Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Dié stomp potlode se rooftog is

 

Logan Lucky met Channing Tatum en Daniel Craig. Regisseur: Steven Soderbergh.****

Hoor ek jou nou reg, swaer? Jy wil ’n bank beroof omdat jou salaris te min is? Geen probleem nie! Hier is goeie raad uit Logan Lucky vir die volmaakte bankroof wat jy saam met die ys in jou whiskeyglas kan rondskommel en oor mediteer.

Nommer 1: Jy moet ’n plan hê. (2) Jy moet ook ’n plan B hê. (3) Jou kommunikasielyne moet oop wees. (4) Kies jou medediewe noukeurig. (5) Verwag die onverwagse. En onthou: (6) Bollie gebeur!

Die onoortreflike regisseur van die reeks Ocean’s 11, 12 en 13, wat weer ’n goeie naam aan seks gegee het in Sex, Lies and Videotape, Steven Soderbergh, neem ’n doodgewone diefstalstorie en laai dit so dik met subteks dat jy dit op ’n roomyshorinkie wil omkeer. Dit is die uitstekende Baby Driver se slimmer ouboet, maar oorspronkliker.

’n Steenkoolmyner wat ontslaan is en sy broer met net een arm besluit om ’n rooftog in die tonnels onder ’n motorrenbaan uit te voer. Eintlik ondersoek Soderbergh Amerikaanse klasseverskille terwyl hy oor die rooftog lag. Hy bekyk doodgewone mense en oorlogsveterane wat deur hul land weggesmyt is, en hul stryd om te oorleef. Die fliek kyk met deernis na hoe mense met liggaamlike gestremdheid ’n gewone lewe probeer voer.

Adam Driver speel die broer wat sy arm in ’n oorlog verloor het en as kroegman werk. (Kyk bietjie hoe behendig hy drankies meng!) Sy humor teenoor middelklas-jafels drup van die suur, en hy laat hom nie deur boelies onderkry nie. Sy land het hom in die steek gelaat, nou probeer hy in Trump se nuwe Amerika, steeds met dieselfde probleme, oorleef.

Hy is lief vir sy broer wat die gevaar loop om sy dogtertjie ná ’n egskeiding te verloor. Deel van die broer se motivering vir die diefstal is om vir sy kind te sorg.

Verlore siele aan die verkeerde kant van die dorp word saam met die broers met soveel empatie ontleed, dat die newestories interessanter raak as die diefstal. Moenie nog ’n Ocean’s 11 verwag nie. Dink aan Sex, Lies and Videotape met ’n knippie Magic Mike en ’n teelepel Out of Sight in. Soderbergh se styl is koel en onderspeel, en hy verkeer in dieselfde geselskap as sy rolprentbroers, die sonderlinge Wes Anderson en die heerlike mal-soos-hase-Coen-broers, maar sy Logan Lucky is meer toeganklik. Jy hoef nie sy styl te ken om hierdie komedie te waardeer nie. Jy hoef ook nie op ’n Coen-broer-kursus te gaan voordat jy gaan kyk nie! Geniet dit net vir wat dit is: snaakser as jou beste pel se lomp optelpogings as hy ’n meisie probeer sjarmeer.

Soderbergh spot met potlode wat nie baie skerp is nie, soos twee mede-rowers wat alle logika oorboord gooi. Daniel Craig is in die rol van ’n rower met Atomic Blonde- gebleikte hare wat die roof van binne die tronk help beplan. Net die manier waarop Craig verduidelik dat hy nie ’n kluis vanuit die tronk kan oop skiet nie, is kostelik.

Soderbergh weet hoe om akteurs te regisseer. Channing Tatum is gemaklik as ’n doodgewone ou wat nie bewus is van hoe aantreklik hy is nie (sonder die Tom Cruise-glimlag!) en wat ’n verloorder speel wat net probeer oorleef. Hy is op pad na die potloodskerpmaker, maar die skerpmaker se slinger wil nie draai om die skille om sy lood af te skil nie.

Driver verdien ’n Oscar. “Gee terug my arm!” skree hy aan Craig wat op sy beurt ’n vroulike bestuurder waarsku dat hy nou sy broek gaan uittrek, maar dat sy nie mag koekeloer nie. En tog doen sy dit! Dit is hierdie rare sjampanje-oomblikke wat die rolprent so bitter snaaks maak. Dit is eksentrieke knipoog-komedie.

Die baldadige rolprent vol kwinkslae en aweregse komedie is so lekker soos ’n garage-paai voor die sooibrand. Die humor het ’n IK wat jou soos ’n sterk dop net ná die eerste sluk tref, en clichés kry opnuut betekenis.

Rolprentreëls word met mening verbreek en die belaglike word alledaags.

Gaan kyk hoe die snaaksste ghriesapies uit Spanner Valley ’n rooftog aanpak, en voel hoe jou komedie-vonkproppe penorent staan van pure lekkerkry.

Nuwe flieks

The Dark Tower **
Ai, wat ? teleurstelling wat soos ? ewigheid voel. Sommige regisseurs, soos Frank Darabont en Stanley Kubrick, weet hoe om Stephen King se boeke te verskraal en kundig vir die silwerdoek aan te pas, maar Nikolaj Arcel is nie een van hulle nie.

Idris Elba probeer as die vasbeslote Roland om te keer dat die donker man, eentonig vertolk deur Matthew McCo­naughey, die donker toring laat tuimel, want dan stort die heelal ineen. Waar ’n mens nog in King se vorige rillers aan die vergesogte kon glo, bevredig dié deurmekaar vermenging van wetenskapfiksie en ? western nie. 


The Exception ****
Dit is selde dat ? donker kunsfliek oor ? oorlog vir ? meer uitgebreide gehoor aanbeveel kan word, maar hierdie een is meer toeganklik, al beweeg dit stadig.

Die vertelstyl word versterk deur veral Jai Courtney se gesaghebbende spel as ? soldaat wat ? Nederlandse spioen in die Tweede Wêreldoorlog moet uitsnuffel. 

Die atmos­feer is benouend en dreigend, die karakterisering, veral van Christopher Plummer as die keiser formeel, en verbode romanse word sonder melodrama of oordadigheid oorgedra. 

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  The Dark Tower  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.