Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Sean-Marco se kop in die wolke

Hy vertolk die manlike hoofrol in die fliek Vergeet my nie, maar Sean-Marco Vorster bestee eintlik veel meer tyd agter as voor die kamera. Maretta Bellingan het met hom gesels.

Sean-Marco Vorster, wat die hoofrol speel in Vergeet my Nie, wat vandag in teaters begin wys.

Hy stuur ’n boodskap om te laat weet hy gaan dalk effe laat wees, hy sukkel om parkering te kry. Nogal goeie maniere vir ’n ou wat my laaste drie e-posse geïgnoreer het, dink ek, maar ’n wyle later vra hy plegtig om verskoning.

“Ek’s regtig verskriklik jammer, ek was wild besig die laaste paar weke. Ek was in Johannesburg om ’n sonbril-advertensie te vervaardig, ’n ou vat nie grond nie.”

Voor daai paar groen oë swig jy maklik en vergewe hom ewe vinnig.

Hy’s steeds (amper) heeltyds agter die kamera, erken die 28-jarige vervaardiger, regisseur en akteur.

“Die ideaal is om minstens een keer per jaar werk as akteur te doen.”

Nee, dit was nie noodwendig op sy wenslys om die rol van ’n hartebreker te vertolk nie, erken die man wat tans die skoene van die romantiese held in die fliek Vergeet my nie vol staan. “Ek sien nie myself as die Ryan Gosling-hartebreker-tipe nie, maar ek’s baie dankbaar dit het op my pad gekom.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Eerstens het ons baie gereis. Kaapstad, Johannesburg, Londen, Namibië en dan die yskoue Potch,” lag hy. “Maar dis ’n groot verantwoordelikheid as die sukses van die storie in ’n groot mate op jou en jou medester se karakters staatmaak.

“Wanneer ek vervaardig voel ek glad nie so weerloos nie, maar dis ook wanneer die magic gebeur.”

Ware liefde

Die rolprent is gebaseer op die ware Huisgenoot-liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks. “Dis nogal ’n ongewone verhaal, nie die voorspelbare “boy meets girl and they live happily ever after” nie. Dis ’n diep verhaal wat al die fasette van om iemand lief te hê, insluit,” sê Sean-Marco, wat ’n splinternuwe liefde in sy lewe het.

“Ons het ’n paar maande gelede deur vriende ontmoet. Haar naam is Lara en ja, sy maak my knieë lam. Sy gee my ’n rustigheid wat ek nog nooit tevore ervaar het nie. Dis asof ek haar al lankal ken, maar eers onlangs ontmoet het.

“Sy loop kaalvoet, is plat op die aarde en sy voel soos huis.”

Sy bondgenoot in Vergeet my nie is die aktrise Marguerite van Eeden. “Ons het nie mekaar geken nie, maar het dadelik gekliek. Marguerite is energiek en gemaklik in haar anders wees.”

Hy beskryf die karakter wat hy vertolk as ’n ware plaasjapie wat sommer kaalvoet en kaalbolyf in Londen rondloop. “Maar daar’s ’n rede vir sy soms vreemde gedrag. Hy fokus op een ding en dis om genoeg te spaar om sy eerste bakkie te kan koop. Ou Hugo is ook effe lomp op die liefdesgebied.”

Diegene wat hom onthou as Nico, die karakter wat hy verlede jaar in die televisiereeks Alles Malan vertolk het, sal twee keer kyk.

“Ek het ’n welige baard gekweek en my hare is ook langer. Ek moes ook vir ’n goeie twee maande verbete in die gimnasium oefen, die régte Hugo is ’n ou met ’n behoorlike sespak.

“Hugo is ’n baie rustige en geduldige ou, ek’s meer van ’n stadsjapie,” sê Sean-Marco, wat in die Paarl grootgeword het waar hy in Boys’ High saam met die Springbokrugbyspeler Frans Malherbe in die klas was.

“Ek was maar ’n taamlike handvol. My arme ma,” grinnik Sean-Marco, die oudste van drie kinders. “Ek was ’n soet-stout seun, altyd gekyk hoe ver ek realiteit kan buig. My energievlakke was hemelhoog,” sê die voormalige voorsitter van die skool se geeskomitee.

In matriek het hy ’n rol in die rolprent Lyfstraf vertolk en kort daarna by die Afda-filmskool ingeskryf.

“Dis waar ek besef het ek geniet die proses rondom die máák van ’n produksie,” sê Sean-Marco, wat aanvanklik trouvideo’s gemaak en heel toevallig in die advertensiebedryf beland het.

Die advertensiewêreld

Oor die afgelope agt jaar het hy dosyne advertensies gemaak en werk gereeld in Afrikalande soos Nigerië, die Kongo, Kenia en Tanzanië.

In 2019 was hy onder meer die regisseur van die Coke-advertensie wat spesiaal gemaak is vir die Afrikanasiesbekertoernooi (Afcon) in Afrika.

“Om ’n advertensie te maak moet jy senuwees van staal hê, want jy maak as’t ware ’n minirolprent en jy moet jou hele storie in 60 sekondes vertel.

“Dis ’n goeie manier om my ambag te bemeester. My groot ideaal is om eendag my eie rolprente te maak, maar ek is baie geduldig. Dinge gebeur nie oornag nie.”

Hy’s baie lief vir toneelspel, maar erken hy wil nie daarvan afhanklik wees om sy huur te betaal nie.

“Al het ek nie op die oomblik ’n vaste adres nie,” voeg hy vinnig by. “Ek bly tans vir ’n paar maande vir werk in Johannesburg, maar my hart is altyd in die Kaap.”

Die akteur erken hy’t nie regtig stokperdjies nie, maar is mal oor dans.

“Techno-plaaspartytjies. Dit gebeur oral in die Wes-Kaap. Jy gaan kampeer vir ’n naweek, skud heupe, trap stof en swem in die dam. Dis die wildste ding wat ek doen, altans wat ek met jou kan bespreek,” terg die man wat erken hy kan soms lekker loskop wees.

“My kop is die meeste van die tyd in die wolke; ek soek altyd na die magic. Ek wil nooit ophou kind wees nie.”

Meer oor:  Vergeet My Nie  |  Sean-Marco Vorster  |  Regisseur  |  Akteur.  |  Vervaardiger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.