Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Rasse-onsensitief? Schuster ‘geskok’ ná Showmax sy flieks verwyder

Die stromingsdiens Showmax is tans besig om ten minste ses Leon Schuster-rolprente in sy katalogus te hersien vir inhoud wat moontlik “rasse-onsensitief” kan wees.

Leon Schuster in die 2013-rolprent, ‘Schucks! Your Country Needs You’. Foto: Argief

Volgens Richard Boorman, Showmax se kommunikasiehoof, het die stromingsdiens hangende dié hersiening vroeër vandeesweek reeds al ses Schuster-rolprente as “voorsorgmaatreël” verwyder.

Hieroor, sê die grapjas Schuster, is hy “hartroerend ontsteld”.

Die rolprente is You Must Be Joking! (1986), You Must Be Joking! Too (1987), Oh Schucks… It’s Schuster! (1989), Sweet ’n Short (1991), Schuks! Pay Back the Money (2015) en Frank and Fearless (2018).

“Ek kan nie sê hoe lank die hersieningsproses gaan duur of wat die uitkoms daarvan gaan wees nie, maar ek kan sê ons gaan na ons hele katalogus kyk,” sê Boorman.

Netwerk24 het Saterdag berig dat stromingsdienste soos Netflix en BBC iPlayer reekse soos Little Britain, The League of Gentlemen en The Mighty Boosh weens wit akteurs se rassistiese vertolkings van swart karakters – sogenaamde blackface – uit hul katalogusse geskrap het. Dié stap volg kort op die dood van George Floyd en die wêreldwye #BlackLivesMatter-betogings wat onlangs onder meer rassistiese uitbeeldings van swart mense in die media aan die kaak gestel het.

Netwerk24 het Showmax – nog vóór die ses Schuster-rolprente verwyder is – oor soortgelyke stappe in hierdie verband genader en in een asem onder meer gevra hoekom Schuster se rolprent Mama Jack (2005), waarin die grapjas ’n swart vrou vertolk, stil-stil uit Showmax se katalogus verdwyn het.

Showmax het dié vrae na MultiChoice verwys, wat op hul beurt via Benedict Maaga, senior bestuurder: korporatiewe kommunikasie, in die breë gesê het die MultiChoice-groep het met betrekking tot rassistiese inhoud ’n beleid van geen verdraagsaamheid. Hy het ook gesê die groep het in die verlede ook inhoud met “onaanvaarbare uitbeeldings van rassistiese vooroordele” verwyder, maar hy het nie spesifiek na Mama Jack of enige ander Schuster-inhoud verwys nie.

Netwerk24 het Showmax kort daarna weer genader toe die ses Schuster-rolprente intussen ook verdwyn het. Boorman het toe die hersiening en verwydering van Showmax-inhoud aan Netwerk24 bevestig en gesê dié besluit is geneem om saam te val met stappe wat by stromingsdienste in die buiteland gedoen word.

“In dié geval het ons al die Leon Schuster-inhoud as voorsorgmaatreël verwyder, hangende ’n hersiening om te verseker dit bevat geen rasse-onsensitiewe inhoud nie.

“Soos Benedict (Maaga) voorheen gesê het: Die MultiChoice-groep is hewig gekant teen rassisme en vooroordeel, en het inhoud in die verlede al op grond van onaanvaarbare uitbeeldings van rassistiese vooroordele verwyder.”

Ek kom al so lank aan met my tipe komedie. Ek kan nie glo dat die inhoud van my rolprente enigsins skade doen nie. Dit is doodonskuldig. Ek prank mense net.
Leon Schuster

Boorman en Maaga het talle vrae onbeantwoord gelaat, onder meer watter ander inhoud buiten dié van Schuster verwyder is, wie die hersiening van spesifiek die Schuster-rolprente behartig, en die rede hoekom Mama Jack én Schuster se 2001- en 2008-rolprent, onderskeidelik Mr. Bones en Mr. Bones 2: Back from the Past, een of ander tyd in die verlede uit Showmax se katalogus verdwyn het.

Schuster reageer

Schuster het Vrydag aan Netwerk24 gesê hy is “geskok” en “hartroerend ontsteld” om te hoor dat sy rolprente tans deur Showmax hersien word.

“Ek kom al so lank aan met my tipe komedie,” sê Schuster, wat die afgelope sowat vier dekades bekend is daarvoor dat hy homself onherkenbaar vermom, ook as bruin, Indiër- en swart karakters.

“Ek kan nie glo dat die inhoud van my rolprente enigsins skade doen nie. Dit is doodonskuldig. Ek prank mense net.”

Schuster sê hoewel hy begrip het vir Showmax se besluit, veral in die konteks van #BlackLivesMatter, het hy “nog nooit in my hele loopbaan ’n enkele woord van ’n fliekganger gehoor wat vra hoekom ek blackface doen nie. My Indiër-karakter was ’n ongelooflike groot trekpleister en niemand het ooit vir my gesê ek maak my naam gat of is besig om rassisties te wees nie.”

Schuster is in 2018 in ’n onderhoud in die Sunday Times beskryf as die “father of blackface” in Suid-Afrika. Hy sê aan Netwerk24 dié beskrywing “is ’n feit”, maar hy doen dit nie om rassegroepe te verneder nie – eerder om Suid-Afrikaners van alle rasse aan die lag te kry.

“Niemand anders het dit (blackface) nog op dié manier gedoen soos ek nie, maar ek’s darem ook redelik intelligent. As ek geweet het hierdie ding het mense kwaad gemaak, sou ek dit nie gedoen het nie. As ek mense te na gekom het, vra ek hulle om verskoning. Ek is regtig jammer.”

Meer oor:  Netflix  |  Multichoice  |  Blackface  |  Showmax  |  George Floyd  |  Fliek  |  Leon Schuster  |  Tv  |  #Blacklivesmatter  |  Black Lives Matter  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.