbaar. “Destyds toe Jamie Uys se prente al die subsidie vir die een jaar opgeslurp het, moes ander vervaardigers met leë hande omdraai. Weens die departement van handel en nywerheid se versuim om betyds die groen lig te gee het dieselfde vanjaar gebeur. Verskeie rolprente kon nie vervaardig word nie.”

Onsekerheid is steeds die grootste struikelblok in die rolprentbedryf.

“Ondanks die volgehoue ondersteuning van kykNET en M-Net, voorsien ek uitdagende tye vorentoe vir die Afrikaanse rolprentbedryf. Ons sal moet aanpas en produkte vervaardig wat sterker op die mark gerig is en bekostigbaar vervaardig kan word.”

Ondanks die volgehoue ondersteuning van kykNET en M-Net, voorsien ek uitdagende tye vorentoe vir die Afrikaanse rolprentbedryf. Ons sal moet aanpas en produkte vervaardig wat sterker op die mark gerig is en bekostigbaar vervaardig kan word.
André Scholtz

Hy is veral besorg oor die gebrek aan rolprente wat die hier en nou in Suid-Afrika belig. “Die meeste van die prente op die Silwerskermfees is verwerkte draaiboeke van romans van die verlede. Waar is die fokus op Suid-Afrika nou? Dit is tog dringend nodig?”

Oor die jare het sy paaie gekruis met verskeie mense wat waarde tot sy lewe en loopbaan toegevoeg het. “Die meerderheid is skeppende siele, omdat jy werklik saam met elke regisseur ’n nuwe projek van die grond af moet begin bou, is dit maande, soms jare, se samesyn. Die behoefte om ’n goeie rolprent te vervaardig bly staan.”

In die beginjare was die samewerking veral met manlike regisseurs soos Elmo de Witt, Jan Scholtz, FC Hamman, Gray Hofmeyr en David Lister. Die twee met wie hy die meeste saamgewerk het, is Leon Schuster en Koos Roets. “Die sakke sout saam met dié twee was elke korrel die moeite werd.”

Eers heelwat later was dit hom beskore om saam met vroueregisseurs te werk. Hy sonder Katinka Heyns uit saam met wie hy aan PG du Plessis se reeks Fees van die ongenooides asook Die Wonderwerker gewerk het.

“Die projek wat egter die moeilikste was en waar ek weer soveel respek vir Katinka gekry het, was PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Dit was 13 weke in Standerton in die diepwinter met uitdagende draaiboeke en dan was dit nog boonop ’n periode-projek. Ek salueer almal wat by daardie reeks betrokke was.”

Hy mis die kuiers saam met sy vriend PG, wat verlede jaar oorlede is. “Ek het PG deur die jare leer ken en gereeld vir hom op sy plaas buite Ventersdorp gaan kuier. Baie keer saam met Koos Roets en Marida Swanepoel. Dan het ons elke keer ’n hond uit ’n bos oor moontlike projekte gesels. Ek mis daardie kuiers met ’n seer hart.”

Saam met Roets en PG het hy drie televisiereekse vervaardig, Andries Plak, Dryfsand en Pandjieswinkel. Dryfsand het ’n hele paar ATKV Veertjietoekennings gewen.

’n Paar jaar gelede het die regisseur Hanneke Schutte hom gevra om saam met haar Meerkat Maantuig aan te pak. Die prent het ná sy eerste vertoning op die Silwerskermfees gevlieg en het wyd oorsee pryse verower. “Ek beskou dit tot vandag toe as ’n groot eer dat sy my gevra het. Ek het my seun Dries betrek. Hulle twee verteenwoordig die jonger geslag rolprentvervaardigers en praat ’n taal wat by tye vir my vreemd is. Die eindproduk is een om op trots te wees.”

Sy seun was ook die lynvervaardiger van die prent.

Die plakkaat van Toorbos, André Scholtz se jongste rolprent.

Dit was die dramaturg Peet van Rensburg wat Toorbos in sy hand gestop het met die woorde: “Nou dít is ’n rolprent.”

“Ek het dit gelees en by Jan du Plessis van kykNET gehoor dat René van Rooyen reeds met die projek begin het. Ek het saam met Dries, wat by tye saam met René die wa deur die drif moes trek, aan boord gekom. Daar is met min geld ’n moeilike periode-rolprent, waarvan die helfte in die Knysnawoud verfilm is, vervaardig.”

Hy werk as medevervaardiger saam met Valente Bosch aan navorsing vir twee projekte, waarvan een die komedie Skaapboer is. Dit handel oor ’n bruin man wat sy werk in ’n bank verloor en besluit om ’n skaapboer te word – in die stad. Hulle wag nog op die groen lig van die departement van handel en nywerheid.

Dan gee hy lesings aan die rolprent-en-teaterskool AFDA in Port Elizabeth. Die studente inspireer hom elke dag. “Daar is soveel talent en so ’n groot behoefte om stories te vertel. Dit mag nie afgeskeep word nie, maar dit moet gekoester en beskerm word. Hier is ’n oormaat kreatiewe talent – en nie net in Afrikaans nie.”

  • Toorbos, wat op 24 Augustus op die kykNET Silwerskermfees vertoon word, ding mee met vyf ander prente. Dit word vroeg volgende jaar landwyd uitgereik.
Meer oor:  Silwerskerm19  |  Toorbos  |  Silwerskermfees  |  Fliek  |  Dalene Matthee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.